Die Kopanong Hotel Superteam hoop om beter resultate by die Nissan-Sugarbelt 400, die tweede ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat op 23 en 24 April in die Eston-omgewing naby Pietermaritzburg aangebied word, te behaal.
Die bestuur koester die hoop vir ‘n herhaling van Nic Goslar en Warren Bowie se Klas S-oorwinning tydens die openingsronde, die Nissan-Handelaars 400; dat die oliedrukprobleem wat deur ‘n foutiewe olieseël veroorsaak is, nie John Weir-Smith en Geoff Minnitt in die Klas A-Jimco sal beïnvloed nie en dat die oorverhittingsprobleem van André Botha en Beans Heydenrych se Klas F-Chevrolet nou iets van die verlede is.
“Die Kopanong Hotel Superteam is vol hoop oor sy kanse vir sukses by die Nissan-Sugarbelt 400 – veral van die nuwelinge, Chris Fick en Rob Knight in die Klas D-Land Rover 2.8,” het André Botha gesê. “Ek is vol vertroue dat ons met goeie resultate in Klas A, S en F kan wegstap en sal tevrede wees as die nuwelinge, Fick en Knight, hul eerste byeenkoms kan voltooi.”
Weir-Smith en Minnitt sal in Klas A moet opvang nadat hulle nie die ren by Darling kon voltooi nie en hulle sal met ‘n magdom BAT-inskrywings asook die Nissan-Handelaars 400-wenners, Atang Makgekgenene en Mike Stangl in die Jimco, insluit, moet meeding.
Goslar en Bowie sal die krane moet oopdraai as hulle voor hul aanvallende Klas S-teenstanders, Richard Schilling en Ashley Thorn en Buks Carolin en Archie Rutherford wat tussen hul sewe nasionale kampioenskaptitels gewen het, wil bly. Gebaseer op vorige vertonings, het Goslar al bewys dat hy ‘n slinkse jakkals is wat toekyk hoe sy teenstanders mekaar tot vroeë uittrede dwing en dan met die oorwinning wegstap.
Vir Botha en Heydenrych wat in Klas F vir tweewielaangedrewe voertuie meeding, sal dit ‘n kwessie wees om die Chevrolet by die einde te kry vir die ontwykende eerste klasoorwinning terwyl net die tyd sal leer wat Fick en Knight se kanse in die uiters mededingende Klas D sal wees.