Die Lesotho Sun 400, die vyfde ronde van die Absa-Veldrenkampieonskap wat op 21 en 21 Augustus in Lesotho plaasvind, verteenwoordig die veldrenvoertuiggemeenskap se terugkeer na die Bergkoninkryk van Lesotho vir die eerste keer sedert die Dak van Afrika in 2000 en sal aan deelnemers ‘n ware uitdaging bied.
Veteraandeelnemers, waarvan baie sterk deelnemers in die Produksie- en Spesiale Voertuigkategorieë is, sal nie deur die uitdaging van stryk gebring word nie, maar nuwelinge sal heel moontlik met angs gevul word.
Die verdedigende Produksievoertuigjaerskampioen en Klas T-voorloper, Hannes Grobler (Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody) het die Dak van Afrika in 1986 en 1988 saam met die President van MSA se Veldrenvoertuigkommissie, Piet Swanepoel, gewen terwyl Grobler se navigator, Richard Leeke, die kajuit van ‘n Toyota Hilux met Kassie Coetzee gedeel het toe hulle dit in 1993 algeheel gewen het. Grobler en Leeke is tans in ‘n beherende posisie in die kampioenskap en sal saam met hul spanmaats en Nissan-Handelaars 400- en Sun City 400-wenners, Giniel de Villiers en Francois Jordaan, as gunsteling begin om te wen.
Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer (Ford Racing Ranger) sal dié byeenkoms graag wil wen aangesien albei van hulle die Dak van Afrika reeds twee keer gewen het. Woolridge en Skjöldhammer het die motorfietskategorie in 1984 en 1976 onderskeidelik gewen met Skjöldhammer wat in 1989 in die Durex-Raceco wat deur Robin Yates bestuur is, gewen het terwyl Woolridge en Paul Vermaak in 1999 algeheel in ‘n Mitsubishi Pajero gewen het.
‘n Interessante inskrywing op die lys is dié van Cliff Barker en Mike Reddin in die BMW M3-aangedrewe Land Rover Defender. Barker en Reddin het die 1994-Dak van Afrika in ‘n Land Rover Defender gewen en is in staat om ‘n verrassende oorwinning tydens die Lesotho Sun 400 te behaal.
Nóg ‘n Dak van Afrika-veteraan is Alfie Cox, ‘n voormalige veldrenmotorfietskampioen wat dié ren nege keer gewen het en drie agtereenvolgende Klas D-oorwinnings saam met Ralph Pitchford in die Arnold Chatz Cars-Nissan Hardbody opgeraap het. Dié paar ken die Bergkoninkryk beter as heelparty ander en sal hul gekombineerde kennis van die terrein goed kan gebruik.
Die Klas D-stryd word ernstig met Henri Zermatten, wat daarvoor bekend is dat hy altyd sy voertuig by die einde uitkry, en navigator, Bodo Schwegler (Mastercraft/Playstation-Pajero) wat kort op Cox en Pitchford se hake is.
Castrol-Toyota se Mark Cronje sal sonder twyfel skrikkerig wees aangesien dit die eerste keer is dat hy Lesotho besoek, maar sy navigator, Chris Birkin, het ‘n hele paar Dak-renne saam met sy broer, Andrew Birkin voltooi. Hy sal die jongeling, wat graag weer die voortou in Klas D-kampioenskap sal wil neem, kan gerusstel.
Ander Klas D-inskrywings om voor op die uitkyk te wees, is die GBS Racing-Nissan-span wat uit die huidige Klas D-kampioene, Hein Grobler en Gerhard Prinsloo bestaan asook Johan Gerber saam met Wiley Harrington in die navigatorsitplek en JP Augustin en Johan Doubell.
Manfred Schröder en Jack Peckham ondervind steeds tandekryprobleme met hul nuwe Ford Racing Ranger en kon nie die laaste twee renne voltooi nie terwyl Paulo Piazza-Musso en Rod Hering (Castrol-Toyota Hilux) drie van die vier renne tot dusver kon voltooi.
Die Sun City 400 was nie die beste ren vir Hugo de Bruyn en sy pa, Jaap (Castrol-Toyota Hilux 2,7i) nie, maar hulle het hul voorloperposisie in Klas E behou en is tans vierde in die algehele Produksievoertuigkampioenskap. Hulle kan egter opdraande van die Sun City 400-wenners, Hein Moolman en Cecil Fincham (4×4 Mega World-Toyota Hilux KZ-TE) verwag. En alhoewel die uiters bestendige Van der Walt-egpaar, Neels en Zelda (Nissan Hardbody) ver agter die Klas E-voorlopers is, maar tweede in dié klaskampioenskap is, sal hulle daarvoor mik om hul algehele posisie te verbeter.
