Nissan Motorsport het Saterdag ’n driekuns in die Nissan-handelaars 400-veldren losgejaag toe die verdedigende Suid-Afrikaanse veldren-jaerskampioen Hannes Grobler en sy navigator, Francois Jordaan, die tweede ronde van die Suid-Afrikaanse Absa-veldrenkampioenskap in die Darling-gebied naby Kaapstad in hul Trots Suid-Afrikaans-Nissan Hardbody-bakkie gewen het.
Dit was Nissan se 26ste oorwinning in die afgelope 34 renne en Grobler, die veldrenjaer met die meeste oorwinnings op sy naam, se terugkeer na die boonste trappie van die wennerspodium ná sy teleurstellende tweede posisie in die seisoen se openingsren, die Nissan-Sugarbelt 400 in Maart. Grobler was van begin tot einde los voor nadat hy Vrydag die vinnigste tyd in die kwalifiserende voorren oor 42 km met ’n voorsprong van 20 sekondes voor sy spanmaat Alfie Cox opgestel het.
Die Midrandse span, wat die veldrenkampioenskap die afgelope vier jaar met verskillende jaers gewen het, is van ’n gewisse dubbele oorwinning beroof toe die tweede Trots Suid-Afrikaans-Nissan Hardbody in Klas F (vir omgeboude produksievoertuie) met Cox en sy navigator, Ralph Pitchford, minder as 50 km voor die eindpunt gedwing is om hulle weens ratkasprobleme aan die ren te onttrek.
“Ons het ’n onheilspellende geraas gehoor wat van die ratkas of ewenaar gekom het, en besluit om halt te roep ten einde verdere skade te verhinder,” het ’n baie teleurgestelde Cox gesê.
Grobler en Jordaan het in die afwesigheid van Ford se Klas F-Ranger V6 vir die Nissan-Sugarbelt 400-wenners Neil Woolridge en Kenny Skjoldhammer, wat nie deelgeneem het nie, tot die boonste sport van die puntetabel in die jaers- en navigatorskampioenskappe opgeskuif.
“Ons het ’n probleemvrye lopie gehad,” het Grobler gesê waar hy by die eindpunt in Darling by die Darling-klub net vier uur ná die wegspring deur aanhangers omring en geluk gewens is. “Ek en Francois was baie teleurgesteld om nie die Nissan-Sugarbelt 400 te wen nie – ons was regdeur die ren gerieflik voor toe ons noodgedwonge moes stilhou om ’n pap wiel te vervang.”
Grobler, wat sy voorneme aangekondig het om aan die einde van die jaar ná ’n loopbaan van 29 jaar in motorsport uit te tree, is vasberade om die sport waarvoor hy so lief is en wat hom so goed behandel het, met ’n vierde jaerskampioenskap vaarwel toe te roep.
Dié gewilde jaer, wat onlangs sy 50ste verjaarsdag gevier het, was oorstelp met sy oorwinning – veral weens die feit dat hy omtrent glad nie kon oefen nie nadat hy aan die begin van die maand die Nissan-handelaarskap in Hermanus oorgeneem het.
Manfred Schroder en Alec Harris (Klas D-Ford Ranger) was verrassend in die tweede posisie algeheel vir ’n welverdiende Klas D-oorwinning 35 minute agter die wen-Nissan. Hulle is gevolg deur Mark Cronjé en Chris Birkin in hul Toyota Hilux, wat 3 min 35 sekondes agter hulle was, om die tweede posisie in Klas D (vir bykans standaard sessilinder-voertuie) in te neem.
Die wenners van Klas E (vir bykans standaard viersilinder-voertuie) was Chris Visser en Japie Badenhorst in ’n Toyota Hilux, wat vyfde algeheel en 7 minute 8 sekondes voor Hugo en Jaap de Bruyn in hul Klas E-Toyota Hilux was.
Die beste private Nissan-jaers was die Du Plessis-broers Jurie en André in hul BB Auto/Coca Cola-Hardbody, wat agtste algeheel en vierde in Klas D was. Hul spanmaats Arnold du Plessis en Johan Knox, wat ’n goeie voorren gehad het met die agtste beste tyd algeheel en derde vinnigste in Klas D, moes ook net 50 km voor die eindpunt van die hoofren weens ratkasprobleme onttrek.
Die Topcar-redakteur Deon Schoeman en sy navigator, Jan Sime, was op pad om onder die voorste drie jaers in Klas D te eindig toe hul Topcar/Autopage/Du Pont-Hardbody net drie kilometer ná die begin van die derde en laaste 115km-rondte weens ’n gebreekte mikveer-koeëlgewrig tot stilstand gekom het.
Coetzee Labuschagne en Johan Gerber het heel agter in hul GBS Racing/Raysonics-Nissan Hardbody weggespring nadat ’n klepseël wat die gees gegee en ’n suier laat breek het, hulle verhinder het om in die voorren te jaag.
Hulle het ’n gebruikte enjinblok in die nabygeleë Malmesbury gaan koop en regdeur die nag tot vyfuur Saterdagoggend gewerk om die enjin betyds vir die wegspring van die hoofren te herbou. Dit was egter tevergeefs – te lae oliedruk in die eerste rondte is gevolg deur die waarskuwende geklop van enjinlaers waarna hulle kort ná die begin van die tweede rondte uitgeval het.
Thomas Rundle en Stavros Yiannakis het ’n frustrerende naweek gehad in wat maar net hul tweede nasionale kampioenskapsveldren saam was. Hul Klas E- Barden Tyre Services-Nissan Hardbody se dryfas het in die voorren gebreek, waarna hulle met ’n geleende dryfas wat hulle by die TopCar-span gekry het, goed gejaag het totdat hulle die bakkie se ontsteker in hul tweede beurt deur ’n diep watergat 10 km voor die einde van die tweede rondte laat nat word het.