Die vraag op almal wat die Absa-Veldrenkampioenskap volg se lippe, móét wees of die Ford ’n einde aan Nissan se reeks oorwinnings kan maak en of die Spesiale Voertuigkampioenskapvoorloper, Atang Makgekgenene, tydens die Mafikeng 500, wat op 24 en 25 September plaasvind, geklop kan word.
In die Produksievoertuigkategorie het elk van die Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody-spanne dié seisoen al ’n beurt gehad om te wen met die Produksievoertuigkampioenskapvoorlopers, Hannes Grobler en Richard Leeke die wenners van die Nissan-Handelelaars 400 en die Toyota 1000-Woestynren; Giniel de Villiers en Francois Jordaan die wenners van die Nissan-Sugarbelt 400 en die Sun City 400 en Duncan Vos en Hennie ter Stege wat hul eerste oorwinning tydens die Lesotho Sun 400 aangeteken het.
Die Ford Racing-span, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer, het tydens drie geleenthede vanjaar in die tweede posisie klaargemaak, maar kon sedert die 2003-Carnival City Casino 400 nog nie weer ’n oorwinning behaal nie. Die voormalige kampioene beskik oor die vermoë én die voertuig om ’n einde aan Nissan se oorheersing te maak en met slegs 18 punte wat die top-vier spanne in die Produksievoertuigkampioenskap skei, staan hulle ’n goeie kans om die voortou te neem indien hulle die ontwykende oorwinning kan behaal.
Die Klas D-kampioenskapvoorlopers wat ook om die algehele titel meeding, Alfie Cox en Ralph Pitchford, het vier agtereenvolgende klasoorwinnings in hul Arnold Chatz Cars-Nissan Hardbody ingesamel. Die veteraan-motorfietsjaers het twee keer in die derde algehele posisie klaargemaak en hulle is die gunstelinge om Klas D tydens die Mafikeng 500 te wen.
Daar is egter ’n hele paar spanne wat dié Nissan-span graag sal wil onttroon. Castrol-Toyota se Mark Cronje en Chris Birkin moet nog ’n oorwinning in hul Hilux 2,7i aanteken en saam met hul spanmaats, Paolo Piazza-Musso en Rod Hering wat Klas D tydens die Nissan-Handelaars 400 gewen het, sal hulle alles in hul vermoë doen om Cox en Pitchford te wen en om enige aanval deur enige van die horde ander Nissan-spanne af te weer.
Daar kan op die GBS-Renspan bestaande uit die huidige Klas D-kampioene, Hein Grobler en Gerhard Prinsloo, Johan Gerber en Coetzee Labuschagne en JP Augustin en Johan Doubell sowel as Arnold du Plessis en George Baker in die BB Auto-Nissan gereken word om ’n aanval op die Castrol-Toyota-spanne te loods indien hulle die betroubaarheidsprobleme van hul voertuie uitgesorteer het.
Manfred Schröder en Jack Peckham het nie hul beste seisoen in die Ford Racing Ranger tot dusver beleef nie. Ten spyte daarvan dat hulle ten minste een keer per ren die klasvoorlopers was, kon hulle slegs twee keer klaarmaak met hul beste resultaat ’n twee plek tydens die Nissan-Sugarbelt 400.
Henri Zermatten en Bodo Schwegler is die enigste span wat al vyf die renne vanjaar kon voltooi en is die buiteperde in Klas D. Hul uiters betroubare Mastercraft/Playstation-Pajero is nou in sy vyfde mededingende jaar en kan heel moontlik op die podium klaarmaak.
Daar sal twee Bosal/N1 4×4-spanne in Klas D wees en beide spanne kan vir ‘n goeie resultaat sorg. Dit lyk asof Pa Cliff en sy seun, Louis Weichelt, hul nuwe V6-aangedrewe Toyota Hilux uitgesorteer het en hulle het ’n goeie ren tydens die Sun City 400 gehad terwyl die broers, Mark en Stuart Moffat, nie die beste seisoen in hul Land Rover beleef het nie.
Klas E vir tweeliter- vierwielaangedrewe voertuig met beperkte veranderings word deur Toyota oorheers met Hugo en sy pa, Jaap de Bruyn, wat die weghol-leiers in die Klas E-kampioenskap is met drie oorwinnings na vyf renne in hul Castrol-Toyota Hilux.
Castrol-Toyota stoor een Hilux 2,7i en een Hilux KZ-TE vir onderskeidelik Gavin Cronje en Robin Houghton en Zane Pearce en Hennie Vosloo in die veld. Cronje het die eerste ronde gemis aangesien sy voertuig nie gereed was nie terwyl hy nog net een byeenkoms vanjaar voltooi met sy mees onlangse onttrekking tydens die Lesotho Sun 400 na ’n ongelooflike ongeluk in Don’t Cough Pass. Pearce het sý deel van ongelukke gehad en kon ook nog net een keer klaarmaak. Hy het gedurende die Lesotho Sun 400 gerol, maar daarvan herstel om die klas te lei tot ses kilometer voor die einde toe ’n boonoste beheerarm op die Toyota gebreek het.
Lichtenburg 200-wenners en Klas E-wenners tydens die Sun City 400, Hein Moolman en Cecil Fincham (4×4 Mega World-Toyota Hilux KZ-TE) boer in die Noordwes-Provinsie en behoort tuis te wees op die tipe terrein van die Mafikeng 500.