Die Ford Racing Ranger-ontwikkelingspan, Baphumze Rubuluza en Khulile Vakalisa, wat elke ren behalwe die laaste een in hul debuutseisoen kon voltooi, sal beslis druk op die Van der Walt-egpaar toepas. Só ook sal die Castrol-Toyota Hilux-spanne Zane Pearce en Hennie Vosloo en Gavin Cronje en Robin Houghton. Apie Reyneke en Houghton het die Dak van Afrika in 1996 gewen en Houghton se kennis van die terrein sal ‘n groot voordeel vir dié span wees.
Na hul eerste Klas F-oorwinning dié seisoen, is André Botha en Beans Heydenrych (Kopanong Hotel Superteam-Chevy) nou die voorlopers in dié klas en sal hulle poog om hul posisie te verbeter deur ook punte in Lesotho aan te teken. Of die groot Chevy dit deur sommige van die nou gedeeltes sal maak, is egter ‘n groot vraag.
In die Spesiale Voertuigafdeling sal die wenner van die Nissan-Handelaars 400, die Toyota 1000 en die Sun City 400, Atang Makgekgenene (Total-Jimco) daarvan hou om ‘n driekuns saam met navigator, Buks Carolin te behaal. Alhoewel Carolin verskeie kere aan die Dak van Afrika deelgeneem het, kon hy nog nooit in Lesotho wen nie terwyl dit ‘n eerste Lesotho-besoek vir Makgekgenene sal wees.
Mark Corbett en Juan Möhr het die laaste Dak van Afrika waaraan die voertuie in 2000 deelgeneem het, gewen. Corbett en Gavin Kelsey (Century Property Developments-BAT) het die Nissan-Sugarbelt 400 gewen en tweede tydens die openingsronde van die Absa-Veldrenkampioenskap in die Wes-Kaap klaargemaak, maar kon nog nie enige ander renne voltooi nie.
Na bestendige vertonings in hul BAT, het Nick Harper en Andrew Chalupsky tot die tweede plek algeheel in die Spesiale Voertuigkampioenskap opgeskuif terwyl Clint Gibson en Mike Brown (Praesidium Financial Services-BAT), wat nog net by twee renne punte kon aanteken, in die vierde posisie is.
Die seun van die bekende veldrenveteraan, Arthur Harcus wat die Dak in 1978 gewen het, Brandon, sal van oorsee terug wees om aan die Lesotho Sun 400 deel te neem. Harcus kon nog nie besluit of hy in ‘n tweesitplek-BAT of sy nuwe enkelsitplek-BAT, waarmee hy later vanjaar aan die Baja 1000 in Mexico gaan deelneem, in Lesotho gaan deelneem nie.
Die Klas A-buitestaanders wat dié seisoen bewys het dat hulle heelwat potensiaal het, is die voormalige Spesiale Voertuigkampioen, Shameer Variawa en Nadeem Dudhia (Oven Fresh Biscuits-Porter), Terence Marsh en Mike Whitehouse (Nashua Mobile Racing-Jimco) en John Weir-Smith en Geoff Minnitt (Kopanong Hotel Superteam-Jimco).
In Klas B sal die stryd tussen die verdedigende Spesiale Voertuigjaerskampioen, Giel Nel (Luk/Ate-Truggy) en die voormalige Klas B-kampioene, Marcus Taylor en Marc de Chalain (JRE) wees met die Stubbs-broers, Hamish en Alistair, as buiteperde.
Die plaaslik-vervaardigde Zarco Lite-voertuie van die Fourie-broers, Hendrik en Louis asook Glen Classen en Matthew Ludick behoort ook goed in Lesotho te vaar. Ernest Corbett en sy skoonseun, Warwick Goosen, sal ook sterk mededingers in hul Klas B-Century Property Developments-BAT wees.
Die veterane, Richard Schilling en Lesotho-inwoner, Ashley Thorn (Plastotech-Raceco) is albei veelvuldige wenners van die Dak van Afrika. Schilling het saam met Fred Levesque in 1990 gewen, saam met Rob Wark in 1991 en saam met Thorn in 1992 terwyl Thorn as navigator vir Stanley Illman en Frans Stangl dit in 1999 gewen het. Thorn sal ‘n beampte tydens die ren wees en die veldrenmotorfietsjaer, Chris Davies, sal vir Schilling navigeer. Dit sal moeilik wees om dié uiters ervare span in Klas S te wen en hulle staan selfs ‘n kans op die algehele oorwinning in die Spesiale Voertuigkategorie.
Die Gibson-familie sal in volle glorie in Klas S verteenwoordig wees met inskrywings deur Clint Gibson se pa, Rob en Clint Barnard asook sy broer, Glenn, wat albei in Praesidium-Raceco’s sal deelneem.
Die Lesotho Sun 400 begin op Vrydag, 20 Augustus, om 12h00 met ‘n 4 km-Spesiale Trajek by die Maseru-renbaan of die Pope’s Stadium soos daarna verwys word en word deur ‘n 40 km-voorren gevolg wat by Roma begin en eindig. Die hoofren Saterdag sal uit twee sirkelroetes van 200 km in die laaglande suidoos van Maseru bestaan en die eerse voertuig sal om 07h00 wegspring.