Die laaste ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap, die Carnival City 400 wat op 19 en 20 November tussen Brakpan en Heidelberg plaasvind, bied iets vir almal – hetsy dit entoesiaste van veldrenvoertuie, motorfietse en vierwielmotorfietse is.
Die organiseerders van die kampioenskapfinaal, Koepelklub, het ’n opwindende program opgestel en dit sluit in Produksie- en Spesiale Voertuie wat aan die Absa-Veldrenkampioenskap asook aan die Noordelike Streekskampioenskap deelneem terwyl daar ook kategorieë vir die motorfietse en vierwielmotorfietse is wat aan streekskampioenskap deelneem.
Produkie- en Spesiale Voertuigdeelnemers aan die nasionale kampioenskap sal Saterdag, 20 November om 08h00 aan die voorpunt van die veld wees en sal gevolg word deur deelnemers aan die Noordelike Streeksveldrenkampioenskap. Die motorfietse sal 30 minute na die laaste voertuig wegspring en sal deur die vierwielmotorfietsdeelnemers gevolg word.
Die Carnival City 400 begin Vrydag, 19 November om 12h00 met ’n voorren wat uit drie rondtes van die 6 km-stadionbaan by die kompleks sal bestaan terwyl die hoofren op Saterdag, 20 November om 08h00 sal begin en uit drie rondtes van die 135 km-roete sal bestaan. Die eerste voertuig word teen 13h30 by die einde terugverwag.