Die Nissan Motorsport-jaers Duncan Vos en Hennie ter Stege het hul eerste nasionale kampioenskapsveldren van die jaar gewen toe hulle hul Trots Suid-Afrikaans-Nissan Hardbody Saterdag naby Maseru in ’n welverdiende oorwinning in die Lesotho Sun 400, vyfde ronde van die Suid-Afrikaanse Absa-veldrenkampioenskap, eerste oor die wenstreep gestuur het.
Net sewe van die 25 produksievoertuie wat weggespring het, het die moordende ren oor 340 km oor die sogenaamde ‘Dak van Afrika’ voltooi –met die eerste drie almal Nissan Hardbody-bakkies wat deur Nissan Motorsport gebou en voorberei is.
Vos en Ter Stege het Klas T vir omgeboude produksievoertuie gewen met hul spanmaats Giniel de Villiers en Francois Jordaan in die tweede posisie. Alfie Cox en Ralph Pitchford, wat Klas D (vir bykans standard-sessilinder-voertuie) in hul Arnold Chatz Cars-Hardbody die vierde agtereenvolgende keer gewen het, was derde.
Nissan het nou al vyf vanjaar se renne gewen en hul oorheersing in Suid-Afrikaanse veldrenne tot 23 oorwinnings in 29 renne sedert 2001 verleng. Al drie die Nissan Motorsport-spanne wat aan die Klas T-kampioenskap in hul superbakkies deelneem, het vanjaar al ’n oorwinning geproe.
De Villiers en Jordaan, die 2001-kampioene, het die eerste en vierde rondes van die 2004-kampioenskap gewen, terwyl die verdedigende kampioene, Hannes Grobler en Richard Leeke, die ander twee voor die naweek se Lesotho-byeenkoms gewen het. Grobler en Leeke is uit die Lesotho-byeenkoms gedwing terwyl hulle tweede agter Vos en Ter Stege was nadat ’n kragstuurpyp in die eerste van die byeenkoms se twee 170 km-rondtes uitgetrek het.
Grobler en Leeke is, ten spyte van die feit dat hulle nie die byeenkoms voltooi het en dus geen punte kon aanteken nie, steeds voor in die kampioenskap. Hulle het 150 punte en is nog een enkele punt voor De Villiers en Jordaan, wat tot tweede opgeskuif het. Cox en Pitchford is nou vierde algeheel met 131 punte – net een punt agter die Ford-jaers Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer ook geen punte vir die Lesoth-ren ingesamel het nie omdat hulle nie Saterdag die wegspring in hul Klas T-Ford Ranger aangedurf het nie nadat Skjöldhammer oornag siek geword het.
Vos was oorstelp met sy eerste oorwinning van die seisoen nadat hy van Klas D ná sy kampioenskapsjaar in 2002 tot die top-klas opgeskuif het. “Ek is baie verlig om uiteindelik my eerste oorwinning aan te teken en ek moet my span bedank dat hulle so goeie motor vir my voorberei het. Ons het geen probleme hoegenaamd opgedoen nie en Hennie het ’n paar keer goeie besluite uit die navigatorsitplek gemaak. Dit was ’n fantastiese ren met Giniel en Hannes aan die begin, en Giniel was tot reg by die einde ’n groot bedreiging.” De Villiers, wat saam met Jordaan die 2001-kampioenskap gewen het, het die terugkeer van nasionale kampioenskapsveldrenne na Lesotho bestempel as die strafste veldren warin hy nog in Suider-Afrika gejaag het. “Dit was só rof dat ons vir omtrent 60% van die ren eerste en tweede rat gebruik het. Die feit dat dit ons bykans sewe en ’n half uur geneem het om net 340 km af te lê, gee ’n goeie aanduiding van net hoe moeilik die terrein in werklikheid was,” het hy gesê.
“Dit is dus danksy die taaiheid van die Nissan Hardbody en die behoorlike voorbereiding deur ons tegniese span dat ons dié veeleisende byeenkoms sonder ’n enkele tegniese probleem kon voltooi,” het hy bygevoeg.
