Alles dui daarop dat die SA Veldrenkampioenskap wat deur Absa aangebied word, eers tydens die laaste byeenkoms uitgesorteer sal wees en met slegs twee renne nog oor, sal die Toyota-Handelaars 400 wat op 24 en 25 Oktober in die Lydenburg-omgewing plaasvind, uiters belangrik vir verskeie spanne wees.

Ten spyte daarvan dat hulle die Sun City 400 algeheel gewen het, kon die Produksievoertuig-kampioenskapmededingers, Hannes Grobler en Richard Leeke (Trots Suid-Afrikaans Nissan Hardbody) hul voorsprong oor Mark Cronje en Chris Birkin (Castrol-Toyota Hilux 2700i) in die algehele kampioenskap slegs met twee punte vergroot nadat die Toyota-paar derde algeheel en eerste in Klas E klaargemaak het.

Grobler/Leeke en Cronje/Birkin is die enigste twee spanne wat al die byeenkomste tot dusver dié seisoen kon voltooi en die Nissan-span het vyf algehele oorwinnings en ‘n vierde plek ingepalm terwyl die Toyota-paar drie podiumposisies en vier klasoorwinnings kon behaal.

Die veteraan, Kassie Coetzee en Ockie Fourie het bestendig in hul Klas E-Castrol-Toyota Hilux KZ-TE vertoon en is 45 punte agter die voorlopers en 27 punte agter hul spanmaats. Coetzee en Fourie het ‘n geringe kans om die kampioenskap te wen indien een of albei die spanne in die eerste en tweede plekke nie die volgende twee byeenkomste voltooi nie.

Grobler is reeds verseker van die Klas T-jaerstitel omrede die jaer in die tweede plek, Scott Abraham (Atlas Copco/Chicago Pneumatic-Jeep) ‘n betrekking in Duitsland aanvaar het en nie aan die oorblywende twee byeenkomste sal deelneem nie terwyl die jaer in die derde plek, Neil Woolridge (Ford Racing Ranger) sewe punte sal kortkom al wen hy die volgende twee byeenkomste en Grobler maak dit nie klaar nie. Leeke hoef nie oor die Klas T-navigatorstitel bekommerd te wees nie, want indien Richard Carolin (Atlas Copco/Chicago Pneumatic-Jeep) albei die volgende renne wen en Leeke kan dit nie voltooi nie, sal hulle ewe veel punte hê. Die kampioenskap sal dan aan Leeke toegeken word omrede hy oor die meeste klasoorwinnings sal beskik.

Dit is ‘n naelbytstryd in die Klas D-kampioenskap wat steeds wawyd oop is. Die GBS Racing-Nissan-span, Hein Grobler en Gerhard Prinsloo het ‘n voorsprong van ses punte oor die pa- en seun-span, Johan en Marthinus van der Merwe (Chavani-Colt Rodeo) wat ‘n klad op hul rekordboeke gelaat het deur nie die Sun City 400 te voltooi nie. Die GBS Racing-spanmaats, Coetzee Labuschagne en Johan Gerber is derde saam met Deon Schoeman en Jeremy Fall (Topcar Racing-Nissan Hardbody) wat ná die Sun City 400 gediskwalifiseer is en dié twee spanne is tans die grootste bedreiging.

Cronje en Birkin kan nie bekostig om ‘n fout tydens die Toyota-Handelaar 400 óf die Carnival City Casino 400 te maak nie, want Coetzee en Fourie is net 15 punte agter hulle. Die voormalige Klas E-kampioene, Manfred Schröder en Jack Peckham (Ford Racing Ranger) staan ‘n kans om Cronje en Birkin se punte te ewenaar indien die twee Castrol-Toyota-spanne nie punte tydens die volgende twee renne aanteken nie. Die Ford-span sal dan met die tweede plek tevrede moet wees aangesien Cronje en Birkin as die wenners aangewys sal word omrede hulle die meeste klasoorwinnings aangeteken het.

Klas F is nie goed ondersteun nie en twee spanne kon elk een ren dié seisoen voltooi. Jaap Zeeman en Johannes Barwise (DFS Ferobrake-Ford Cortina) het ‘n voorsprong van twee punte oor Andre Botha en Beans Hydenrych in die O’Hagan’s/Kopanong Hotel Superteam-Chevy.

Daar was ‘n groot skommeling in die Spesiale Voertuigkampioenskap na die Sun City 400 met die voormalige Klas B-kampioen, Giel Nel (Luk Africa-Truggy) wat weer die voortou geneem het nadat Gerald Mundell en Billy Bond hul Klas A-Prolong-BAT van die byeenkoms moes onttrek as gevolg van ‘n foutiewe ratkas.

Die huidige Klas B-kampioene, Marcus Taylor en Marc de Chalain (Rollerbak Racing-JRE) het ook voordeel uit die BAT-span se ongeluk getrek en het tot in die tweede plek in die jaerskampioenskap en die eerste plek in die navigatorskampioenskap onderskeidelik inbeweeg.

Dit blyk asof die stel voorberei vir ‘n Klas B-span om die algehele Spesiale Voertuigkampioenskap in te palm, maar nie as die BAT-spanne, Mundell/Bond en die Queen Motor Spares-Tarka 400- en Sun City 400-wenners, Gary Bertholdt en Brandon Harcus en die Klas B-wenners van die afgelope drie byeenkomste, Clint Gibson en Mike Brown, dit kan verhelp nie.

Net 35 punte skei die spanne in die eerste en vyfde posisies en soos hul huidiglik presteer, kan Bertholdt/Harcus en Gibson/Brown maklik met die algehele Spesiale Voertuigkampioenskapstitel wegloop.

Mundell/Bond het ‘n effense houvas op hul Klas A-voorsprong en is net twee punte voor Bertholdt/Harcus, 17 punte voor die Nissan-Handelaars 400- en Oven Fresh Biscuits 500-wenners, Atang Makgekgenene en Mike Stangl (Total/SAM Racing-Jimco) en 18 punte voor John Moore en Fred Werner (Sheel/Connix-Chenowth).

Die feit dat soveel Klas A-spanne nie renne dié seisoen voltooi nie, beteken dat enige van ses spanne die klaskampioenskap kan wen.

In teenstelling daarmee is die Klas B-spanne ‘n voorbeeld van bestendigheid en dié naelbyt-kampioenskap sal eers by die Carnival City Casino 400 gefinaliseer word. Nel en Taylor/De Chalain het die kampioenskap al in die verlede gewen en dit kan moontlik ook aan Clint Gibson en Mike Brown in die Praesidium Financial Services-BAT gaan.

Die stryd in Klas S is tussen die nuwelinge, Nick Goslar en Warren Bowie (O’Hagan’s/Kopanong Hotel Superteam-Raceco) en die Botswana-span, Mohammed Noor en Mohammed Moultsen (Supa Veg-Raceco) wat die voortou deel. Net soos in die geval met die Klas B-titel, sal dié stryd ook eers tydens die laaste ren beslis word.

Die kampioenskapstryd sal op 24 en 25 Oktober voortgaan wanneer deelnemers na Mpumalanga sal reis waar hulle aan die Toyota-Handelaars 400, wat in die Lydenburg-omgewing sal plaasvind, sal deelneem.