‘n Pap band 20 km voor die einde van die Mafikeng 500, die sesde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap, het die Lesotho Sun 400-wenner, John Weir-Smith en sy plaasvervanger-navigator, Joe Lima, van ’n bykans versekerde oorwinning beroof.
Die Kopanong Hotel Superteam-span het vroeg na die aanvang van die ren in die BMW 540-, V8-aangedrewe Jimco voorgeloop en moes hulpeloos toekyk hoe Gary Bertholdt en Siegfried Rousseau verby hulle gestorm het om ’n oorwinning in die Advansoft-BAT te behaal. Dit blyk asof dieselfde metaalspyker wat Bertholdt laasjaar van ‘n oorwinning tydens dieselfde byeenkoms ontneem het, Weir-Smith se ondergang was.
“Tot die ongeluk 20 km voor die einde van die ren toegeslaan het, het ons ’n probleemvrye ren beleef,” het Weir-Smith gesê. “Ons is natuurlik teleurgesteld, maar terselfdertyd ook baie gelukkig, want dit lyk asof al die meganiese probleme wat ons vir die grootste gedeelte van die seisoen geteister het, nou iets van die verlede is.”
“Die Toyota-Handelaars 400 op 22 en 23 Oktober behoort ’n uiters strawwe geveg in Klas A af te gee en ons is oorgehaal vir ’n stryd ter stryde.”
Chris Fick en Rob Knight het hul beste lopie van die seisoen in die Klas D-Kopanong Hotel Superteam-Land Rover beleef en het ’n top vyf-posisie nagejaag voordat die voorste wielnaaf gebreek het terwyl André Botha en Beans Heydenrych in die Klas F-Superteam Chevy weer eens gedwing was om te onttrek toe die kragstuur opgepak het.
“Die kragstuurprobleem laat ons kopkrap,” het Botha gesê. “Ons het die hele vorige seisoen en vir die eerste helfte van dié jaar sonder probleme deelgeneem en skielik tref ’n vlaag kragstuurprobleme ons.”
“Die voorbereiding van die drie Superteam-voertuie is deesdae uitstekend en niemand kan vir die frustrerende probleme blameer word nie. Ons hoop egter om dit betyds vir die Toyota-Handelaars 400 uitgesorteer te hê.”
Weir-Smith is derde in die Spesiale Voertuig-jaerskampioenskap en staan ‘n buitekans om dié kampioenskap te wen indien hy die volgende twee renne wen en Atang Makgekgenene en Mark Corbett beide renne nie voltooi nie.
Botha en Heydenrych was die hele seisoen die voorlopers in die Klas F-kampioenskap en moet slegs die Toyota-Handelaars 400 voltooi om die kampioenskap te beklink.