Nissan Motorsport, wat die afgelope 14 rondes van die Suid-Afrikaanse Veldrenkampioenskap vir buisraammotors en produksievoertuie (wat deur Absa aangebied word) gewen het, en sy derde agtereenvolgende algehele produksievoertuigkampioenskap beklink het nadat die span verlede maand se Toyota Handelaars-Mpumalanga 400-veldren gewen het, is steeds nog net so gemotiveer as aan die begin van die seisoen vir die laaste byeenkoms van die jaar, die Carnival City Casino-veldren, wat die naweek van 14 en 15 November aan die Oos-Rand beslis word.
Die pasgekroonde 2003-kampioene Hannes Grobler en Richard Leeke mik vir hul sewende oorwinning van die seisoen in hul Trots Suid-Afrikaans-Nissan Hardbody waarmee hulle die reeks vanjaar geheel en al oorheers het. Hulle word gesteun deur hul spanmaats Duncan Vos en Mike Griffith, die 2002-kampioene, wat in die vorige byeenkoms tweede agter Grobler en Leeke geëindig het vir Nissan se vyfde dubbele oorwinning in die sewe byeenkoms wat tot dusver vanjaar gehou is.
Die 2001-kampioene Giniel de Villiers en Francois Jordaan gaan nie aan die laaste byeenkoms deelneem nie aangesien hul Trots Suid-Afrikaans-ontwikkelde Nissan Hardbody met sy onafhanklike agtervering by Nissan Motorsport se Midrandse aanleg vir die komende 2004-Dakar-veldtydren voorberei word wat deur die Franse Nissan-handelaarspan Dessoude ingeskryf word. De Villiers sal weer in die Dakar-byeenkoms deelneem ná sy welverdiende vyfde posisie algeheel in die 2003-byeenkoms, en hy sal dié keer agter die stuur van ?n splinternuwe weergawe van die Trots Suid-Afrikaans-Nissan Hardbody wees.
Hoewel Nissan nie meer in die gesogte vervaardigerskampioenskap geklop kan word nie – sy naaste teenstander is Toyota wat 411 punte teenoor Nissan se 743 het – is daar nog baie oor om voor te baklei in die laaste oorblywende ronde van die reeks van agt wat in Maart met die Nissan Handelaars 400-veldren in Darling in die WesKaap afgeskop het. Ford sowel as Toyota, die enigste ander twee vervaardigers wat amptelik as fabriekspanne aan die reeks deelneem, is baie gretig om hul eerste oorwinnings sedert Mei 2002 aan te teken.
?Ford se Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer (Ford Ranger) en Toyota se Apie Reyneke en Robin Houghton (Castrol Toyota Land Cruiser) is almal voormalige Suid-Afrikaanse veldren-kampioene en is altyd iemand om mee rekening te hou. Soos gewoonlik aanvaar ons niks as vanselfsprekend nie, maar ons is gretig om ons rekord-segetog so lank as moontlik voort te sit. Die hele span het vanjaar baie hard gewerk en ons sal gewis nie ontspan voordat ons die laaste ren gewen het nie,? het Glyn Hall, hoofbestuurder van Nissan Motorsport, gesê.
Grobler en Leeke het ook reeds die algehele Klas T-kampioenskap vir veranderde produksievoertuie gewen, en nog net Klas D vir bykans standaard sessilinder-voertuie is nog onbeslis.
Private jaers sal die Nissan-vlag in Klas D asook in Klas E vir bykans standaard viersilinder-produksievoertuie wapper soos hulle sonder uitsondering nog regdeur die seisoen gedoen het.
Alfie Cox, Suid-Afrika se mees suksesvolle veldren-motorfietsjaer en ?n top-aanspraakmaker vir die algehele oorwinning in die tweewiel-afdeling van die komende Dakar 2004 op sy KTM, is terug in die land nadat hy die tweede posisie in die onlangse VAE-Woestynren in Dubai beklink het, en is gretig om weer sy sit agter die stuur van bakkie tekry en sy greep in die produskievoertuig-afdeling te hervat nadat hy vanjaar sy klas in die Nissan Sugarbelt 400 in Mei en die Ovenfresh Biscuits 500 in Julie in sy Arnold Chatz Cars-Nissan Hardbody gewen het. Hy sal weer saam met sy gereelde navigator, Hennie ter Stege, jaag.
Die gewese Klas D-kampioen Hein Grobler en sy medejaer Gerhard Prinsloo is voor in die Klas D-kampioenskap in hul GBS Hardbody met nog net die laaste ren om sake te beklink. Die private Mitsubishi Colt-jaers Johan en Marthinus van der Merwe is net vyf punte agter hulle, wat beteken die stryd is vir Grobler/Prinsloo nog lank nie verby nie.
Hul GBS Nissan Hardbody-spanmaats Coetzee Labuschagne en Johan Gerber is vierde op die punteleer en net ?n enkele punt voor Cliff en Louis Weichelt (N1 4×4-Toyota Land Cruiser), en 10 punte agter die motorjoernaliste Deon Schoeman en Jeremy Fall (Ferodo/Topcar Nissan Hardbody) wat tweede in Klas D is.
Die GBS-span se veldren-egpaar JP en Linda Augustin, wat 10de in die Klas D-kampioenskap is, is ook deel van die uitdaging om die res van die Klas D-jaers agter hulle te hou.
Die BB Auto-Nissan Hardbody van Arnold du Plessis en George Baker, wat eers halfpad deur die seisoen aan die reeks begin deelneem het, maak hul laaste verskyning van die seisoen in hul Klas D-bakkie. Hul spanmaats, die Du Plessis-broers Jurie en André, sal ook weer in hul Klas E-BB Auto Hardbody jaag.
Nog ?n Nissan-veldrenegpaar, Neels en Zelda van der Walt, is huidiglik vierde in Klas E in hul privaat-ingeskrewe Hardbody en is daarop uit om die seisoen op hoë noot af te sluit. Die Klas E-kampioenskap is reeds beklink deur die veldren-nuweling Mark Cronjé en sy ervare navigator Chris Birkin saam met wie hy in die fabrieksingeskrewe Castrol Toyota Hilux jaag.