Nissan Motorsport se topjaers Hannes Grobler en Richard Leeke is daarop uit om hul oortuigende oorwinning van verlede jaar te herhaal en sodoende Nissan se oorwinningstog tot ses uit ses te verleng wanneer hulle hul Trots Suid-Afrikaans-Nissan Hardbody die naweek van 24 en 25 September vir die sesde ronde van die Suid-Afrikaanse Absa-veldrenkampioenskap, die Mafikeng 500 in die Noordwes-provinsie, op die wegspringstreep parkeer.
Grobler en Leeke, wat twee van die seisoen se vyf renne tot dusver gewen het – die Nissan Sugarbelt 400 en die Toyota 1000-Woestynren – het ’n skralle voorsprong van slegs 1 punt in die algehele kampioenskap sowel as in Klas T vir omgeboude produksievoertuie, teenoor hul spanmaats Giniel de Villiers en Francois Jordaan, wenners van die Nissan Handelaars 400 en die Sun City 400, in die tweede posisie.
Beide dié spanne het tot dusver ’n nulletjie elk in een byeenkoms gehad – De Villiers omdat hy die Woestynren misgeloop het nadat hy sy elmboog in ’n bergfiets-ongeluk beseer het, en Grobler weens ’n ongewone komponent-probleem in die vorige byeenkoms, die onlangse Lesotho Sun 400.
Nissan, wat skoonskip gemaak het in elk van die seisoen se vyf byeenkomste tot dusver – Duncan Vos en Hennie ter Stege het hul eerste oorwinning as ‘n span gevier toe hulle die Lesotho Sun 400 in Augustus in hul Klas T-Trots Suid-Afrikaans-Hardbody gewen het – is daarop uit om hul segetog van vanjaar voort te sit en hul oorheersing van nasionale kampioenskapsveldrenne tot 24 oorwinnings in 30 renne te verleng.
Nissan is sterk op koers om sy vierde agtereenvolgende jaerskampioenskap te wen (De Villiers was die kampioen in 2001, Vos in 2002 en Grobler in 2003) en met ’n voorsprong van 289 punte voor die naasvoorlopers in ’n Toyota met nog drie byeenkomste voor die einde van die seisoen, is Nissan so te sê verseker van sy vierde agtereenvolgende vervaardigerskampioenskap sedert hy die eerste keer in 2001 as fabriekspan aan veldrenne begin deelneem het.
Die Nissan-motorsportspan was tussen byeenkomste hard aan die werk deur elk van hul rooi en grys veldrenvoertuie geheel en al te stroop en te herbou. “Ons fokus ter voorbereiding vir hierdie byeenkoms het op algehele betroubaarheid geval,” het Glyn Hall, bestuurder van Nissan Motorsport, gesê. “’n Hoëdruk-kragstuurpyp wat uit sy passtuk losgekom het, het in die vorige byeenkoms daarvoor gesorg dat Hannes se motor die eerste keer vanjaar ’n byeenkoms nié kon voltooi nie.
Ons het dit reggemaak en ‘n hoëdruktoets op elkeen van ons bakkies gedoen, en ons is vol vertroue dat dit ’n komponent-onklaarraking was wat nie gou weer sal voorkom nie,” het Hall gesê.
Die veelvouldige oud-motorfiets-veldren- en eduro-kampioen Alfie Cox, wat maar in sy tweede volle seisoen op vier wiele jaag – en die eerste saam met sy mede-oud-motorfietsjaer Ralph Pitchford – het hom stewig gevestig as die gunsteling in Klas D (vir bykans standaard sessilinder-voertuie).
Cox-hulle het hul klas oortuigend in hul Nissan Motorsport-voorbereide Arnold Chatz Cars-Nissan Hardbody in elk van die vorige vier byeenkomste gewen en is ’n merkwaardige derde algeheel in die produksievoertuig-kampioenskap – ’n enkele punt voor die Klas T-Ford Ranger-oudkampioene Neil Woolridge en Kenny Skjoldhammer, en ’n gerieflike 31 punte voor hul naaste Klas D-mededingers, Mark Cronjé en Chris Birkin (Castrol-Toyota Hilux).
Die ander private Nissan-jaers sal almal hoop hulle het ’n bietjie meer geluk aan hul kant as wat hulle in die Lesotho-byeenkoms gehad het. Dié ren was buitengewoon straf op die voertuie en net sewe produksievoertuie (waaronder drie van die Nissan Motorsport-span) het die byeenkoms suksesvol voltooi.
Hein Grobler is terug saam met sy gereelde navigator, Gerhard Prinsloo, in die Klas D-GBS Racing-Nissan Hardbody nadat hy die Lesotho-byeenkoms misgeloop het. Grobler-hulle, wat die verdedigende Klas D-kampioene is, het ’n frustrerende seisoen agter die rug tot dusver weens meganiese probleme, en het in vier byeenkomste nie een keer klaargemaak nie, maar is gretig om dié droogte in die Mafikeng 400 te breek.
Hulle word gesteun deur hul GBS Racing-spanmaats Johan Gerber en Coetzee Labuschagne asook JP Augustin en Johan Doubell in soortgelyke Klas D-Hardbody-bakkies. Die BB Auto Hardbody van Arnold du Plessis en George Baker, wat baie ongelukkig was om net-net nie die afsnytyd in Lesotho te haal nie ten spyte van die feit dat hulle die volle renafstand voltooi het, jaag ook in Klas D.
Nissan se uitdagers in die ewe mededingende Klas E (vir bykans standaard viersilinder-produksievoertuie) is weer in die vorm van die veldren-egpaar Neels en Zelda van der Walt in hul diesel-Hardbody, asook die Du Plessis-broers Jurie en André in die tweede BB Auto Hardbody. Die Van der Walts is tweede in die klasstryd – 39 punte agter Hugo en Jaap de Bruyn (Toyota Hilux), en ’n merkwaardige negende in die algehele kampioenskap. Die Du Plessis-broers is vierde in die Klas E-kampioenskap.