Nissan Motorsport se span Trots Suid-Afrikaans-Nissan Hardbody-veldrenbakkies is die gunstelinge in die derde ronde van die 2004-Suid-Afrikaanse Absa-veldrenkampioenskap in Botswana dié naweek (11, 12 en 13 Junie). Die Midrandse span is daarop uit om hul derde agtereenvolgende oorwinning in die Toyota 1 000-Woenstynren te beklink en ook hul derde agtereenvolgende oorwinning in die derde van vanjaar se veldrenne aan te teken.
Die verdedigende veldrenkampioene Hannes Grobler en Richard Leeke hou styf duime vas dat hulle hul oorwinning in verlede jaar se Woestynren sal kan herhaal. Hulle was toe voor hul spanmaats Giniel de Villiers en Francois Jordaan in wat ’n oorheersende Nissan 1-2 in die seisoen se langste byeenkoms was. Grobler en Leeke het ook dié Botswana-ren in 2002 gewen.
Grobler-hulle het ’n voorsprong van 77 punte in die 2004-Absa-veldrenkampioenskap nadat hulle in die seisoen se openingsbyeenkoms, die Nissan Handelaars-400 in Darling in die Wes-Kaap, as naaswenners agter De Villiers en Jordaan geëindig het, en daarna die Nissan Sugarbelt 400 in KwaZulu Natal, wat in April beslis is, gewen het. Hulle is ook voor in Klas T (vir omgeboude produksievoertuie) het hul spanmaats De Villiers en Jordaan tweede met 69 punte, en Ford se Klas T-span Neil Woolridge en Kenny Skjoldhammer (62 punte).
Hul grootste teenstand sal uit die Nissan-geledere kom – hul Trots Suid-Afrikaans-Nissan-spanmaats Glyn Hall en Jordaan asook Duncan Vos/Hennie ter Stege in hul Klas T-Hardbody V6-dubbelkajuit-bakkies, terwyl die 2001-Woestynrenwenners Woolridge en Skjoldhammer ook hul slag in hul Ford Ranger V6 sal lewer.
Hall, bestuurder van Nissan Motorsport en die Suid-Afrikaanse Tydrenkampioen van 1999, maak ’n onverwagte terugkeer tot aktiewe deelname ná ’n breuk van 12 jaar om in te staan vir De Villiers, wat sy elmboog gebreek het terwl hy op sy bergfiets geoefen het.
’n Mens sal kan verwag dat Hall sowel as Woolridge, wat ’n oud-veldrenkampioen is, Grobler geen genade in die Botswana-woestyn sal toon nie… Vos, wat die 2002-veldrenkampioenskap in ’n bykans standaard sessilinder-Klas D-Nissan Hardbody gewen het, is steeds daarop uit om sý eerste oorwinning aan te teken sedert hy verlede jaar na Klas T opgeskuif het en drie keer met die hulp van sy vorige navigator, Mike Griffith, as naaswenner geëindig het.
Nissan is danksy uitstekende steun van ’n string pirvate jaers los voor in die vervaardigerskampioenskap met 306 punte teenoor Toyota wat 183 punte het en Ford met 138.
“Ons aanvaar niks as vanselfsprekend nie,” het Hall gesê. “Ons beleef ’n goeie lopie, maar ons werk net so hard daaraan om in dié uiters mededingende vorm van motorsport voor te bly. Die Toyota 1000-Woestynren is veral ’n baie strawwe ren en twee keer die lengte van ’n gewone kampioenskapsbyeenkoms. Die sanderige paaie en hoëspoed-gedeeltes is ’n groot uitdaging.”
Die amptelike fabriekspan sal gesteun word deur ’n groot kontingent private Nissan-jaers. Die veelvuldige Suid-Afrikaanse veldren- en enduro-motorfietskampioen Alfie Cox is steeds besig om ’n ieder en ’n elk met sy vertoning op vier wiele te beïndruk en hy is weer ’n gunsteling in Klas D in sy Nissan Motorsport-voorbereide Arnold Chatz Cars-Nissan Hardbody.
Cox se twee klas-oorwinnings verlede jaar met Hennie ter Stege langs hom in sy heel eerste veldrenseisoen op vier wiele is tot dusver vanjaar gevolg deur ’n netjiese klasoorwinning in die uiters mededingende Klas D, en vyfde algeheel in die onlangse Nissan Sugarbelt 400 in April – dié keer met Ralph Pitchford langs hom in die navigatorsitplek. Hulle is huidiglik vyfde op die Klas D-punteleer en 31 punte agter die klasvoorlopers Mark Cronjé/Chris Birkin (Castrol Toyota Hilux) wat 46 punte het.
Die verdedigende Klas D-kampioene, Hein Grobler en Gerhard Prinsloo, is aan die voorpunt van die Gearbox Services-renspan se drie goue Nissan Hardbody-bakkies. Die ander GBS Racing-jaers is die veldren-egpaar JP en Linda Augustin en Johan Gerber/Coetzee Labuschagne, terwyl Arnold du Plessis en George Baker in hul BB Auto-Nissan Hardbody ook in Klas D jaag.
Die private Nissan Hardbody-jaers in Klas E (vir bykans standaard viersilinder-produksievoertuie) sluit die Van der Walt-egpaar Neels en Zelda en die Du Plessis-broers Jurie en André in hul BB Auto-gesteunde inskrywing in. Die Van der Walts het ’n indrukwekkende wegspring aan die begin van die seisoen in hul nuwe diesel-aangedrewe Hardbody gehad en telkens tweede in hul klas in die seisoen se eerste twee renne geëindig. Hulle is nou tweede op die Klas E-punteleer agter die klasvoorlopers Hugo en Jaap de Bruyn (Toyota Hilux).