Deelnemers aan die Mafikeng 500, die sesde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat op 24 en 25 September in die Noordwes-Provinsie plaasvind, kan ‘n heeltemal ander roete verwag as dié waaraan hull die afgelope paar jaar gewoond geraak het.

Die roete vir vanjaar se byeenkoms sal uit ‘n agt-figuur bestaan saamgestel uit ‘n noordelike sirkelroete van 211 km en ‘n suidelike roete van 240 km met die renhoofkantoor en die sentrale dienspunt wat by 10 SAI Bataljon, 3 kilometer noord van die Mafikeng Tusk Oord op die Lobatse-hoofpad, geleë sal wees.

“Ons het gehoor gegee aan deelnemers se klagte dat laasjaar se roete te vinnig was,” het Jeremy Minchin van die Mafikeng Motorklub gesê. “Deur die suidelike gedeelte in te sluit, kon ons dit regkry om die befaamde rivierbedding in te sluit wat in die verlede verskeie deelnemers se ondergang was.“

“Ons mik vir ‘n gemiddelde spoed van 75 km/h vir die byeenkoms.“

Die Mafikeng 500 begin Vrydag, 24 September om 13h00 met ‘n 35 km-voorren en die hoofren sal Saterdag, 25 September, om 08h00 begin. Die eerste voertuig word teen 14h00 by die einde verwag.