Die Nissan Sugarbelt 400, tweede ronde van die Suid-Afrikaanse ABSA-veldrenkampioenskap, word die naweek van 23 en 24 April in die Eston-omgewing in KwaZulu-Natal beslis en Nissan is daarop uit om sy oorheersing van dié gewilde jaarlikse byeenkoms voort te sit en dit ’n vierde keer agtereenvolgens te wen.
Sedert Nissan sy motorsport-aandag in 2001 voltyds op die Suid-Afrikaanse Veldrenkampioenskap begin fokus het (nadat hy die nasionale toermotorreeks vir vier jaar oorheers het) het die Nissan Motorsport-span van Midrand die Nissan Sugarbelt 400 drie keer in ’n ry met sy Suid-Afrikaans-geboude Nissan Hardbody-bakkie met sy kragtige 3,5 liter-enjin gewen.
Die viermalige Suid-Afrikaanse toermotorkampioen Giniel de Villiers en sy navigator, Francois Jordaan, wat in Klas T vir omgeboude produksievoertuie deelneem, het die byeenkoms in 2001 gewen toe hulle op pad was om hul eerste nasionale veldrenkampioenskap te wen. Hulle het die KwaZulu-Natalse byeenkoms weer in 2002 in hul Trots Suid-Afrikaans-Hardbody gewen en sodoende Nissan se ongeëwenaarde oorwinningstog van 14 renne begin wat eers in die laaste ronde van die 2003-kampioenskap, die Carnival City Casino 400, ten einde geloop het.
Die gewese Suid-Afrikaanse veldrenkampioene Hannes Grobler en Richard Leeke het die geruite vlag in die Nissan Sugarbelt 400 in 2003 geneem in ’n jaar waarin hulle die kampioenskap geheel en al oorheers het en ses van die seisoen se agt renne gewen het om die jaers- en navigatorskampioenskappe onderskeidelik te beklink.
Nissan het ’n perfekte wegspring in die 2004-seisoen gehad deur die openingsronde van die seisoen, die Nissan Handelaars-400 wat in Maart in die Wes-Kaap gehou is, te wen. Dié keer was dit De Villiers en Jordaan wat die algehele louere voor Grobler en Leeke ingeoes het, en die twee Trots Suid-Afrikaans-Hardbody-bakkies het sodoende weer bewys dat hulle die beste in die renveld is. Dit was Nissan se 19e oorwinning in die 25 nasionale kampioenskapsveldrenne waaraan die span deelgeneem het en die negende keer dat die span die eerste twee posisies beklink het.
Die Nissan Sugarbelt 400 is vir die derde lid van die amptelike Nissan Motorsport-span, die 2002-kampioen Duncan Vos, die ideale geleentheid om sy eerste algehele oorwinning aan te teken nadat hy verlede jaar tot die geledere van die Klas T-brigade opgeskuif het nadat hy die algehele jaerskampioenskap die vorige jaar in ’n bykans standaard Klas D-sessilinder-Nissan Hardbody gewen het.
Vos het verlede jaar drie keer in die tweede posisie in sy Klas T-Hardbody geëindig, en met die ervare navigator Hennie ter Stege wat van vanjaar af die roetenotas langs hom voorlees nadat Vos se vorige navigator, Mike Griffith, uitgetree het, is die gewese toermotorjaer daarop uit om dié naweek die boonste trappie van die podium in te neem.
Die veelvuldige Suid-Afrikaanse motorfiets-veldrenkampioen Alfie Cox en sy navigator Ralph Pitchford is aan die voorpunt van ’n sterk kontingent private Nissan-jaers wat hulle vir die Nissan Sugarbelt 400 ingeskryf het. Cox het verlede jaar ’n belowende produksiemotor-buiging in die Arnold Chatz Cars-Klas D-Hardbody gemaak en dié uiters mededingende klas twee keer gewen.
Die verdedigende Klas D-kampioene Hein Grobler en Gerhard Prinsloo is aan die voorpunt van die private GBS Racing-renspan se Nissan Hardbody-bakkies. Hul spanmaats is JP en Linda Augustin en Coetzee Labuschagne/Johan Gerber. Arnold du Plessis en George Baker jaag ook in Klas D in hul BB Auto Nissan Hardbody.
Nissan word ook deur private Hardbody-jaers in Klas E (vir bykans standaard-viersilinder-produksievoertuie) verteenwoordig deur die veldren-egpaar Neels en Zelda van der Walt en die Du Plessis-broers Jurie en André (BB Auto Hardbody).