Vanjaar se Toyota 1000-Woestynren, die derde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat vanaf 11 tot 13 Junie in Botswana plaasvind, sal iets vir die deelnemers sowel as vir die toeskouers inhou.
Lede van die Four Wheel Drive Club van Suidelike Afrika het die afgelop paar weke heelwat tyd daaraan spandeer om ‘n nuwe roete uit te lê wat ‘n ware uithoutoets vir man en masjien sal wees terwyl dit ook verskeie geleenthede aan die toeskouers sal bied om al die aksie van naderby te beskou.
Daar word van die tradisie weggebreek deurdat die Toyota 1000-Woestynren elke dag in Gaborone sal begin en eindig terwyl die spanne in hulle hotelle en by die kampeerterreine kan oornag eerder as in die bos by Mantshwabisi.
Die Toyota 1000-Woestynren sal oor drie dae plaasvind met ‘n 45 km-voorren wat op Vrydag, 11 Junie om 12h00 by Game City afskop. Die roete vir die voorren sluit vinnige gedeeltes sowel as tegniese gedeeltes met rotsagtige terreine, rivierkruisings en dik sand in en dit sal uiters belangrik vir die spanne wees om ‘n goeie tyd op te stel indien hulle nie in iemand anders se stof wil jaag nie.
Die hoofren begin op Saterdag, 12 Junie om 08h00 by Game City in Gaborone en die spanne sal vir die sentrale dienspunt by Mantshwabisi mik deur grotendeels dieselfde roete as laasjaar te volg en dit sluit rotskoppies, dongas, rivierkruisings, sand en dikker bosse as gewoonlik in te danke aan die reën wat buite die reënseisoen in dié omgewing geval het. Daar is verskeie toeskouerpunte langs dié gedeelte insluitende ‘n opsionele dienspunt. Vanaf die sentrale dienspunt by Manshwabisi is die roete heeltemal nuut tot by die oornagpunt by Botswana Motorsport in Gaborone en die terrein wissel terwyl ‘n opsionele dienspunt ook hier ingesluit is. Die eerste voertuig word teen 15h00 by Botswana Motorsport se fasiliteit verwag.
Tydens die laaste dag se ren wat om 08h00 by Botswana Motorsport in Gaborone begin, sal spanne die roete in ‘n teenoorgestelde rigting volg. Na ‘n vinnige kuipestop by Mantshwabisi sal die oorblywende spanne net 250 km hê om te af te lê voordat hulle die einde by Game City in Gaborone bereik waar die wenner teen 14h00 verwag word.
‘n Paar toeskouerpunte is op die voorrenroete geïdentifiseer met die begin- en eindpunt wat die gewildste behoort te wees terwyl 11 toeskouerpunte op die hoofrenroete geesdriftiges vir ure sal besig hou. Die toeskouerpunte by Livingstonebrug, die opsionele dienspunt by Molepolole – daar word verwag dat Thamagapad, die Mochudibrug en die spooroorgang naby die oornagpunt by Botswana Motorsport in ware Toyota 1000-Woestynrentradisie, duisende toeskouers sal lok vir dié byeenkoms wat as Botswana se grootste sportgeleentheid gesien word.
“Die samewerking tussen die twee klubs en die owerhede is uitstekend en die Botswana Polisie het ons die versekering gegee dat die nodige stappe geneem sal word om die verkeer te beheer om verkeersknope op die paaie te minimaliseer,” het die roetedirekteur, Bill Viljoen, gesê. “Geesdriftige toeskouers het die lewe vir die diensspanne, die media en die algemene publiek in die verlede bietjie moeilik gemaak, maar die massabeheerplan wat ons wil implimenteer, sal die meeste van dié probleme uit die weg ruim.”