Die Kopanong Hotel Superteam beplan om die Wes-Kaap stormenderhand te verower wanneer hul span van drie voertuie op 22 en 23 April vir die Nissan-handelaars 400, die tweede ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap, aantree.
Ten spyte daarvan dat hul drie voertuie nie die onlangse Nissan-Sugarbelt 400 kon voltooi nie, is die Kopanong Hotel Superteam in ’n opgeruimde gemoedstemming en reg om die bestes in die Spesiale- en Produksievoertuigkategorieë aan te vat.
Die Klas A-deelnemers, John Weir-Smith en Geoff Minnitt, was tweede in KwaZulu-Natal toe ’n klip ’n gat in die oliekoeler van hul BMW 540 V8-aangedrewe Jimco gemaak het.
“Gelukkig het die enjin nie skade opgedoen nie,” het Weir-Smith gesê. “Die span se tegniese hoof, Joe Lima, het die voertuig deeglik ondersoek en ook voorsorg getref om te voorkom dat ’n klip weer ’n oliekoeler of verkoeler beskadig.”
“Ek sien na die Darling-byeenkoms uit omdat dit ’n hoëspoedroete is en indien dit aanhou reën, sal die stof nie ’n probleem wees nie.”
Nic Goslar het ná ’n afwesigheid van 11 maande as gevolg van ’n rugbesering wat hy tydens ’n hoëspoedongeluk met laas jaar se Sun City 400 opgedoen het, na veldrenne teruggekeer en hy en sy nuwe navigator, Jacob Robbetze, het goed in Klas S gevaar tot die ratkas van die Kopanong Hotel Superteam-Raceco die gees gegee het.
“Dit was vir my ’n frustrerende 11 maande, maar gereelde oefening het verseker dat my rug beter as ’n nuwe een is,” het Goslar gesê. “Ek kon nie wag om weer agter die Raceco se wiel in te klim nie en het die Nissan-Sugarbelt 400 regtig baie geniet totdat ons gebreek het.”
“Ek en Graydon Ilderton het Klas S laas jaar tydens die Nissan-handelaars 400 gewen en ek is vol vertroue dat ek dit weer kan doen, veral omrede die Porsche-enjin oor die wringkrag beskik om met die dik sand klaar te speel.”
André Botha en Richard Carolin, wat beurte agter die stuur van die Klas F-Chevrolet Silverado maak, het ’n skoon lopie in KwaZulu-Natal gehad en sou ’n podiumposisie in Klas F behaal het as ’n verbinder binne-in die aansluitingstelsel nie gebreek het nie.
“Om Richard in die kajuit te hê, was ’n ongelooflike ondervinding vir my en ek leer baie by hom,” het Botha gesê. “Die tyd wat ek in die navigatorsitplek deurgebring het en een van die mees ervare veldrenjaers in aksie kon sien, het mý as bestuurder baie gehelp.”
“Ek is vol vertroue dat die Kopanong Hotel Superteam bó sal uitkom tydens die Nissan-handelaars 400.”