Na ‘n vergadering laasweek in Gaborone tussen Toyota se bestuur, die MSA Veldrenvoertuigkommissie, die Four Wheel Drive-Klub van SA en Botswana Motorsport, is dit duidelik dat daar groot veranderings vir die jaarlikse Toyota 1000-Woestynren, vanjaar die derde ronde van die 2004-SA Veldrenvoertuigkampioenskap, beplan word.
Van die belangrikste items op die agenda het rondom beter toeskouerbeheer gekonsentreer, die skep van ‘n meer toeskouer-vriendelike roete, beter toegang na die sentrale dienspunt by Mantshwabisi vir beheerbeamptes, diensspanne en die media en die verbetering van betrekkinge tussen die twee organiserende klubs terwyl die motorfiets- en vierwielmotorfietsjaers na ‘n afwesigheid van drie jaar weer aangemoedig word om na Botswana terug te keer.
‘n Groot verskil van vorige byeenkomste is dat deelnemers, diensspanne, die media en toeskouers nie meer by Mantshwabisi sal oornag nie, maar na die oornagpunt by Botswana Motorsport as basis op die Francistown-pad sal terugkeer.
“Botswana Motorsport as basis is veilig, goed toegerus met ablusie- en spysenieringsfasiliteite en spanne sal die keuse hê om op die terrein te kampeer of na hul hotelle in die stad terug te keer,” het Rashid Noble van Botswana Motorsport gesê. “Daar is ‘n dienspuntkompleks wat netjies uitgelê is, ‘n stadionbaan van 1 km, genoegsame parkering vir toeskouers en slegs voetgangertoegang sal binne die klubomgewing toegelaat word.”
Die Four Wheel Drive-Klub en Botswana Motorsport sal kragte saamspan om ‘n roete uit te lê wat nie net ‘n toets vir spanne en hul voertuie sal wees nie, maar wat ook aanskoulik vir die duisende toekouers wat dié byeenkoms van die begin tot die einde volg, sal wees.
“Gedeeltes van die roete vir vanjaar se Toyota 1000-Woestynren sal dieselfde wees as die vorige jaar, maar ons beplan om meer klem daarop te lê om die aksie so na as moontlik aan toeskouergebiede te bring en om toegang tot dié punte te verbeter,” het Bill Viljoen van die Four Wheel Drive-Klub van Suidelike Afrika gesê.
“Die Four Wheel Drive-Klub van Suidelike Afrika sal opleidingseminare vir lede van Botswana Motorsport en die verkeersowerhede hou om groter plaaslike betrokkenheid in die organisering van die byeenkoms aan te moedig en om te verseker dat hulle goed toegerus is om met die menigtes te deel,” het Viljoen bygevoeg.
Die motorfiets- en vierwielmotorfietsgemeenskap was nog altyd ‘n gewilde faktor van die Toyota 1000-Woestynren en die toeskouers het hulle die afgelope drie jaar gemis.
“Die MSA Veldrenvoertuigkommissie sal die motorfiets- en vierwielmotorfietsgemeenskap aanmoedig om na Botswana terug te keer en ons is reeds besig om samesprekings met die MSA Veldrenkommissie vir Motorfietse en Vierwielmotorfietse te voer,” het die President van MSA se Veldrenkommissie vir Voertuie, Piet Swanepoel, gesê. “Ons glo dat die veranderinge aan die byeenkoms se formaat asook aan die roete as genoegsame aansporing sal dien dat hulle na Botswana sal terugkeer, al is dit op ‘n uitnodigingsbasis in 2004 gesien in die lig dat die kampioenskapskalender reeds gefinaliseer is.”
Die Toyota 1000-Woestynren sal weer eens by Game City gebaseer wees en dokumentasie, vooraf-voertuigondersoeke, die begin en einde van die byeenkoms sal hier plaasvind.
Die aksie begin met ‘n voorren op Vrydag, 11 Junie, om die wegspringvolgorde vir die hoofren wat op Saterdag, 12 Junie, sal begin, te bepaal.. Deelnemers sal Saterdag op ‘n roete van 250km na die aangewese dienspunt by Mantshwabisi vertrek voordat hulle met ‘n ander 250km-roete na Botswana Motorsport sal terugkeer. Dié roetes sal Sondag herhaal word en die spanne sal by Botswana Motorsport wegspring en by Game City eindig. Die moontlikheid van ‘n bykomende dienspunt halfpad na Mantshwabisi en halfpad op die roete terug na Gaborone word tans ondersoek.
“Die Toyota 1000-Woestynren word as Botswana se grootste sportbyeenkoms gesien en is ook ‘n belangrike bemarkingsplatform vir Toyota in Suid-Afrika en Botswana,” het Toyota Suid-Afrika se vise-president van Bemarking en Kommunikasie, Francois Loubser, gesê. “Dit is verblydend om te sien dat die probleme van die verlede aangespreek is en ons glo dat die verbeterde verhouding tussen die Four Wheel Drive-Klub van Suidelike Afrika en Botswana Motorsport vrugte sal afwerp.”