Die Kopanong Hotel Superteam is besig om gereed te maak vir die nuwe seisoen en sal met ’n span van drie voertuie in die 2005 Absa Veldrenkampioenskap deelneem.
Die Lesotho Sun 400-wenners, John Weir-Smith en Geoff Minnitt, sal weer eens in die supervinnige Klas A-BMW 540 V8-aangedrewe Jimco in aksie wees wat groot veranderings aan die onderstel ondergaan het om die hantering te verbeter terwyl afsonderlike versnellerklepbakke aan die enjin aangebring is wat die enjin met ongeveer 80rpk versterk.
“Ek en Geoff beskik oor die toerusting en die vermoë om ons regmatige hoeveelheid renne te wen en ons mik vir die Spesiale Voertuigkampioenskapstitel wat ons vir die afgelope twee jaar ontwyk,” het Weir-Smith vol vertroue gesê.
In Klas S beplan Nic Goslar om weer na die kompetisie terug te keer nadat hy sy werwelkolom tydens ’n ongeluk in laasjaar se Sun City 400 beseer het en hy sal met die Raceco-Porsche deelneem wat voorheen baie suksesvol deur Richard ‘Ouboet’ Carolin bestuur is.
“My rug het goed herstel en my dokter het my die groen lig gegee,” het Goslar gesê. “Indien ek egter enige ongemak verduur, sal ek ongelukkig my renloopbaan vaarwel toe moet roep.”
André Botha sal ’n nuwe navigator in die vorm van Ouboet Carolin hê en dié twee sal die bestuur- en navigasiepligte in die Klas T-Chev Silverado afwissel.
“My besigheidsvennoot en voormalige navigator, Beans Heydenrych, moes teen sy wil ophou deelneem en ek was in ’n effense verknorsing totdat iemand voorgestel het dat ek Ouboet nader,” het Botha gesê. “Hy het die geleentheid met ope arms vewelkom en ons albei sien daarna uit om die pligte in die kajuit te deel.”
As gevolg van werksverpligtinge sal Chris Fick en Robert Knight net aan uitgesoekte renne in die streekskampioenskap in die Klas D-Land Rover deelneem.
“Ek het baie hoop vir die Kopanong Hotel Superteam en glo dat ons betekenisvolle sukses in elke klas waarin ons inskryf, kan behaal,” het Botha bygevoeg.
Die span se eerste ren sal die Nissan-Sugarbelt 400 wees wat op 18 en 19 Maart in KwaZulu-Natal aangebied word.