Nissan het die opposisie tydens die Sun City 400, die sesde ronde van die SA Veldrenkampioenskap wat deur Absa aangebied word, dié naweek in die Pilanesberg-area oorweldig deur die eerste en tweede plekke algeheel in die Produksievoertuig- sowel as die eerste en tweede plekke in die Spesiale Voertuigkategorieë in te palm terwyl hulle ook vier klasoorwinnings behaal het.
Daar was nie keer aan die Produksievoertuigkampioenskapvoorlopers, Hannes Grobler en Richard Leeke in die Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody nie en hulle was reeds amper 16 minute tuis voor die wenners van die Spesiale Voertuigkategorie, Gary Bertholdt en Brandon Harcus in die Nissan V6-aangedrewe Adrenalise Corporate Entertainment-BAT die eindpunt in die tweede posisie algeheel bereik het. Dit was dié BAT-span se tweede agtereenvolgende oorwinning en ‘n triomf vir ‘n plaaslik-ontwerpte vervaardigde veldrenvoertuig.
Die heersende Produksievoertuigkampioene, Duncan Vos en Mike Griffiths, het derde algeheel en tweede in die Produksievoertuigkategorie met hul Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody klaargemaak en is oor die eindstreep gevolg deur Clint Gibson in die tweeliter-Nissan-aangedrewe Klas B-Praesidium Financial Services-BAT. Gibson het sy derde agterteenvolgende Klas B-oorwinning behaal, maar dié keer sonder sy navigator, Mike Brown, wat net na die voorren moes onttrek nadat sy 18 maande-oue baba Vrydag in die hospitaal opgeneem is.
Die Klas E-kampioenskapvoorlopers, Mark Cronje en Chris Birkin (Castrol-Toyota Hilux 2700i) was in beheer van sake in die Klas E-stryd en ten spyte van drie pap bande, het hulle vyfde algeheel en derde in die Produksievoertuigkategorie geëindig terwyl hulle ook met die louere in dié klas weggeloop het.
Hein Grobler en Gerhard Prinsloo het aan Nissan hul vierde klasoorwinning besorg toe hulle die eindstreep in die sesde plek algeheel en eerste in Klas D in hul GBS Racing-Nissan Hardbody oorgesteek het. Hul spanmaats, Coetzee Labuschagne en Johan Gerber was tweede in dié klas terwyl MC Coetzee en Johan Liebenberg hulself uit die ren gerol het en JP en Linda Augustin as gevolg van veringstelselprobleme moes onttrek.
Maande se ontwikkeling het uiteindelik vrugte vir die Nashua Mobile Racing-span, Terence Marsh en Trevor Ahier, afgewerp toe hulle sewende algeheel, derde in die Spesiale Voertuigkategorie en tweede in Klas A geëindig het. Dertien minute agter hulle was John Moore en Fred Werner in die Klas A-Shell/Connix-Chenowth wat nou sterk mededingers in die Klas A-kampioenskap is nadat Atang Makgekgenene en Vic Campher (Total/SAM Racing-Jimco) asook Gerald Mundell en Billy Bond (Prolong-BAT) as gevolg van enjin- en ratkaskasprobleme onderskeidelik die handdoek moes ingooi.
Die veteraan, Kassie Coetzee en Ockie Fourie, wat vir die eerste keer pa geword het, het negende algeheel klaargemaak terwyl hulle ook vyfde in die Produksievoertuigafdeling was en tweede in Klas E met hul Castrol-Toyota Hilux KZ-TE geëindig het. Die broers, Jurie en André du Plessis het tiende algeheel klaargemaak en was die sesde Produksievoertuig tuis terwyl hulle die derde plek in Klas E in hul BB Auto-Nissan Hardbody ingeneem het.
In die Produksievoertuigkategorie was die Nissans van Grobler/Leeke, Vos/Griffiths en Giniel de Villiers/Francois Jordaan asook die Ford Racing Ranger-span van Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer en die Castrol-Toyota Land Cruiser van Apie Reyneke en Robin Houghton in ‘n stewige stryd gewikkel gedurende die eerste twee van die drie 130 km-rondtes. De Villiers en Jordaan het drie dryfaste gebreek terwyl die kragstuur en later die battery van Woolridge en Skjöldhammer se Ford tydens die derde rondte die gees gegee het. Die ratkas van Reyneke en Houghton se Toyota het nie gehou nie en al drie dié spanne kon nie die ren voltooi nie.
Die Belg, Gregoire de Mevius en “VZ” van Zyl het ‘n nagmerrietyd gedurende die voorren beleef en het die hoofren in die 33ste plek begin, maar hulle het hul Audi V8-aangedrewe Adrenalise Corporate Entertainment-BAT uiteindelik begin verstaan en het teen die einde van die eerste rondte tot in die negende posisie opgeskuif. De Mevius moes later as gevolg van maagkrampe onttrek.
Slegs 21 van die 68 spanne kon dit tot by die einde van dié ren, wat deur heelwat deelnemers as die taaiste tot dusver dié seisoen beskryf word, maak.
Produksievoertuiguitslae:
1. Hannes Grobler/Richard Leeke Nissan Klas T
2. Duncan Vos/Mike Griffiths Nissan Klas T
3. Mark Cronje/Chris Birkin Toyota Klas E
4. Hein Grobler/Gerhard Prinsloo Nissan Klas D
5. Kassie Coetzee/Ockie Fourie Toyota Klas E
6. Jurie du Plessis/Andre du Plessis Nissan Klas E
7. Arnold du Plessis/George Baker Nissan Klas D
8. Scott Abraham/Richard Carolin Jeep Klas T
9. Coetzee Labuschagne/Johan Gerber Nissan Klas D
Spesiale Voertuie Uitslae:
1. Gary Bertholdt/Brandon Harcus BAT Klas A
2. Clint Gibson BAT Klas B
3. Terence Marsh/Trevor Ahier Jimco Klas A
4. John Moore/Fred Werner Chenowth Klas A
5. Rashid Noble/Faizal Noble Aceco Klas A
6. Marcus Taylor/Marc de Chalain JRE Klas B
7. Giel Nel Truggy Klas B
8. Sam Moolla/Feroz Doodah Jimco Klas A
9. Bez Bezuidenhout/Deon Bezuidenhout Sandmaster Klas B
10. Mohammed Noor/Mohammed Moultsen Raceco Klas S
11. Nic Goslar/Warren Bowie Raceco Klas S
12. Andrew Fulton/Janet Fulton Sandmaster Klas B