Die Trots Suid-Afrikaanse Nissan-veldrenspan het die Mafikeng 500, die sesde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat die afgelope naweek in die Noordwes-Provinsie plaasgevind het, oorheers toe die huidige Produksievoertuigkampioene, Hannes Grobler en Richard Leeke van die begin van die ren tot die einde voorgeloop het om hul derde oorwinning vir die seisoen in te palm.
Grobler en Leeke het 1 min 20 sekondes voor hul spanmaats, Giniel de Villiers en Francois Jordaan wat 21ste weggespring het die kragstuur van hul Nissan Hardbody gedurende Vrydag se 35 km-voorren die probleme gegee het. Die voormalige Produksievoertuigkampioene en wenners van die twee renne dié seisoen, het aanvanklik in die uiterse stowwerige toestande gesukkel om by die Ford Racing Ranger van Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer verby te kom, maar nadat hulle daarin geslaag het, kon hulle hul Nissan-spanmaats najaag. Ten spyte daarvan dat hulle met meer as vier minute die vinnigste tyd gedurende die tweede sirkelroete opgestel het, kon De Villiers en Jordaan nie die wenners vang nie.
Woolridge en Skjöldhammer moes met die derde posisie tevrede wees – amper amper agt minute agter die voorlopers – en het gekla dat alhoewel die Ford oor die potensiaal beskik om in die meer tegniese gedeeltes by die Nissans te hou, dit in die vinniger dele (waarvan daar heelwat tydens die Mafikeng 500 was) net nie kon byhou nie.
Alfie Cox en Ralph Pitchford het vierde algeheel klaargemaak en hul vyfde agtereenvolgende Klas D-oorwinning in die Arnold Chatz Cars-Nissan Hardbody behaal, maar hulle moes vir hul oorwinning baklei. Manfred Schröder en Jack Peckham was op die pas met hul Ford Racing Ranger en was die vinnigste in die voorren. Hulle het plekke met Mark Cronje en Chris Birkin in die Castrol-Toyota Hilux 2,7i en die Nissan-span vir die grootste gedeelte van die eerste rondte van die hoofren geruil, maar moes uiteindelik as gevolg van ‘n stukkende dryfas onttrek. Cronje en Birkin het vyfde algeheel klaargemaak en was tweede in Klas D om sodoende hul hoop om die kampioenskap lewendig te hou.
Twee privaat-Toyota-spanne het die fabrieksgesteunde Castrol-Toyota-spanne in Klas E vir viersilinder- vierwielaangedrewe voertuie met beperkte modifikasies ore aangesit. Chris Visser en Japie Badenhorst (Tyco-Toyota Hilux 2,7i) was sesde algeheel terwyl die Sun City 400-wenners, Hein Moolman en Cecil Fincham sewende was en tweede in die Klas E in die 4×4 Mega World-Toyota Hilux KZ-TE. Moolman en Fincham het van die begin af voorgeloop, maar het naby aan die einde ’n pap band opgedoen en moes toekyk hoe hul plaasbure, Visser en Badenhorst, by hulle verby kom om met 52 sekondes te wen.
Baie maande se ontwikkelingswerk aan die Bosal/N1 4×4-Toyota Hilux begin nou vir pa en seun, Cliff en Louis Weichelt wys en hulle was agtste algeheel en derde in Klas D net voor Gavin Cronje en Robin Houghton in die Klas E-Castrol-Toyota Hilux 2,7i en die huidige Klas D-kampioene, Hein Grobler en Gerhard Prinsloo in die Klas D-GBS Racing-Nissan Hardbody wat die top tien afgerond het.
Twee-en-twintig van die 31 spanne wat in die produksievoertuigafdeling begin het, kon die ren voltooi.
