Dit was ‘n groot slag vir die O’Hagan’s / Kopanong Hotel Superteam toe hulle hul span van vier voertuie van die onlangse Toyota-Handelaars 400, die voorlaaste ronde van die SA Veldrenvoertuig-kampioenskap wat deur Absa aangebied word, die oggend van die ren weens onverwagte tegniese probleme moes onttrek.
Die O’Hagan’s / Kopanong Hotel Superteam se hoofsaaklike doelstelling sal wees om Nic Goslar se voorsprong in Klas S te beskerm en om André Botha en Beans Heydenrych van die Klas F-kampioenskap in die Superteam-Chevy te verseker.
Goslar deel die voorloperposisie in die kampioenskap met Mohammed Noor en Mohammed Moultsen en moet net voor die Botswana-span klaarmaak om die Klas S-jaerskampioenskap in te palm terwyl Botha en Heydenrych vir Jaap Zeeman en Johannes Barwise in die Ford Cortina-bakkie moet klop om hulle van die Klas F-jaers- en navigatorskampioenskappe te verseker.
Die Toyota 1000-wenners, John Weir-Smith en Geoff Minnitt kan nie meer die Spesiale Voertuig- of Klas A-kampioenskappe wen nie, maar sal steeds alles in hul vermoë doen om die ren algeheel in die Superteam-Jimco te wen.
Die pa- en seun-span, Rob en Gareth Wark, deel die bestuurdersitplek in die Klas B-Superteam-Mighty Mag en ‘n oorwinning tydens die Carnival City Casino 400 kan ‘n gedruis in die hoenderhok veroorsaak sover dit die Klas B-stryd tussen Giel Nel en Marcus Taylor aangaan.
“Die O’Hagan’s / Kopanong Hotel Superteam sal voluit gaan om sy doelstellings na te kom en ek is daarvan oortuig dat ons vertonings nie die duisende toeskouers wat by die Carnival City Casino 400 verwag word, teleur sal stel nie,” het Botha afgesluit.
Die ren begin op Vrydag, 14 November met ‘n vooren van twee rondtes op die kortbaan by Carnival City Casino. Die hoofren begin Saterdag, 15 November om 08:00.