Die Kopanong Hotel Superteam het drie voertuie vir die Lesotho Sun 400, die vyfde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat op 20 en 21 Augustus in die Bergkoninkryk plaasvind, ingeskryf.
Die gewone span van vyf voertuie is effens verminder as gevolg van groot skade aan Nic Goslar se Raceco en Buks Carolin se Raceco wat verkoop is en dié voertuie was deel van die span tot en met die Sun City 400.
Goslar en Warren Bowie het ‘n hoëspoed-ongeluk oorleef toe hulle ‘n weggesteekte rots getref het wat die Klas S-Raceco sodanig beskadig het dat dit onekonomies sou wees om te herstel terwyl dit Goslar, wat rugwerwelbeserings opgedoen het, vir die res van die seisoen buite aksie gelaat het.
Buks Carolin het die seisoen as deel van die Kopanong Hotel Superteam begin en sou met die ex-Klas S-kampioenskapwenner waarin hy, Richard Schilling en Richard Leeke in 1991 aan die Parker 400 in die VSA deelgeneem het, gejaag het. ‘n Geleentheid om vir Atang Makgekgenene in die Total-Jimco te navigeer het egter in Carolin se pad gekom en hy het die kans aangegryp. Die BMW 540 V8-aangedrewe Raceco is nou te koop.
“Dit is jammer dat Nic Goslar nie vir die res van die jaar sal kan deelneem nie en ons is spyt dat Buks Carolin nie meer deel van die Superteam is nie,” het André Botha gesê. “Ons wil nou op die ooblywende drie voertuie vir die res van die seisoen konsentreer.”
John Weir-Smith en Geoff Minnitt sal die Kopanong Hotel Superteam se aanslag in die Spesiale Voertuigkategorie in die BMW 540 V8-aangedrewe Klas A-Jimco lei terwyl Chris Fick en Robert Knight in die Klas D-Land Rover in aksie sal wees en die voorlopers in Klas F, André Botha en Beans Heydenrych in die Chevy die nou bergpasse in Lesotho se laaglande sal aanpak.
Weir-Smith en Minnitt kan algeheel wen en sal alles in hul vermoë doen om Makgekgenene en Carolin se oorheersing in die Spesiale Voertuigkategorie te eindig terwyl die beginners, Fick en Knight, teen ‘n volledige veld hoogsmededingende Klas D-spanne te staan sal kom wat die fabrieksingeskrewe Ford, Nissan en Toyotas insluit. Botha en Heydenrych sal hul hande vol hê om die groot Chevy deur die talle nou gedeeltes op die roete te maneuvreer.
“Die Lesotho Sun 400 beloof om ‘n strawwe uitdaging vir almal te wees, maar ek is oortuig dat die Superteam voorbereid sal wees om die berge aan te pak en dat al drie spanne die einde sal haal en hopelik selfs die Spesiale Voertuigkategorie kan wen,” het Botha bygevoeg.