Die Lesotho Sun 400, die vyfde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap, sal by Maseru plaasvind en sal gesamentlik deur die Lesotho Veldren-Assosiasie en lede van MSA se Veldrenvoertuig-kommissie Exco gereël word en Ashley Thorn, wat in Lesotho gebaseer is en die Dak van Afrika-ren verskeie kere gewen het, is deur die Exco aangestel om by die roetebeplanning betrokke te wees.

Die formaat van die byeenkoms sal van ander renne verskil deurdat ‘n Spesiale Trajek van 4 km by die Maseru-renbaan sal plaasvind in plaas van die tradisionele Tussen die Huise-ren deur die strate van Maseru wat nou net vir motorfietse en vierwielmotorfietse toeganklik is.

Deelnemers sal om 12h00 by die Maseru-renbaan vir die aanvang van die ren bymekaarkom en dan na Roma beweeg waar hulle ‘n 40 km-voorren moet voltooi wat die wegspringvolgorde vir die hoofren wat Saterdag om 07h00 by Matsieng begin, bepaal.

Die hoofren sal by Matsieng ongeveer 40 km suidoos van Maseru gebaseer wees en sal uit twee rondtes van 170 km elk bestaan. Die roete sluit in vier groot rivierkruisings, ‘n paar strome, klipperige gedeeltes, Don’t Cough-pas, Spook-, Cannibal-, Poepanyane- en Maama-passe asook vinnige gedeeltes op die plato’s en in die Makhalengriviervallei.

“Die roete sal beslis nie vinnig wees nie en in tipiese Dak van Afrika-tradisie, sal dit ‘n toets vir die deelnemers en hul voertuie wees,” het Ashley Thorn, wat deur MSA se Veldrenvoertuigkommissie aangestel is om in beheer van die roete te wees, gesê. “Ek het my ou Toyota Land Cruiser-stasiewa gebruik om die roete uit te lê en het nie een keer enige probleme ondervind nie.”