Die Kopanong Hotel Superteam sal vyf motors inskryf vir die vierde ronde van die Absa-veldrenkampioenskap, die Sun City 400, wat op 23 en 24 Julie in die omgewing van Pilanesberg plaasvind. Die span is daarvan oortuig dat die herinnering aan die onlangse Toyota 1000 Woestynren hulle nie sal beïnvloed nie toe die hele span weens tydsbeperkings uitgeskakel is na die voltooiing van die eerste rendeel.
Alles het volgens plan verloop vir John Weir-Smith en Geoff Minnitt (Kopanong Hotel Superteam Jimco), wie die vinnigste kwalifiseerders van die buisraammotors was in die voorren en ook die vroeë voorlopers was totdat hulle ‘n pap wiel opgedoen het, wat hulle ‘n paar plekke laat afskuif het.
Hulle het ‘n aanslag geloods om verlore tyd op te maak, maar het tyd by die middelste dienspunt verloor deurdat hulle die ratkas wou vaster maak voordat hulle hul terugvegpoging kon voortsit. Hulle heg egter 18 km van die einde af sonder petrol gaan staan terwyl hulle in die tweede plek was. Henry Kirstein en Renier Jooste in die Atlas Copco BAT het gestop om aan die ongelukkige paar bietjie brandstof te gee, maar dit was nie genoeg om hulle tot by die einde te kry nie.
Andre Botha en Bean Heydenrych (Kopanong Hotel Superteam Chevy) het Klas F al in die sakkie gehad en gestop om vir hul spanmaats nog brandstof te gee. Die Klas S-jaers Nic Goslar en Warren Bowie (Kopanong Hotel Superteam Raceco) en Chris Fick en Rob Knight (Kopanong Hotel Superteam Land Rover) het regdeur die dag die rol van barmhartige Samaritane gespeel deur verskeie deelnemers te help wat in dongas en sagte sand vasgeval het, en hulle het ook hull spanmaats gehelp.
Al hierdie oponthoude het beteken dat teen die tyd dat hulle almal weer onderweg was, hulle die afsnytyd gemis het en was uit die ren.
“Dit was vir ons ‘n bitter pil om te sluk toe ons nie Sondag met die ren kon voortgaan nie,” het Andre Botha gesê. “Ek is egter tevrede dat die voertuie goed vertoon het en dat die aksies van die hele span deur ander gestrande deelnemers te help, in die ware gees van sportmanskap was.”
Die Superteam het die Raceco waarmee Buks Carolin voorheen sou gejaag het, bekom en besluit om Atang Makgekgene as medejaer in die Total Jimco in te span. Richard ‘Ouboet’ Carolin, vir wie die buisraammotors geen nuutjie is nie, sal die Klas S BMW 540 V8-aangedrewe voertuig bestuur.
“Ons is in ons noppies dat Ouboet ons gaan help om die Raceco te ontwikkel, en glo hy sal baie waarde toevoeg,” het Botha gesê. “Gegrond op ons Toyota 1000-vertoning, waar die voertuie nie ‘n slag gemis het nie, is ek seker dat ons positiewe uitslae in die Sun City 400 sal behaal.”