Die 43-jarige Henri Zermatten se jeugdige voorkoms is misleidend en dit feit is dat hy reeds van die ouderdom van 19 by veldrenne betrokke is.
Dié pa van twee seuns het in 1969 by die sport betrokke geraak toe hy as negejarige met die voorbereiding van sy pa, Han, se veldrenvoertuig gehelp het en tien jaar later het hy sy rendebuut as ‘n jaer in die Maseru-Marauder tydens die Dak van Afrika gemaak.
Vanjaar is sy 25ste seisoen van mededingende veldrenne en saam met sy navigator, Bodo Schwegler, is hulle tans derde in Klas D in die Absa-Veldrenkampioenskap in die Mastercraft/Playstation-Pajero.
Van 1980 tot 1987 het Zermatten met verskeie voertuie deelgeneem en kon hy dit regkry om ‘n 73 %-podiumklaarmaakrekord te behaal terwyl hy in 1988 fabrieksondersteuning van Toyota gekry het en na elke ren op die podium klaargemaak het, die klaskampioenskap gewen het en nasionale kleure vir sy prestasies ontvang het.
Nadat hy vir agt jaar nie deelgeneem het nie, het hy weer met ‘n Mitsubishi Pajero begin deelneem en in 2002 het hy tweede in die Klas D-kampioenskap geëindig.
“Die sleutel tot ons bestendigheid en volgehoue sukses, is goeie voorbereiding en dit is iets wat my pa, Han, my geleer het,” het Zermatten gesê. “Om die Pajero voor te berei is amper soos ‘n geloof en ons begin die proses die Maandag na elke byeenkoms.”
“Die enigste byeenkoms wat die Pajero in vyf jaar nie voltooi het nie, was die 2002-Nissan-Sugarbelt 400 toe ‘n namark-brandstoftenk gebars het en ons as gevolg van veiligheidsredes onttrek het. ”
En alhoewel Zermatten met ‘n broekskeurbegroting klaarkom, maak hy nooit van goedkoop onderdele gebruik nie en is hy dankbaar vir die ondersteuning wat hy van Mastercraft, Playstation, Pirelli en Sasol kry asook van Roberto’s Autobody wie se taak dit is om seker te maak dat die Pajero na ‘n renoorlog weer in ‘n goeie toestand is.
Zermatten en Schwegler sal tydens die Mafikeng 500 op 24 en 25 September in aksie wees en hoop om nóg ‘n Klas D-podiumposisie by hul 100 %-klaarmaakrekord tot op hede te voeg.