Nissan-handelaars 400 bied uitstekende toeskouergeleenthede

By: CAR magazine

Die Nissan-handelaars 400, die tweede ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat op 22 en 23 April by Darling in die Wes-Kaap plaasvind, bied heelwat uitstekende toeskouergeleenthede.

Die roete vir Vrydag se 42 km-voorren sluit drie toeskouerpunte naby die renhoofkwartier by die Darling-klub in.

Toeskouerpunt A, wat op die Moorreesburg- / Hopefieldpad is, is net 4,5 km van die ren se beginpunt by die Darling-klub af en sluit ’n hoëspoedpaadjie langs die heining in met ’n veegdraai gevolg deur ’n skerpdraai na links en ’n hek waardeur die deelnemers moet gaan gevolg deur nog ’n skerp draai na regs en nóg ’n hekdeurgang.

Toeskouerpunt B is op die Malmesbury-hoofpad (R304) en bied heelwat aksie. Die deelnemers nader en kruis die R304 en draai dan skerp na links oor ’n ou, smal brug oor die pad. Die voertuie kan dan gesien word as hulle by ’n steil heuwel afkom voordat hulle ’n baie nou gedeelte tussen die bome aanpak en dan skerp regs draai en oor die R304 gaan.

Toeskouerpunt C is langs die Darling- / Atlantispad waar voertuie vir lang gedeeltes vanaf ’n uitkykpunt op ’n koppie gesien kan word.

Daar is vier toeskouerpunte op Saterdag se 115 km-roete wat die deelnemers drie keer moet voltooi.

Toeskouerpunte A, B en C sal weer eens as toeskouerpunte dien en só ook Toeskouerpunt D wat op die pad na die Hildebrand Monument geleë is. Die deelnemers kom teen ’n hoë snelheid van agter ’n plaashuis te voorskyn, draai skerp links en gaan dan teen ’n skuins wal af en deur ’n rivier voordat hulle weer in die verte spoed optel.

“Daar is verskeie ander padkruisings waar die voertuie in aksie gesien kan word, maar ons het vier toeskouerpunte geïdentifiseer wat beslis die beste sal wees,” het die Hoofbaanbeampte, Robert Marle, gesê. “Die Nissan-handelaars 400 vind in ’n buffersone van die Weskus Biosfeer- Reservaat plaas en ek doen ’n beroep op alle toeskouers om nie rommel te strooi nie; om nie op die heinings of hekpale te staan nie; om ’n goeie distansie van die pad af te parkeer; om nie enige vure aan te steek nie aangesien vuurmaak in dié gebied verbode is; om die renbeamptes te gehoorsaam en die belangrikste van alles, om ander padgebruikers te respekteer deur verantwoordelik te bestuur.”

Die Nissan-handelaars 400 begin Vrydag, 22 April, om 13h00 met ’n 42 km-voorren en die hoofren, wat uit drie rondtes van ’n 115 km-roete sal bestaan, begin Saterdag, 23 April, om 08h00.

Related Articles
NWM T1+

Ford Debuts Latest NWM T1+ Ranger Bakkie for 2024 Season