‘n Nuwe Produksievoertuigklas met sterk vervaardigersverteen-woordiging, sal die 2005 SA Veldrenkampioenskap selfs verder opkikker.
Die Super-Produksieklas sal die nuwe speelveld van die vervaardigers wees terwyl heelwat privaatspanne moontlik ook by dié stryd sal aansluit. Dit behoort ’n uiters mededingende en bekostigbare klas te wees wat tussen die Klas T vir onbeperkte twee- en vierwielaangedrewe voertuie en Klas D vir sessilindervoertuie met beperkte modifikasies sal inpas.
Nissan, Ford en Toyota het ’n ooreenkoms bereik waarin nie een van die partye in Klas T sal deelneem nie en die vervaardigers soos Nissan en Ford wat oor Klas T-voertuie beskik, het onderneem om dit oorsee te verkoop.
Klas T sal met Klas F gekombineer word en sal as Klas F in die toekoms bekend staan en heelparty privaatvoertuie soos Cliff Barker se Land Rover, Cliff Weichelt se N1 4×4-Ford, André Botha se Kopanong Hotel Superteam-Chevy en die Jeep waarmee Scott Abraham en Richard Carolin in 2003 deelgeneem het, akkommodeer.
“Die Super-Produksieklas is ’n opwindende ontwikkeling vir veldrenne en veral vir die Produksievoertuigkategorie,” het die President van MSA se Veldrenvoertuigkommissie, Piet Swanepoel, gesê. “Die bestuur van Nissan, Ford en Toyota het nou reeds vir ’n geruime tyd saam aan die projek gewerk met die uitkyk om gewone onderdele soos ratkaste, remme, veringstelsels en ewenaars te gebruik in ’n poging om koste te verminder en om die speelveld gelyk te maak.”
“Die voertuie sal met V6 of V8-enjins met ’n maksimum kapasieteit van 4,5-liter toegerus word en ons verwag dat dit heelwat daartoe sal bydrae om oorheersing deur enige vervaardiger in die toekoms te beperk.”
Die voertuie sal soortgelyke asafstande en sporing as die huidige Klas T-voertuie hê en sal dieselfde lyk, hanteer en klink en vanuit ’n verrigtingsperspektief, sal daar min verskille wees as topspoed vergelyk word.
Nissan, Ford en Toyota is van voorneme om meer as een span in te skryf en daar is nog twee vervaardigers wat die ontwikkeling hiervan dophou.
Klas D en Klas E vir viersilindervoertuie met beperkte modifikasies sal dieselfde bly en daar word verwag dat dié klasse steeds net so goed ondersteun sal word en dat die mededinging net so straf sal wees as dié seisoen.