Die Spesiale Voertuigkategorie het na regte nóg ‘n oorwinning vir Nissan besorg deurdat Gary Bertholdt en Siegfriend Rousseau se Advansoft-BAT deur ‘n Nissan V6-enjin aangedryf word soortgelyk aan dié wat in die fabrieksingeskrewe Hardbody-bakkies gepas word. Die huidige Klas A-jaerskampioen, Bertholdt, en Rousseau het besluit om vir die res van die seisoen van Klas D na Klas A terug te skuif en het gou bewys dat hulle weer eens ‘n span sal wees om in die Spesiale Voertuigkategorie mee rekening te hou. Ten spyte daarvan dat hulle gedurende die voorren verdwaal het en Saterdagoggend in die 50ste posisie moes wegspring, het die span hul pad deur die veld oopgejaag om die vinnigste tyd vir die eerste rondte en die derde vinnigste tyd vir die tweede rondte op te stel en 10 min 51 sekondes voor die vroeëre voorlopers, John Weir-Smith en Joe Lima in die Kopanong Hotel Superteam-Jimco klaar te maak. Weir-Smith, die Lesotho Sun 400-wenner, het die voorloperposisie 20 km voor die einde verloor deurdat hy ‘n pap band opgedoen het.
Frikkie Botha en Blackie Swart (Procoat-Jimco) het hul eerste ren van die seisoen voltooi en was derde algeheel en in Klas A met Mohammed Noble en Richard Hope van Botswana in die Abe’s Furniture-Jimco vierde en eerste in Klas S.
Shameer Variawa en Nadeem Dudhia het verskeie probleme in die Oven Fresh Biscuits-Porter oorkom, wat ingesluit het dat hulle bykans heel laaste moes wespring nadat die enjin op die wegspringrooster uitgesny het terwyl hulle ook in ’n donga vasgeval het, en het vyfde algeheel klaargemaak terwyl hulle vierde in Klas A was terwyl nóg ’n span wat aan die einde van die veld moes begin, Terence Marsh en Mike Whitehouse, hul Nashua Mobile-Jimco in die sesde plek en vyfde in Klas A by die einde aangebring het.
Die KZN-boer, Marcus Taylor en Marc de Chalain, was sewende en eerste in Klas B in die JRE en het hul kampioenskapvoorsprong bo die huidige Spesiale Voertuigjaerskampioen, Giel Nel, wat agtste algeheel was en tweede in die Klas B-LUK/Ate-Truggy klaargemaak het, verstewig.
Atang Makgekgenene en Buks Carolin het ’n ren beleef wat hul eerder sal wil vergeet nadat hulle vir bykans ’n uur deur die Total-Jimco se brandstofondervoeringprobleme vertraag is. Ten spyte van die frustrasie dat hulle nie vir die voorloperposisie kon baklei nie en met die negende posisie tevrede moes wees, het Makgekgenene genoeg punte ingesamel om aan hom die Spesiale Voertuigjaerskampioenskapstitel in Klass A te besorg met twee renne nog oor.
Die veteraan, Ernest Corbett en sy skoonseun, Warwick Goosen, was tiende en derde in Klas B in die Century Property Development-BAT.
Klas B-voertuie waarvan vier die plaaslik-ontwerpte en -vervaardigde Zarco Lite was, het die oorblywende sewende posisies ingeneem.
Sewentien van die 28 Spesiale Voertuigspanne wat die ren aangepak het, kon die Mafikeng 500 voltooi met sommige van die onttrekkings dié van Mark Corbett en Juan Möhr in die Century Property Development-BAT (ratkasprobleme); Henry Kirstein en Renier Jooste in die Atlas Copco-BAT (skade op agterste veringstelsel); Bevan Bertholdt en Nick Selamolela in die Itech-BAT (kragstuurprobleme) en Nick Harper en Andrew Chalupsky in die BAT (silinderkoppakstuk).
Total, Atlas Copco, O’Hagan’s, First Prize Trophies, ATS Motorsport Supplies en die Noordwes-Parke- en Toerisme het tot die Mafikeng 500 se redding gekom nadat verlede jaar se borg onttrek het.
Die volgende ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap is die Toyota-Handelaars 400 in die Lydenburg-omgewing op 22 en 23 Oktober.