‘n Perdekrag-oorlog is besig om in die SA Veldrenvoertuigkampioenskap se Spesiale Voertuigkategorie te ontwikkel – veral tussen deelnemers in die uiters mededingende Klas A vir onbeperkte buisraamvoertuie en die eerste byeenkoms van die seisoen, die Nissan-Handelaar 400 wat op 19 en 20 Maart in die Darling-omgewing plaasvind, behoort ‘n verbitterde stryd te wees.
Tot Junie vanjaar hoef Spesiale Voertuie nie van verrigtingbeperkers gebruik te maak nie – dié reël is verpligtend in die Produksievoertuigafdeling – en intussen sal die spanne ten volle voordeel trek uit die ongelooflike krag wat Porsche-enjins, Chevrolet LT1- en BMW se 540 V8-enjins, Mitsubishi se aangejaagde 3,5 V6-enjin, Nissan V6-, Audi V8- en ‘n Lexus V8-enjin wat in Klas A-voertuie wat tussen 1 000 en 1 400 kg weeg, gepas word.
Die voormalige Spesiale Voertuigkampioen, Shameer Variawa en sy navigator, Zeyn Moolla, keer tot die sport terug in die splinternuwe Oven Fresh Biscuits-Porter wat met ’n 4,6 liter-, V8-BMW Schnitzer toegerus is en meer as 500 perdekrag ontwikkel en moontlik die mees gesofistikeerde spesiale voertuig is wat al hier gesien is. Die Oven Fresh Biscuits-span sal aangevul word deur ‘n Scat Chevrolet V6-aangedrewe Jimco in die hande van Sam Moolla en Zaheer Bodhanya.
Die wenner van laas jaar se Toyota 1000-Woestynren, John Weir-Smith en Geoff Minnitt, sal weer in aksie wees in die herboude Klas A-Kopanong Hotel Superteam-Jimco wat met ‘n BMW 540 V8-enjin toegerus is.
Atang Makgekgenene en Mike Stangl, wenners van die 2003-Nissan-Handelaars 400 en die Oven Fresh Biscuits 500, het ‘n Chevrolet LT1-enjin vir die Total-Jimco gekies en indien hul vorige prestasies in ag geneem word, is hulle sterk kandidate vir die kampioenskapskroon.
Nóg twee Botswana-gebaseerde Chevrolet-aangedrewe Spesiale Voertuie sal hul buiging in Klas A maak. Rashid Noble en sy neef, Faizel Noble, sal weer in aksie in die 440 perdekrag Chevrolet V6-aangedrewe Abe’s Furnishers/STC Chemicals-Aceco wees met hul neef, Zeyn Noble en Richard Hope wat in ‘n Chevreloet LT1-aangedrewe Raceco ingeskryf het.
Frikkie Botha en Melville Priest het die wenner van die 2002-kampioenskap, die Lexus V8-aangedrewe Jimco van Greg Harvey aan die einde van laasjaar bekom en het gou aan die unieke hantering van die A-arm-veringstelsel en onderstel gewoond geraak nadat hulle voorheen met ‘n Raceco deelgeneem het met ‘n verouderde sleeparm-veringstelsel.
Die wenner van laasjaar se eerste Toyota-Handelaars 400 by Lydenburg, Mark Corbett en sy nuwe navigtor, Gavin Kelsey, sal weer in aksie in die Audi V8-aangedrewe Century Property Developments-BAT wees waarmee hulle ook die Spesiale Voertuigkategorie tydens die onlangse Nampo 400 gewen het.
Clint Gibson en Mike Brown het hul Klas A-debuut in die Audi V8-aangedrewe Praesidium Financial Services-BAT laat laasjaar gemaak en was die voorlopers tydens die Toyota-Handelaars 400 totdat hulle meters voor die einde verkeerd gery het en Mark Corbett hulle met sekondes gewen het. Die KwaZulu-Natal-gebaseerde span staan beslis ‘n kans om die Spesiale Voertuigkampioenskap in te palm.
Nissan se V6-enjins word in ‘n paar BAT Racing-voertuie gepas waarvan die grootste mededinger om die kampioenskapskroon die huidige Spesiale Voertuig-Navigatorkampioen, Brandon Harcus in die Adrenalise Corporate Entertainment-BAT is wat hy met Achim Bergmann sal deel. Die wenners van die Nissan-Sugarbelt 400, Gerald Mundell en sy nuwe navigator, Kingsley Nurden ook in ‘n BAT deel ook om die titel mee. Nuwelinge Philip Vosloo en Evan Hutchison sal ook in ‘n Adrenalise Corporate Entertainment-BAT in aksie wees met laasjaar se beginners, Danie Marais en Andrew Utterson in die Intelegence-BAT.
Dit was ‘n ontwikkelingsjaar laasjaar vir Nashua Mobile Racing se Terence Marsh en Trevor Ahier in die aangejaagde Mitsubishi 3,5 V6-aangedrewe Jimco en hulle sal vanjaar ten volle vir die 2004-kampioenskap gaan.