Nissan se aanslag sal van die Van der Walt-egpaar, Neels en Zelda, kom wat drie keer dié seisoen in die tweede plek klaargemaak het en die Du Plessis-broers, Jurie en André, in die BB Auto-Nissan.
Klas F vir onbeperkte tweewielaangedrewe voertuie het nie veel ondersteuning vanjaar gekry nie en André Botha en Beans Heydenrych (Kopanong Hotel Superteam-Chevy) was tydens heelparty renne die enigste deelnemers.
Die Spesiale Voertuigkategorie toon al die tekens van ’n volskaalse oorlog en die kampioenskapvoorlopers en wenners van drie en twee renne onderskeidelik, Atang Makgekgenene en Buks Carolin (Total-Jimco) sal die aanslag van ten minste ses Klas A-spanne wat almal die Mafikeng 500 kan wen, in die gesig moet staar.
Die wenners van die Nissan-Sugarbelt 400 en leiers vir die grootste gedeelte van die Lesotho Sun 400, Mark Corbett en Juan Möhr (Century Property Developments-BAT) asook die Lesotho Sun 400-wenners, John Weir-Smith (Kopanong Hotel Superteam-Jimco) en sy navigator wat nog aangewys moet word aangesien sy gereelde navigator, Geoff Minnitt, ten tyde van die ren Kilimanjaro sal klim, sal die aanslag lei.
Die huidige Klas A-kampioen, Gary Bertholdt, het besluit om weer na die Spesiale Voertuigkategorie terug te keer na vier renne in die Klas D-Nissan Hardbody. Hy en sy borg, Siegfried Rousseau, wat sy eerste jaar in veldrenne baie geniet, is vol vertroue dat hulle die Advansoft-BAT eerste by die eindstreep kan uitbring.
Terence Marsh en Mike Whitehouse het ’n goeie ren in die Nashua Mobile-Jimco tydens die Lesotho Sun 400 beleef en het derde algeheel klaargemaak en daar kan verwag word dat hulle op die voorloperposisie aanspraak sal maak terwyl Frikkie Botha en Blackie Swart (Procoat-Jimco), wat oor die spoed maar tot op hede nog nie oor die betroubaarheid beskik het nie, die ren graag sal wil voltooi en moontlik op die podium eindig. Daar kan ook van die bestendige Nick Harper en Andrew Chalupsky (BAT) en Clint Gibson en Mike Brown (Praesidium Financial Services-BAT) verwag om ’n podiumposisie te behaal.
Die Atlas Copco-BAT-span, Henry Kirstein en Renier Jooste, kon nie aan die Lesotho Sun 400 deelneem nie omrede die BAT ‘n herstel- en opgraderingsproses ondergaan het en volgens Kirstein sal dit die res van die seisoen ‘n uitnemende mededinger wees.
Die gevegsstrepe is ook in Klas B getrek waar die voormalige Klas B-kampioene, Marcus Taylor en Marc de Chalain (JRE) wat die voorloperposisie in die Klas B-kampioenskap van Adri Roets en Deon de Kock (Global-DAD WPP) tydens die Lesotho Sun 400 oorgeneem het, nóg ’n klasoorwinning sal wil behaal.
Die Klas B-wenners tydens die Toyota 1000-Woestynren, Hamish en Alistair Stubbs (Fence Erect-Viper); Will Battershill en Reg Sutton (JRE); die huidige Spesiale Voertuig-jaerskampioen, Giel Nel (Luk/Ate-Truggy); Colin Matthews (WPP) wat dié klas tydens die Sun City 400 gewen het; Ernest Corbett en sy skoonseun, Warwick Goosen (Century Property Developments-BAT); die broers Hendrik en Louis Fourie (Zarco Lite); Glenn Classen en Matthew Ludick (Radflo-Zarco Lite) en Warren Classen en Kim Dixon (Radflo-Zarco Lite) beskik oor die talent om sake vir Taylor en De Chalain moeilik te maak.
Slegs drie spanne kon dit regkry om Klas S te wen, maar met een van dié spanne, Nic Goslar en Warren Bowie (Kopanong Hotel Superteam-Raceco) buite aksie na ’n hoëspoed-ongeluk tydens die Sun City 400 en nóg ’n span, die Klas S-wenners tydens die Lesotho Sun 400, Nardus Alberts en Collin Hunter (Wrapsa-Raceco) wat nie ingeskryf het nie, sal dit net ’n handjievol spanne wees wat sake sal uitspook. Richard Schilling en Ashley Thorn in die Plastotech-Raceco gaan ook nie deelneem nie aangesien Schilling tydens die Mafikeng 500 oorsee sal wees.
Die Klas S-wenners tydens die Toyota 1000-Woestynren, Mohammed Noble en Richard Hope (Abe’s Furniture-Raceco) van Botswana, het die spoed om enige Klas S-deelnemer te wen en indien hulle geen probleme ondervind nie, kan hulle die weghol-wenners in dié klas wees.
Die Mafikeng 500, wat deur Total, Atlas Copco, ATS/First Prize Trophies, O’Hagan’s en die Noordwes-Parke en -Toerismeraad geborg word, begin op Vrydag, 24 September om 13h00 met ’n 35 km-voorren terwyl die hoofren Saterdag, 25 September om 08h00 begin. Die eerste voertuig word teen 14h00 by die einde terug verwag.