Produksievoertuie het die Nasionale nie-kampioenskap Nampo 400-uitnodigingsveldren wat deur Senwes en Barloworld geborg is en die afgelope naweek in die Bothaville-omgewing plaasgevind het, gedomineer.
Hannes Steyn en Ockie Fourie het uitstekend in die eks-Mark Corbett-Klas D-Isuzu gevaar deur Vrydag se voorren te wen en vir die grootste gedeelte van die hoofren voor te loop om die geruite vlag vyf minute voor Johan Gerber en Coetzee Labuschagne in die GBS Racing-Nissan Hardbody te ontvang.
Steyn en Fourie sal met die Isuzu aan die SA Veldrenvoertuigkampioenskap deelneem en hulle kan heel moontlik ‘n doring in die vlees vir die fabrieksgesteunde Toyota-, Nissan- en Ford-spanne wees wat dié seisoen in Klas D deelneem.
Die plaaslike held, Hein Grobler en Charles Wolmarans, het gedurende die laaste gedeelte van die ren voorgeloop, maar die enjin van hul GBS Racing-Nissan Hardbody het ‘n paar kilometer voor die einde krag verloor en hulle moes hul bakkie tot in die kuipe laat vryloop waarna hulle dit tot oor die eindstreep gestoot het vir hul derde posisie.
Thomas Rundle en Rassie Erasmus het Klas E in die Barden Tyre Services-Toyota Hilux gewen.
Mark Corbett en Gavin Kelsey in die Century Property Developments-BAT was die enigste span in die Spesiale Voertuigkategorie wat die ren voltooi het en hulle het goed van die uiterse sanderige toestande gebruik gemaak om hul voertuig vir die seisoen se openingsronde, die Nissan-Handelaars 400 by Darling wat deur dieselfde toestande gekenmerk word, voor te berei.
Klas B-mededingers, Henry Kristein en Renier Jooste, het ‘n angsbevange oomblik beleef toe die Atlas Copco-BAT aan die brand geraak het, maar Grobler en Wolmarans se vinnige optrede het verseker dat die skade minimaal was.
Grobler en Wolmarans het die Produksievoertuigafdeling in die Noordwes-Veldrenuitdaging en die Noordelike Streeksveldrenkampioenskap van die Nampo 400 gewen terwyl Alfred en Tommy van Vuuren tweede in die Klas D-Nissan Hardbody was en Deon Venter en Rickus Erasmus in ‘n Toyota derde.
Derick en Peter de Witt (Prolong-ORCO) het die Spesiale Voertuigkategorie in die streekskompetisie gewen met die veteraan, Wolf-Peter Phumfei tweede in ‘n WPP en Glen Classen en Mathew Ludwig derde in die C.O.R. Entertainment-Zarco.
Slegs 24 van die 49 spanne wat die ren begin het, kon die Nampo 400 voltooi.