Die Atlas Copco/Chicago Pneumatic-Jeep-Veldrenspan het ‘n verskeidenheid probleme tydens die onlangse Sun City 400, die sesde ronde van die SA Veldrenkampioenskap wat deur Absa aangebied word, oorkom om nóg ‘n podiumposisie in die uiters-mededingende Klas T vir onbeperkte Superbakkies te behaal.
Klas T is die speelveld vir die alles-oorheersende Trots Suid-Afrikaanse Nissan-span asook die Ford Racing Ranger- en die Castrol-Toyota-fabriekspanne en almal beskik oor die heel beste vierwielaangedrewe voertuie terwyl die Atlas Copco/Chicago Pneumatic-Jeep, wat in 1995 gebou is, heelwat swaarder as die fabrieksinskrywings is en slegs oor tweewielaandrywing beskik.
“Die feit dat ons nie oor vierwielaandrywing beskik nie, veroorsaak dat ons ‘n duidelike agterstand het, veral in sanderige terrein,” het Richard Carolin gesê. “Die Jeep is ook heelwat breër as die fabriekspanne en ons sukkel veral tydens renne met nou, kronkelende dele soos die Sun City 400.
“Ten spyte van dié tekortkominge het ek en Scott Abraham weer eens bewys dat goeie voorbereiding en bestendigheid resultate oplewer en ons is verheug om agtste algeheel in die Produksievoertuigkategorie en derde in Klas T agter die fabriekspanne van Hannes Grobler/Richard Leeke en Duncan Vos/Mike Griffiths te eindig – veral in ‘n ren wat die beste as ‘n ren van hel beskryf kan word.”
‘n Klip het tussen die regteragterste remknyper en die wiel te lande gekom en die knyper uit sy hegtings laat losskeur. Abraham en Carolin is geforseer om te stop en die beskadigde knyper te verwyder en ook die eerste van vier pap bande te ruil wat hulle heelwat tyd gekos het. Deur sonder agterremme te ry, het die rooi monster – wat gewoonlik ‘n handvol is – selfs moeiliker hanteer en boonop het hulle twee keer in ‘n droë rivierbedding vasgeval.
Abraham en Carolin bekleë weer eens die tweede plek in die Klas T-kampioenskap, maar met Abraham wat nou vir die New Dimension X-Raid BMW-Dakar-span in Duitsland werk en dus nie aan die res van die kampioenskap sal kan deelneem nie, is dit heel moontlik dat hy in dié kampioenskap verbygegaan kan word. Hoe dit ook al sy, Carolin en ‘n plaasvervangerjaer wat nog aangewys moet word, sal alles in hul vermoë doen om sy tweede plek in die Klas T-navigatorskampioenskap tydens die komende Toyota-Handelaar 400 in Lydenburg (24/25 Oktober) en die Carnival City Casino 400 (14/15 November) te behou.
“Ek is teleurgesteld dat ek die oorblywende rondes van die kampioenskap gaan mis, maar die geleentheid om vir een van die voorste internasionale spanne te werk, was ‘n kans wat ek nie kon laat verbygaan nie,” het Abraham gesê. “Die Jeep sal in my afwesigheid steeds deur Stratford Voogt voorberei word en ek weet dat dit in goeie hande sal wees en dat dit moontlik is om nóg ‘n podiumposisie in Mpumalanga in te palm.”
“Nie een van ons suksesse sou moontlik gewees het sonder die entoesiastiese ondersteuning wat ons van Atlas Copco, Chicago Pneumatic, Goodyear, Sasol Dual Fuel, Milwaukee, AEG Power Tools, Univer, Lubrequip en National Signs ontvang het nie,” het Abraham bygevoeg.