Spesiale en Produksievoertuigspanne wat aan die 2004-SA Veldrenvoertuigkampioenskap gaan deelneem, sal ‘n geleentheid gebied word om die Nampo 400 wat deur die bekende landboubesigheid Senwes geborg word, as ‘n oefenlopie te gebruik voor die aanvangsronde, die Nissan-Handelaars 400 wat in Maart plaasvind.
Behalwe dat dit ‘n Nasionale Uitnodigingsren is, sal die Nampo 400 (20 en 21 Februarie) ook deel vorm van die Noordwes-Veldrenuitdagingreeks en daar word verwag dat ‘n groot hoeveelheid voertuie ingeskryf sal word.
Die Nampo 400 wat in die Bothaville-omgewing aangebied word, sal deur lede van MSA se Veldrenvoertuigkommissie bygewoon word met die oog daarop om dié byeenkoms op die nasionale kampioenskapskalender te plaas en die Verwes-Veldrenklub en ander rolspelers sal alles in hul vermoë doen om ‘n goeie vertoning vir deelnemers sowel as vir toeskouers te lewer.
“Die boerderygemeenskap van Bothaville het sy gewig agter die Nampo 400 gegooi en het groot gedeeltes van hul land vir die organiseerders beskikbaar gestel,” het Johan Loxton, die adjunk-algemene bestuurder van Grain SA se Handelsonderneming, gesê. “Van die beste terreine in die omgewing wat ideaal is vir veldrenne, is vir die Verwes-Veldrenklub toeganklik gemaak en die samewerking tussen die grondeienaars en die organiseerders is uitstekend.”
Die byeenkoms begin met op Vrydag, 20 Februarie, om 13h00 met ‘n 50 km-voorren wat die wegspringvolgorde vir Saterdag se hoofren wat om 11h15 begin, sal bepaal. Die hoofren sal uit ‘n sirkelroete van 130 km bestaan en twee rondtes van ‘n 60 km-roete wat deelnemers oor woestynagtige sanderige terreine sowel as gedeeltes in plantasies, bosveld, dongas en plaaspaaie sal neem.
Daar sal goed na die toeskouers omgesien word en kos en verversings sal gedurende die dag by Nampo Park, die tuiste van die wêreldbekende Nampo Oesdag wat jaarliks meer as 60 000 besoekers oor vier dae trek, verkoop word.
Nampo Park is 220 km van Johannesburg, 40 km van Klerksdorp en 20 km van Bothaville en die ren sal hier begin en eindig terwyl die sentrale dienspunt ook hiér sal wees. Heelwat toeskouerpunte sal maklik deur middel van teer- en goeie grondpaaie bereik kan word.