Drie spanne van Midrand is daarop uit om die boerpot tydens vanjaar se Carnival City Casino 400, die laaste ronde van die SA Veldrenvoertuigkampioenskap wat deur Absa aangebied word, op 14 en 15 November te slaan.
Die Trots-Suid-Afrikaanse Nissan-spanne van Hannes Grobler en Richard Leeke het die Produksievoertuig- en Klas T-kampioenskappe tydens die onlangse Toyota-Handelaars 400 in die Lydenburg-omgewing opgeraap en is daarop uit om hul negende oorwinning uit 10 renne te behaal.
Grobler en Leeke sal met hul eie spanmaats, Giniel de Villiers en Francois Jordaan asook Duncan Vos en Mike Griffiths moet meeding en dié twee spanne sal alles in hul vermoë doen om die Produksievoertuigkampioene wat binnekort gekroon gaan word, te wen.
BAT Racing, ‘n privaat-inisiatief van die jong entrepreneur, Brandon Harcus, het die plaaslike én internasionale veldrentoneel stormenderhard verower met BAT-voertuie wat vier van die sewe renne tot dusver gewen het terwyl Harcus onlangs ook aangekondig het dat ‘n BAT aan die 2004-Dakar gaan deelneem.
Harcus en sy mede-jaer, Gary Bertholdt, het twee rondtes van die kampioenskap in hul Adrenalise Corporate Entertainment-BAT gewen en staan ‘n buitekans om die gesogte Spesiale Voertuigkampioenskap te wen.
Die KZN-span, Gerald Mundell en Billy Bond (Prolong-BAT) het die Nissan-Sugarbelt 400 gewen en is tweede in die Spesiale Voertuigkampioenskap en die voorlopers in die Klas A-kampioenskap tewyl Mark Corbett en Juan Möhr die onlangse Toyota-Handelaar 400 in hul Century Property Developments-BAT gewen het.
Die O’Hagan’s/Kopanong Hotel Superteam het hoogte- en laagtepunte dié seisoen beleef met die hoogtepunt John Weir-Smith en Geoff Minnitt (Superteam-Jimco) wat van agter gestorm het om die Toyota 1000-Woestynren in Botswana te wen.
Daarna het ‘n rits enjin- en veringstelselprobleme gevolg wat veroorsaak het dat die span nie meer die Spesiale Voertuig- óf Klas A-kampioenskappe kan wen nie.
Nic Goslar (Superteam-Raceco) is die gesamentlike voorloper in die Klas S-jaerskampioenskap en moet net saam met Warren Bowie voor hul aartsmededingers, Mohammed Noor en Mohammed Moultsen van Botswana eindig om dié kampioenskap in sy debuutjaar in te palm.
Die besigheidsman van Benoni, André Botha en Beans Heydenrych, ook in hul debuutjaar, is tweede in Klas F in die Superteam-Chevy en moet vir Jaap Zeeman en Johannes Barwise wen om die Klas F-titel te verseker.
Die pa- en seun-span, Rob en Gareth Wark, deel die bestuurdersitplek in die Superteam-Mighty Mag en sal daarvan hou om die seisoen met ‘n Klas B-oorwinning af te sluit nadat hulle slegs een keer dié seisoen ‘n ren kon voltooi as gevolg van stuur- en veringstelselprobleme.
Die Carnival City Casino 400 sal ‘n toeskouer-vriendelike byeenkoms wees met ‘n gewilde bring en braai-area waar ‘n feestelike atmosfeer vir entoesiaste en vriende geskep is om bymekaar te kom.
Carnival City Casino-toeskouers sal ook toegang tot kitskosstalletjies, ‘n biertent en toiletfasiliteite hê. Die gedeelte van die roete wat deur die Carnival City-kompleks gaan, is ook oorgedoen en sluit nou bykomende hoëspoed-walle in wat meer aksie behoort op te lewer.
Dit sal aan geesdriftiges ‘n skouspelagtige uitsig van die aksie bied. Toeskouers sal die voertuie drie keer van een punt binne die kompleks kan sien en sal ander toeskouerpunte binne kilometers vanaf Carnival City Casino kan bereik.
Die naweek se aksie sal op Vrydag, 14 November om 12:00 met ‘n voorren begin. Dit behoort heelwat aksie op te lewer en ‘n voorsmakie te wees vir wat lyk na ‘n dramatiese naweek in die wêreld van veldrenne. Die hoofren begin op Saterdag, 15 November om 08:00.