Die puntestelsel vir die 2005 Absa Veldrenkampioenskap is hersien om meer klem op die algehele posisies te plaas.
MSA se Veldrenvoertuigkommissie het besluit dat die algehele en klaspunte nie meer gekombineer sal word nie. Dit het in die verlede beteken dat voertuie in die laer klasse vóór die meer kragtige Klas A- en Klas T-voertuie geëindig het en, in sommige gevalle, die kampioenskap algeheel gewen het.
“Regoor die wêreld word die belangrikste kampioenskappe op algehele posisies gebaseer,” het die President van MSA se Veldrenvoertuigkommissie, Piet Swanepoel, gesê. “Dit was tyd dat veldrenne dieselfde riglyn begin volg en die top-presteerders vir hul pogings beloon word.”
Klas A en Klas T-deelnemers het die verandering in die puntestelsel verwelkom.
“Dit was vir my nogal frustrerend vir Richard Leeke en ek om in 2003 en 2004 die meerderheid van die byeenkomste algeheel in die Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody te wen en dan die risiko te loop dat ’n Klas D- of Klas E-span die kampioenskap aan die einde van die jaar voor ons neuse kan wegraap,” het die huidige Produksievoertuigkampioen, Hannes Grobler, gesê. “Die hersiene puntestelsel behoort dié risiko uit te skakel.”
Die huidige Spesiale Voertuigkampioen, Atang Makgekgenene het Grobler se sentimente gedeel. Die Motswana-jaer het vier van die agt rondes in die 2004-kampioenskap in die Total-Jimco gewen en is gedurig deur die Klas B-kampioene, Marcus Taylor en Marc de Chalain, bedreig as gevolg van die gekombineerde puntesituasie.
“Top-presteerders in die onderskeie Produksie- en Spesiale Voertuigklasse sal steeds die nodige erkenning ontvang en bykomende aansporingsmaatreëls is in werking gestel om deelnemers aan te moedig om op alle vlakke te presteer,” het Swanepoel bygevoeg.
“Die jaarlikse Absa Veldrenkampioenskaptoekennings sal ’n Mylpaal-toekenning insluit vir alle spanne wat elke ronde van die kampioenskap voltooi het. Dié toekenning is laasjaar deur Henri Zermatten en Bodo Schwegler in die Mastercraft/Playstation-Mitsubishi gewen. Daar sal ook ’n toekenning wees vir die Hoogste Geplaasde Nuweling, wat laasjaar deur die Ford Racing-ontwikkelingspan van Baphumze Rubuluza en Khulile Vakalisa, gewen is asook die Hoogste Geplaasde Dames-toekenning wat in 2004 deur Zelda van der Walt gewen is wat vir haar man, Neels, in die Klas E-Nissan Hardbody genavigeer het.”
Punte sal soos volg toegeken word:
Algeheel Klas
1ste 25 – 20
2e 19 – 16
3e 15 – 13
4e 12 – 12
5e 11 – 11
6e 10 – 10
7e 9 – 9
8ste 8 – 8
9de 7 – 7
10de 6 – 6
11de 5 – 5
12de 4 – 4
13de 3 – 3
14de 2 – 2
15de 1 – 1