Die borglose Mafikeng 500, die sesde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap is deur ‘n groep toegewyde borge wat ook spanne in die Spesiale en Produksievoertuigkategorieë van die kampioenskap borg, gered.
Na die ontydige onttrekking van laasjaar se borge van die Oven Fresh Biscuits 500, wat vroeër ‘n ooreenkoms aangegaan het om weer vanjaar se byeenkoms te ondersteun, het MSA se Veldrenvoertuigkommissie na aksie oorgegaan om ondersteuning vir dié ren te kry wat deur die Mafikeng Motorklub georganiseer word.
“Ons is oorstelp deur die reaksie wat ons vanuit die veldrengemeenskap gekry het,” het die President van MSA se Veldrenvoertuigkommissie, Piet Swanepoel, gesê. “Oproepe na prominente deelnemers het daartoe gelei dat hul borge ingestem het om broodnodige borgskap vir die byeenkoms beskikbaar te stel.”
“Ons is dank aan Total verskuldig wat Atang Makgekgenene en Buks Carolin se Total-Jimco, die voorloper in die Spesiale Voertuigkampioenskap, borg; Noordwes-Parke- en -Toerisme; O’Hagan’s wie se voorsitter, John Weir-Smith, die Spesiale Voertuigkategorie in die Kopanong Hotel Superteam-Jimco tydens die onlangse Lesotho Sun 400 gewen het; Atlas Copco wat die span van twee voertuie van Henry Kirstein en Renier Jooste asook Gé en Caroline Jooste borg en ook die Superteam en ATS Motor Sports Supplies/First Prize Trophies wie se Uitvoerende Bestuurder, Richard Leeke, vir Hannes Grobler in die voorloper-Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody in die Produksievoertuigkampioenskap navigeer,” het Swanepoel bygevoeg.
Die Mafikeng 500 begin op Vrydag, 24 September, om 13h00 met ‘n 35 km-voorren wat die wegspringvolgorde vir die hoofren sal bepaal. Die hoofren sal uit 451 km in die vorm van ‘n agt bestaan en die eerste voertuig sal die volgende dag om 08h00 wegspring.