Klas S vir voertuie met ‘n buisraam-chassis wat met sleeparm- of balkveringstelsel voor toegerus is, kan gevaar vir sommige Klas A-spanne wees en dit klink behoorlik asof spanne wat vir dié klas ingeskryf het, op die Ererol vir ‘n “Old Boy’s-Reünie” is. Drie spanne wat spog met dosyne veldrenoorwinnings en sewe kampioenskappe oor ‘n tydperk van 20 jaar, sal ander spanne weer die stryd aansê.
Tweemalige wenners van die Spesiale Voertuigkampioenskap, Richard Schilling en Ashley Thorn, sal ‘n span wees om mee rekening te hou in die Nissan V6-aangedrewe Plastotech-Raceco, maar kan ‘n taai stryd van die vyfmalige kampioen – drie keer as ‘n jaer en twee keer as ‘n navigator – Buks Carolin en Archie Rutherford in die Buick V6-aangedrewe Nashua Mobile Racing-Raceco verwag asook van Nardus Alberts en Colin Hunter in die Porsche-aangedrewe Wrapsa-Raceco.
Die besigheidsman van Botswana, Mohammed Noor en die huidige Klas S-navigatorkampioen, Mohammed Moultsen, sal weer in die Superveg-Raceco met ‘n Porsche-enjin waarmee hulle dié klas verskeie kere in 2003 gewen het, aksie wees, maar sal hul man teen die huidige Klas S-jaerskampioen, Nic Goslar en sy navigator, Warren Bowie in die Men’s Clinic International/Kopanong Hotel Superteam-Porsche Raceco, moet staan.
Klas B vir tweeliteraangedrewe buisraamvoertuie sal voordeel trek uit die bekendstelling van twee nuwe modelle in 2004. Die Oos-Randse vervaardiger, Hendrik Fourie van Zarco, het tot op datum ses voertuie verkoop terwyl Willie Prinsloo van Ultimo Cars agt renweergawes van die rewolusionêre motorfietsenjinaangedrewe voertuie gebou en plaaslik sowel as internasionaal verkoop het.
Zarco Lite-modelle sal in die hande van Glenn Classen en Matthew Ludick (Corporate Off Road Entertainment-Zarco Lite); Warren Classen en Kim Dixon (Corporate Off Road Entertainment-Zarco Lite); John Thomson en Clinton McNamara; die broers Hendrik en Louis Fourie en nuwelinge Rudy en Pierre van Graan wees terwyl drie Ultimo Dominators ingeskryf is. Willie Prinsloo en George Barkhuizen sal elk in ‘n 1100 cc-Honda Blackbird-aangedrewe Ultimo Dominator wees en David White sal met ‘n 1 000 cc-Honda VTR Firestorm-aangedrewe weergawe deelneem.
Die huidige Spesiale Voertuigkampioen, Giel Nel (Luk Africa/ATS-Truggy) sal onder druk geplaas word om sy 2003-kampioenskapsoorwinning te verdedig en wel deur dié nuwelinge sowel as deur sommige van die gevestigde spanne, maar deur bestendigheid en foutlose voertuigvoorbereiding behoort hy weer die pyp te rook.
Die voormalige Klas B-kampioene, Marcus Taylor en Marc de Chalain sal weer op die John Rowe-geboude JRE staatmaak terwyl Warren Morton en Andrew Davis in die Bushpig in aksie sal wees. Will Battershill en Reg Sutton sal in die kajuit van ‘n splinternuwe John Rowe-geboude voertuig met ‘n Nissan-enjin wees.
Daar kan altyd op die veterane, Henry Kirstein en Renier Jooste (Atlas Copco-BAT) gereken word om ‘n goeie vertoning te lewer en as die geluksgodin aan hul kant is, kan hulle ‘n moeilike span wees om te klop. Ernst Corbett en Warwick Goosen sal op hul Century Property Developments-BAT staatmaak wat die getal BAT-mededingers in Klas A en B tot agt voertuie bring.
Hamish en Alistair Stubbs (Corporate Off Road Entertainment-Viper) verstaan nou hul nuwe voertuig en het die talent en deursettingsvermoë om ‘n klasoorwinning of twee gedurende die 2004-seisoen te behaal.
Pa en seun, Rob en Gareth Wark, sal beurte agter die stuur van die enkelsitplek-Superpave-Mighty Mag maak wat gedurende die vorige seisoen deur kragstuurprobleme gekniehalter is, maar hopelik is dié probleme nou iets van die verlede.
En terwyl dit blyk asof perdekrag die belangrikste element in die Spesiale Voertuigkategorie is, sal dit tien teen een dié spanne met die meeste breinkrag en uithouvermoë wees wat as die wenners sal seëvier wanneer die seisoen op 19 en 20 Maart met die Nissan-Handelaars 400 in die Wes-Kaap afskop.