Die roete vir die Toyota-Handelaars 400, die voorlaaste ronde van die SA Veldrenvoertuigkampioenskap wat deur Absa aangebied word, wat in die Kwena-kom naby Lydenburg sal plaasvind, sal uitdagend en interessant vir die deelnemers sowel as vir die toeskouers wees.
Die SA Motorsportklub (SAM) se roetebeplanner, Dries de Klerk, het naweke in die omgewing spandeer en met ‘n roete vorendag gekom wat ‘n wye verskeidenheid terrein verteenwoordig – van gedeeltes waar hoë snelhede gehandhaaf sal kan word tot rivierbeddings, nou en draaierige paaie en kort gedeeltes teerpad.
“SAM organiseer die Sasol-Tydren reeds vir 12 jaar en dit was nog altyd ons werk om gladde, vinnige paaie te kry wat tydrenmotors die beste pas. Om dus na die ander uiterste te beweeg om aan die behoeftes van veldrenvoertuie te voorsien, was nogal ‘n interessante oefening,” het Willie du Plessis, die Hoofroetebeampte vir die Sasol-Tydren en SAM se verteenwoordiger by die organiserende span, gesê. “Die roete vir die Toyota-Handelaars 400 sal hopelik een van die mees uitdagende op die nasionale kampioenskapkalender wees en sal beslis die spanne en hul voertuie tot die uiterste toets.”
Die Kwena-kom is op die R36 geleë, 35 km van Lydenburg en verskaf ‘n groot verskeidenheid terrein wat bosbougedeeltes insluit asook ‘n paar rivierkruisings, nou kronkelpaaie, bergagtige op- en afdraandes met wye oop gedeeltes om die Kwena Dam.
Die Toyota-Handelaar 400 begin op Vrydag, 24 Oktober 2003 om 13:00 met ‘n 36 km-voorren rondom die Kwena Dam wat die wegspringposisies vir Saterdag se hoofren sal bepaal.
Die simboliese begin van die hoofren sal op Saterdag, 25 Oktober om 07:30 van Lydenburg Toyota op die hoek van Voortrekkerstraat en Langestraat wees en die spanne sal dan na die Lydenburg-lughawe beweeg waar die ren om 08:00 behoorlik sal begin. Die spanne sal in die rigting van die Kwena-kom beweeg vir ‘n 120 km-gedeelte wat hulle slegs een keer sal jaag waarna hulle ‘n 120 km-sirkelroete twee keer moet voltooi voordat hulle by die Badfontein Boeresaal sal eindig.
Die eerste span word teen 13:30 by die einde verwag.