Heelwat prominente deelnemers van die Oos-Rand sal op die wegspringrooster van die Carnival City Casino 400, die laaste ronde van die SA Veldrenvoertuigkampioenskap wat deur Absa aangebied word, en op 14 en 15 Novmeber plaasvind, wees.
Giel Nel, ‘n besigheidsman van Primrose, is ‘n voormalige Klas B-kampioen en staan ‘n kans om die Spesiale Voertuig- en Klas B-jaerskampioenskappe in die Luk Africa-Truggy te wen. Nel is in ’n seisoenlange wipplankstryd met die algehele kampioenskapsvoorlopers, Gerald Mundell en Billy Bond in die kragtiger Klas A-Prolong-BAT gewikkel en sal sy storie moet ken indien hy met die kampioenskapkroon wil wegloop.
Behalwe vir Mundell is daar ook ‘n hele paar ander jaers wat dié veteraanjaer sal wil onttroon en die grootste bedreiging kom van die huidige Klas B-kampioen, Marcus Taylor, asook die wenner van beide die Queen Motor Spares-Tarka 400 én die Sun City 400 en Clint Gibson wat tweede tydens die onlangse Toyota-Handelaar 400 klaargemaak het.
Die Brakpan-gebore Cliff Barker en Vic Campher sal hul privaatingeskrewe MGM Motors-Land Rover in aksie wees en kan moontlik vir ‘n verrassingsoorwinning sorg en selfs die fabrieks-Nissans-, Ford- en Toyota-spanne in die Produksievoertuigkampioenskap opdraande gee. Die span kan nie die kampioenskap wen nie en sal dus alles in hul vermoë doen om by jaers soos Hannes Grobler, Giniel de Villiers, Duncan Vos, Apie Reyneke en die 2001-Carnival City Casino 400-wenner, Neil Woolridge, te hou.
Hendrik Fourie van Germiston het onlangs sy plaaslik-ontwerpte en vervaardigde Zarco, waarmee hy in Klas B deelneem, bekendgestel en sal gretig wees om die meer gevestigde Klas B-spanne aan te vat – veral vir Henry Kirstein en Renier Jooste in die plaaslik-ontwikkelde Atlas Copco-BAT waarmee Clint Gibson drie agtereenvolgende Klas B-oorwinnings behaal het.
Die Carnival City Casino 400 sal ‘n toeskouer-vriendelike byeenkoms wees met ‘n gewilde bring en braai-area waar ‘n feestelike atmosfeer vir entoesiaste en vriende geskep is om bymekaar te kom.
Carnival City Casino-toeskouers sal ook toegang tot kitskosstalletjies, ‘n biertent en toiletfasiliteite hê. Die gedeelte van die roete wat deur die Carnival City-kompleks gaan, is ook oorgedoen en sluit nou bykomende hoëspoed-walle in wat meer aksie behoort op te lewer.
Dit sal aan geesdriftiges ‘n skouspelagtige uitsig van die aksie bied. Toeskouers sal die voertuie drie keer van een punt binne die kompleks kan sien en sal ander toeskouerpunte binne kilometers vanaf Carnival City Casino kan bereik.
Die naweek se aksie sal op Vrydag, 14 November om 12:00 met ‘n voorren begin. Dit behoort heelwat aksie op te lewer en ‘n voorsmakie te wees vir wat lyk na ‘n dramatiese naweek in die wêreld van veldrenne. Die hoofren begin op Saterdag, 15 November om 08:00.