Die Lesotho Sun 400, die vyfde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat die afgelope naweek in die Bergkoninkryk van Lesotho plaasgevind het, het sy tol onder die deelnemers en hul voertuie geëis en slegs 15 van die 51 spanne wat die ren begin het, kon dit voltooi.
Die Trots Suid-Afrikaanse Nissan-span het hul segetog voortgesit met die voormalige Produksievoertuigkampioen, Duncan Vos en Hennie ter Stege wat hul eerste oorwinning in die Produksievoertuigkategorie behaal het voor hul spanmaats, Giniel de Villiers en Francois Jordaan in die tweede van die drie Klas T-Nissan Hardbody-bakkies.
Hul taak is heelwat makliker gemaak deur die Ford-renspan, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer, se onttrekking die oggend van die ren nadat Skjöldhammer Saterdag in die vroeë oggendure na ‘n Bloemfonteinse hospitaal afgevoer moes word ná ‘n vermoedelike beroerte. Gelukkig was Skjöldhammer se toestand die gevolg van ‘n reaksie tot medikasie en hy het die naweek by sy huis in Johannesburg aangesterk.
Die voorlopers in die Produksievoertuigkampioenskap, Hannes Grobler en Richard Leeke, het na 100 km ná die aanvang van die ren tot ‘n ontydige einde gekom toe die staalvlegwerk op ‘n hoëdruk-kragstuurpyp losgekom het en hulle gedwing het om die handdoek in te gooi.
Elkeen van die Nissan-spanne én die voorlopers in die Spesiale Voertuigkategorie, behalwe Mark Corbett en Juan Möhr in die Century Property Developments-BAT, het vir 330 km van die 340 km-ren beurte gemaak om voor te loop tydens dié uiters strawwe byeenkoms.
Die Klas D-kampioenskapvoorlopers, Alfie Cox, wat die Dak van Afrika-ren nege keer op ‘n motorfiets gewen het, en nóg ‘n motorfietsjaer, Ralph Pitchford, het hul vierde agtereenvolgende klasoorwinning in die Arnold Chatz Cars-Nissan Hardbody behaal om aan Nissan die 1ste, 2de en 3de plekke te besorg.
Die huidige Klas E-kampioene, Mark Cronje en Chris Birkin (Castrol-Toyota Hilux 2,7i) het vierde algeheel en tweede in Klas D geëindig en het geen antwoord vir Cox en Pitchford gehad wat dié klas van die begin tot die einde gelei het nie en moes tevrede wees om ‘n uur ná hul opponente klaar te maak.
Die 1994-Dak van Afrika-wenners, Cliff Barker en Mike Reddin (MGM Motors-Land Rover) het hul aftrede opsy geskuif vir die 10de herdening van hul historiese oorwinning en het ‘n stukkende skokbreker-monteerbout herstel en uiteindelik vyfde algeheel en derde in Klas T geëindig.
Behalwe vir ‘n pap band het Castrol-Toyota se Paolo Piazza-Musso en Rod Hering ‘n skoon, bestendige ren beleef en hul Hilux 2,7i in die sewende plek algeheel en derde in Klas D by die einde aangebring terwyl Henri Zermatten en Bodo Schwegler in die Mastercraft/Playstation-Pajero ‘n naelbytrit tot die einde gehad het en die eindstreep gehaal met net twee sekondes oor voor die afsnytyd.
Geen Klas E-voertuie kon die Lesotho Sun 400 voltooi nie. Die nuwelinge, Gavin Cronje en Robin Houghton (Castrol-Toyota Hilux 2,7i) was voor in Klas E, maar het in Don’t Cough-pas ‘n ongeluk gehad; die Klas E-kampioenskapvoorlopers, Hugo en Jaap de Bruyn in die Toyota Hilux 2,7i het ‘n konstante-snelheidkoppeling tydens die eerste sirkelroete gebreek; die Sun City 400-Klas E-wenners, Hein Moolman en Cecil Fincham in die 4×4 Mega World-Toyota Hilux KZ-TE, het veringstelselprobleme ondervind; die man- en vrou-span, Neels en Zelda van der Walt (Nissan Hardbody) het met meganiese probleme tydens die eerste sirkelroete opgegee en die Ford Racing Ranger van Baphumze Rubuluza en Khulile Vakalisa het ‘n ewenaar gebreek.
In die Spesiale Voertuigkampioenskap het Corbett en Möhr se BAT brandstofdrukprobleme ondervind wat hul ren 6 km voor die einde tot ‘n skielike stilstand gebring het en John Weir-Smith en Geoff Minnitt in die Kopanong Hotel Superteam-Jimco toegelaat het om hul eerste ren sedert laasjaar se Queen Motor Spares-Tarka 400 te wen. Die wenpaar het ‘n rolslag by ‘n berg af oorleef om die voorlopers in die Spesiale Voertuigkampioenskap, Atang Makgekgenene en Buks Carolin (Total-Jimco) met 24 min 01 sek by die wenstreep te klop.
Terence Marsh en Mike Whitehouse het derde algeheel en in Klas A in die Nashua Mobile Racing-Jimco geëindig waarmee Corbett en Möhr die 2000-Dak gewen het en is huis toe gevolg deur die KwaZulu-Natal-gebaseerde span, Clint Gibson en Mike Brown in die Klas A-Praesidium Financial Services-BAT.
Nóg ‘n KwaZulu-Natal-jaer, Marcus Taylor en sy navigator, Marc de Chalain was vyfde algeheel en was die eerste Klas B-span wat die einde in hul JRE gehaal het met die beginners, Rudi en Pierre van Graan sesde algeheel en tweede in Klas B in slegs hul vyfde ren in die Technochair-Zarco.
Corbett en Möhr kon hul Century Property Developments-BAT uiteindelik weer aan die gang kry en het sewende algeheel klaargemaak en was vyfde in Klas A om sodoende hul hoop op die kampioenskap aan die gang te hou.
Nardus Alberts en Colin Hunter was laaste en die Klas S-wenners in die Wrapsa-Raceco na ‘n lang stryd met die veelvuldige Dak van Afrika-wenners, Richard Schilling en Chris Davies in die Plastotech-Raceco. Veringstelselprobleme het Schilling 30 km voor die einde van die eerse rondte gekniehalter.
Die huidige Spesiale Voertuig-navigatorskampioen, Brandon Harcus en sy verloofde, Claudia Bevilacqua, het groot geskrik toe hulle tydens die tweede rondte vier kilometer in die berugte Don’t Cough-pas in hul Car Security and Sound Centre-BAT gerol het. Harcus was ongedeerd, maar Bevilacqua het harsingskudding en gekraakte ribbes opgedoen en is vir waarneming gehospitaliseer.
Die strawwe omstandighede het ‘n hewige tol op die Klas B-deelnemers geëis en heelwat spanne het vasgeval terwyl ander nie die klipperige bergpasse kon opkom nie.
Ten spyte van dié omstandighede en die feit dat so min spanne die einde gehaal het, was die spanne bly om na die tipiese “Dak“-omstandighede terug te keer en het hulle die Lesotho-Veldrenassosiasie wat die Lesotho Sun 400 op kort kennisgewing gereël het, geprys.
Die volgende ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap is die Mmabatho 500 wat op 24 en 25 September plaasvind.