Die Car in Action-Motorfees, wat op 17 en 18 Julie by die AA Kyalami-renbaan sal plaasvind, sal ook iets vir die tweewiel-entoesiaste insluit.
Die Historiese Motorfietse-groep (HMG), wat in 2002 gestig is en nou 49 lede het wat daartoe verbind is om die klassieke renmotorfietse soos die Manx Nortons, Ducati’s, Triumphs, BSA’s, Velocettes, Greeves en dies meer te bewaar en terug te bring na die land se renbane, sal Saterdag ‘n demonstrasie lewer.
Die ster van die vertoning sal sonder twyfel die sesmalige wêreldkampioen Jim Redman wees wat op ‘n Yamaha TZ750 in aksie sal wees. Die 75-jarige Redman vier sy 50ste jaar as ‘n renjaer en het daarin geslaag om ‘n gaatjie op die skedule van sy wêreldtoer te vind om op Saterdag, 17 Julie by AA Kyalami te wees. Redman neem vanjaar deel aan parades regoor die wêreld by renbane waarop hy in vervloë dae gejaag het.
Altesame 38 inskrywings is vir die ren ontvang, waaronder ‘n 1937 KTT Velocette 350 wat deur David Lindley gery sal word, ‘n 1968 BSA Rickman Rocket 750 met Errol Cowan in die saal, ‘n Greeves, sewe Ducati’s, vier Nortons, ‘n Rob North Trident, nog vier BSA’s, ‘n Triumph Bonneville, drie ander Velocettes, agt Hondas, drie Suzuki’s, twee Yamaha’s insluitend die Redman-motorfiets, ‘n Seeley en ‘n Mondial.
Die Cars in Action-motorfees is ‘n naweek vir die hele gesin met talle ander attraksies soos die Bosal Concours d’Etat en Tops Only-kompetisies, die Rotax RM-1-kampioenskapsren by die Kyalami-renstelbaan, historiesemotorrenne vir historiese enkelsitplekmotors, Volkspares Fine Cars, Lotus-uitdaging, DK Porsche-uitdaging en Volkspares HRCR-toermotors op Saterdag. Sondag kom die Vodacom 200 sportmotorren, die Rotax RM-1-kampioenskapsren, die Bosal Concours d’Elegance, die CRRASA Classic-stiptheidsren en die SAHRA-sneltrajektydren aan die beurt, ry-en-bestuur geleenthede op die BMW-glypan en ‘n 4×4-baan, ‘n Playstation-arkade, produkuitstallings en ‘n speelplek vir die kinders.
‘n Toegangskaartjie vir een dag kos R40 per persoon, terwyl ‘n kaartjie vir albei dae R70 per persoon sal kos.