Uit die geskiedenis blyk dit dat die Toyota 1000-Woestynren die gelykmaker is wanneer dit by die stryd om die algehele en klaskampioenskaptitels in die Absa-Veldrenkampioenskap kom.
Kampioenskapvoorlopers wat doodseker van hul posisies is, word maklik onttroon terwyl diégene met nog net ’n tikkie hoop skielik vind dat hulle ’n reuse-sprong op die punteleer gemaak het nadat hulle een van die taaiste byeenkomste op die kalender voltooi het.
Vanjaar was geen uitsondering nie en dit is veral in die Spesialevoertuigkategorie waar die meeste veranderings plaasgevind het.
Die Nashua Mobile-span, Terence Marsh en Michael Whitehouse, was voor op die punteleer van die Spesialevoertuigkampioenskap, maar dit was van korte duur nadat hulle nie die ren in Botswana kon voltooi nie. Dit het die huidige Spesialevoertuigkampioene en wenners van die Toyota 1000 vir die tweede agtereenvolgende jaar, Atang Makgekgenene en Buks Carolin (Total-Jimco), toegelaat om van die agtste posisie tot die eerste plek op te skuif. Marsh en Whitehouse is nou vyf punte agter die voorlopers en in die tweede posisie.
Die Nissan-Sugarbelt 400-wenners, Gary Bertholdt en Siegfried Rousseau (Advansoft iBurst-BAT) het met die aanvang van die laaste dag gereken dat hulle die Toyota 1000-oorwinning agter hul name kan skryf, maar ’n beheerarm voor het gebreek en hulle verplig om te onttrek. Hulle is nou 15 punte agter die voorlopers.
Die span wat die meeste veld gewen het, is die huidige Klas B-kampioene, Marcus Taylor en Marc de Chalain (JRE) wat vierde algeheel in Botswana geëindig het. Dié span het van die 14de posisie tot die vierde plek op die kampioenskappunteleer opgeskuif en is nou vyf punte voor Evan Hutchison en Trevor Ormerod (Motorite-BAT) in die Klas B-kampioenskap.
Drie spanne deel die vyfde posisie in die algehele kampioenskap. Shameer Variawa en VZ van Zyl (Total-Porter) was tweede algeheel tydens die Toyota 1000 en het daarmee 19 punte verdien wat hulle met John Moore en Graham Maclachlan (Connix-Chenowth) en Will Battershill en Reg Sutton (Jimco) gelykstaande maak.
Die uiters bestendige Giel Nel en Peter Newbery (Bosal Luk ATE-Zarco) het stilweg vyf posisies opgeskuif en is agtste algeheel en net vier punte agter Taylor en De Chalain. Nel het al bewys dat hy oor die vermoë beskik om op ’n gereelde basis punte in te samel en met die titel weg te loop – soos hy in 2003 gedoen het.
Evan Hutchison en Trevor Ormerod se voorloperposisie in die Klas B-kampioenskap het ontydig geëindig. ’n Versnellerklapbout het losgekom en terminale skade aan die Nissan-enjin aangerig. Dit het hulle duur te staan gekom deur nie die Toyota 1000-ren te begin nie en hulle het van die vyfde tot die negende posisie algeheel teruggesak. John Thomson en Clinton McNamara (Mormond-Zarco) deel die negende posisie met die Motorite Racing-span.
Absa-Spesialevoertuigkampioenskap – Algehele Punte
1. Makgekgenene/Carolin (Jimco) 40; 2. Marsh/Whitehouse (BAT) 35; 3. Bertholdt/Rousseau (BAT) 25; 4. Taylor/De Chalain (JRE) 21; 5. Moore/Maclachlan (Chenowth) 19, Battershill/Sutton (Jimco) 19, Variawa/Van Zyl (Porter) 19; 8. Nel/Newbery (Zarco) 18; 9. Hutchison/Ormerod (BAT) 17, Thomson/McNamara (Zarco) 17.
Gebaseer op hul huidige vertonings, is die kanse dat enige iemand Hannes Grobler en Francois Jordaan (Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody) van hul Produksievoertuigkampioenskaptroon sal kan onttroon, skraal. Die Nissan-handelaars 400-wenners het 56 punte ingesamel en hulle is 21 punte voor hul naaste teenstanders, Gavin Cronje en Robin Houghton (Castrol-Toyota Hilux 2,7i).
Die Castrol-Toyota-span het derde algeheel tydens die Toyota 1000 geëindig en het van die vyfde tot die tweede posisie in die kampioenskap opgeskuif alhoewel hulle slegs ’n enkele punt voor Manfred Schröder en Alec Harris (Span Ford Racing Ranger) en Henri Zermatten Bodo Schwegler (Mastercraft Ryobi-Mitsubishi) is wat tweede algeheel in Botswana klaargemaak het.
Zane Pearce en Hennie Vosloo (Castrol-Toyota Hilux 2,7i) is vyfde algeheel en die nuwe Klas E-voorlopers nadat Hugo en Jaap de Bruyn (Castrol-Toyota Hilux 2,7i) nie die eindstreep in Botswana kon haal nie. Die Nissan-Sugarbelt 400-wenners, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer (Span Ford Racing Ranger) het nie aan die laaste twee rondes van die Absa-Veldrenkampioenskap deelgeneem nie en het verder op die punteleer afgeskuif en bekleë nou die sesde plek.
Alfie Cox en Ralph Pitchford se eerste algehele oorwinning tydens die Toyota 1000 het hulle van nêrens tot die sesde plek laat opskuif en hulle deel dié posisie met Woolridge en Skjöldhammer terwyl hulle 31 punte agter hul spanmaats, Grobler en Jordaan, is.
Die De Bruyns het van vierde tot agtste op die algehele punteleer teruggeval en is tweede in Klas E terwyl hulle net drie punte voor die broers, Mark en Stuart Moffat in die Bosal Brospeed-Land Rover is. Die Moffats is een van vyf spanne wat dit kon regkry om al die byeenkomste vanjaar te voltooi.
Die Polokwane-gebaseerde broers, Jurie en André du Plessis (BB Auto-Nissan Hardbody) rond die top tien af.
Absa-Produksievoertuigkampioenskap – Algehele Punte
1. Grobler/Jordaan (Nissan) 56; 2. G. Cronje/Houghton (Toyota) 35; 3. Schröder/Harris (Ford) 34; Zermatten/Schwegler (Mitsubishi) 34; 5. Pearce/Vosloo (Toyota) 26; 6. Woolridge/Skjöldhammer (Ford) 25; Cox/Pitchford (Nissan) 25; 8. De Bruyn/De Bruyn (Toyota) 21; 9. Moffat/Moffat (Land Rover) 18; 10. Du Plessis/Du Plessis (Nissan)