Die Kopanong Hotel Superteam is in ‘n goeie gemoedstoestand ná John Weir-Smith en Geoff Minnitt se Spesiale Voertuigkategoriesukses tydens die onlangse Lesotho Sun 400 en hulle gaan ‘n laaste aanslag op die Absa-Spesiale Voertuigkampioenskap te maak.

Weir-Smith en Minnitt is 104 punte agter die Spesiale Voertuigkategorievoorlopers, Atang Makgekgenene en Buks Carolin en sal elk van die oorblywende drie rondes van die Absa-Veldrenkampioenskap moet wen én hoop dat nie een van die titelaanslagmakers dié renne voltooi nie.

“Ek weet dit is ‘n moeilike taak, maar ek en Geoff kan dit doen en ons sien uit na die uitdaging,” het Weir-Smith gesê. “Die klein probleempies wat die Kopanong Hotel Superteam-Jimco gedurende die eerste helfte van die seisoen geteister het, is uitgesorteer en ons is nou meer gereed as ooit om ons mededingers aan te vat.“

Die veldrennuwelinge, Chris Fick en Rob Knight, kon nog net een ren dié seisoen in hul Klas D-Superteam-Land Rover waarmee Marius en Tracey van Vuuren voorheen deelgeneem het, voltooi. Hul klaarmaakrekord kan egter nie aan meganiese probleme toegeskryf word nie, maar aan die feit dat hulle die afgelope byeenkomste nie binne die voorgeskrewe afsnytyd kon voltooi nie. Dié span het die rol van die Goeie Samaritane oorgeneem en spandeer te veel tyd daaraan om gestrande deelnemers – insluitende hul eie spanmaats – tydens die renne te help.

“Chris en Rob se opdrag is om die hoofdoel, naamlik om om die renne te voltooi, na te jaag en nié hul tyd daaraan te spandeer om ander deelnemers te help nie,“ het Superteam-spanbaas, André Botha, gesê. “Die Superteam glo aan die konsep van sportmanskap in veldrenne en die spanlede sal alles in hul vermoë doen om ander deelnemers te help, maar nie tot hul eie nadeel nie.“

Botha en sy navigator, Beans Heydenrych, neem in die Klas F-Superteam-Chev, die grootste voertuig in die veld, deel en moes swyk voor die smal gedeeltes tydens die Lesotho Sun 400. Daar was gedeeltes waar hulle vierpuntdraaie moes maak om deur smal haarnaalddraaie te kon kom en hulle moes uiteindelik as gevolg van kragstuurprobleme die handdoek ingooi.

“Die Mafikeng 500 se bosveldtipe terrein pas die Chevy beter, maar my enigste bekommernis is die sanderige rivierbedding,” het Botha gesê. “Die voertuig is tweewielaangedrewe en ek is effens bekommerd dat ons in die dik sand kan vasval. ”

“Die Mafikeng 500 is ‘n bedrieglike taai ren, maar die Kopanong Hotel Superteam is oorgehaal vir enigiets wat die byeenkoms en die deelnemers na ons kant toe mag gooi.”