Die Kopanong Hotel Superteam het ‘n teleurstellende ren tydens die onlangse Nissan-Handelaars 400, die openingsronde van die Absa-Veldrenkampioenskap beleef met slegs een van die drie voertuig wat dit tot by die einde kon maak om die Klas S-oorwinning in te palm.
Die huidige Klas S-kampioen, Nic Goslar met ‘n eenmalige navigator, Graydon Ilderton, het weer eens sy bestendigheid getoon en was die enigste span in Klas S wat toegekyk het hoe hul mededingers een vir een die handdoek moes ingooi as gevolg van stukkende ratkaste, koppelaars en enjings.
Daar is baie van die 2003-Toyota 1000-Woestynrenwenners, John Weir-Smith en Geoff Minnitt in die oorgeboude Kopanong Hotel Superteam-Jimco verwag, maar hul aanslag het sleg begin toe ‘n pap band in die voorren hul heelwat tyd gekos het.
Weir-Smith en Minnitt het die hoofren in die 29ste posisie aangepak en het hul pad sistematies deur die res van die veld oopgejaag tot in die sesde plek in die Spesiale Voertuigkategorie, maar toe het die noodlot toegeslaan. Die BMW 540 V8-enjin se oliedruk het gedaal en nadere inspeksie het getoon dat ‘n enjinolieseël gelek het. Die paar het besluit om tot by die kuipe voort te kruie en het besluit om aan die einde van die eerste rondte te stop om verdere skade te voorkom.
Die Superteam-tegnici was oortuig hulle het die oorverhittingsprobleme oorkom, maar dit het die Klas F-Chevrolet van Andre Botha en Beans Heydenrych weer eens geteister en hulle kon slegs 4 km van die voorren voltooi voordat die V8-enjin die gees gegee het.
“Ons is verheug dat Nic en Graydon Klas S gewen het, maar dit was ‘n teleurstellende ren vir die res van ons,” het Andre Botha gesê. “In die geval van die Jimco was dit ‘n goedkoop olieseël wat John en Geoff in die steek gelaat het, maar vir my en Beans was dit nogal ‘n duur oefening en ons sal vóór die volgende ren na ander oplossings vir die oorverhittingsprobleem moet soek.”