De Villiers en Jordaan was die vinnigste in Vrydag se voorren oor 40 km en het in die eerste 20 km of so van die hoofren voor gejaag totdat hulle verkeerd afgedraai en ’n paar minute verloor het. Toe Grobler en Leeke ’n soortgelyke fout begaan nadat hulle eerste by die eerste dienspunt sowat 80 km ná die wegspring aangekom het, het Vos en Ter Stege, wat derde weggespring het ná ’n navigasiefout in die voorren , die voortou oorgeneem en tot die einde daar gebly.
Die gewese veelvuldige veldren- en enduro-motorfietskampioen Alfie Cox was ewe in sy noppies met sy en Pitchford se vierde agtereenvolgende Klas D-oorwinning. “Dit was ’n groot mylpaal om ’n taai byeenkoms soos hierdie te kon voltooi, en om Klas D weer te wen en dít met ’n derde posisie algeheel, was werklik fantasties. Ek kan nie ons tegniese ondersteuningspan genoeg aanprys nie – die motor was perfek en die betroubaarheid met vier agtereenvolgende klasoorwinnings is net fantasties,” het ’n opgewonde Cox gesê. Hy en Pitchford was meer as ’n uur voor die naaswenners in Klas D, die fabrieksingeskrewe Castrol Toyota Hilux van Mark Cronjé en Chris Birkin.
Die Nissan Motorsport-bestuurder Glyn Hall was ook vol lof vir sy span se vertoning. “Dit was ’n groot spanpoging. Ons het geweet dit gaan ’n strawwe byeenkoms wees. Ons het egter niks spesiaals gedoen nie. Ons het net al die motors ná verlede maand se Sun City-veldren, wat ook maar baie rof was, fyn deurgekam. Duncan en Hennie verdien hul oorwinning terdeë. Die probleem wat Hannes en Richard gekniehalter het, was ongelukkig. ’n Onderdeel soos dié breek gewoonlik nie, en dit was nie iets wat ons in die omstandighede en toestande daar en dan herstel kon kry nie.”
Nissan se lojale private jaers het in die byeenkoms nogal gesukkel en kon nie die volle renafstand in die toegelate tyd voltooi nie. Arnold du Plessis en George Baker was die naaste in hul Klas D-BB Auto Hardbody, nadat hulle goed herstel het van vroeëre probleme met ’n foutiewe rekenaar en te min enjintoere wat daartoe gelei het dat hulle vir die tweede ronde te laat vir die afsnytyd was. “Ons moes ook ’n spanningstaaf-hegpunt wat in die eerste rondte gebreek het, by die eerste dienspunt vervang. Dit het ons twee ure gekos, en daarna het ons nog 45 minute verloor om die enjinprobleem te herstel omdat ons nie meer as 2 000 r/min uit die enjin kon kry nie. Ons was aan die einde van die ren net 30 minute te laat om die ren suksesvol te kon voltooi, al het ons die hele renafstand afgelê,” het ’n baie teleurgestelde Du Plessis gesê.
Coetzee Labuschagne en Gerhard Prinsloo, wat in Klas T in hul GBS Racing Hardbody deelgeneem het, het ’n as gebreek en in die eerste tien kilometer van die hoofren uitgeval nadat ’n soortgelyke probleem hulle ook in die voorren uitgeskakel het. Hul spanmaats Johan Gerber en Wiley Harrington het nie veel verder gekom nie en net voor die einde van die eerste rondte uitgeval toe hul bakkie se enjin die gees gegee het.
Die Nissan-veldren-egpaar Neels en Zelda van der Walt is ook in die eerste rondte uitgedwing toe die boonste beheerarm van hul Hardbody met sy turbodieselenjin wat in Klas E (vir bykans standard-viersilinder-voertuie) deelneem, gebreek het.
Jurie en André du Plessis het vir sowat ’n driekwart van die byeenkoms ’n goeie lopie gehad en selfs op een tydstip voor in Klas E in hul BB Auto Hardbody gejaag voordat hulle uitgeval het toe ’n klip halfpad deur die laaste rondte ’n gat in die verkoeler geslaan het.