Die wenner van die 1990-Toyota 1000-Woestynren, Richard Schilling, het kragte met Rob “The Dog” Wark vir vanjaar se byeenkoms, die derde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat vanaf 11 tot 13 Junie in Botswana plaasvind, saamgespan.
Dit mag dalk ‘n onbekende feit vir heelwat van dié sport se aanhangers wees dat Wark vir Schilling in 1991 genavigeer het toe hulle die Dak van Afrika-tydren gewen het en toe Schilling se gereelde navigator, Ashley Thorn, aangekondig het dat hy in Junie vanjaar in die VSA gaan wees, het Schilling nie gehuiwer om weer van die dienste van sy jarelange vriend, Wark, gebruik te maak nie.
“Ek en Rob het ‘n geskiedenis van meer as 20 jaar en hy is goeie ‘n jaer en ‘n navigator,” het Schilling gesê. “Om die waarheid te sê het hy die 1994-Toyota 1000-Woestynren in die Superpave-Raceco gewen en ek is daarvan oortuig dat, met sy hulp, ons nie net Klas S in die Plastotech-Raceco kan wen nie, maar ook ‘n aanslag op die voorste posisie in die Spesiale Voertuigafdeling kan maak.”
Schilling se uitdaging met Buks Carolin – self ook ‘n wenner van dié Botswana-byeenkoms as ‘n navigator vir sy broer, Richard in 1995 – waar die verloorder van elke byeenkoms gebaseer op die kortste afstand wat hulle kon voltooi, R1 000 aan hul gunsteling-welsynsorganisasies, Sunfield Homes en Logwood Ranch, moet skenk, duur ook voort.
Na twee byeenkomste moes dié boesemvriende en aartsmededingers elk reeds ‘n R1 000 uithaal nadat Carolin ‘n langer rengedeelte tydens die Nissan-Handelaars 400 as Schilling kon voltooi, maar nie die Nissan-Sugarbelt 400 kon begin nie omrede hy nie betyds die BMW 540 V8-enjin in sy Kopanong Hotel Superteam-Raceco kon pas nie.
Carolin sal vir die wenner van die Nissan-Handelaar 400 se Spesiale Voertuigkategorie, Atang Makgekgenene in die Total-Jimco navigeer terwyl die veteraan, Harry Roscoe en sy seun, Donovan, in Carolin se Kopanong Hotel Superteam-Raceco in Botswana sal deelneem.
Rob Wark het Carolin en Roscoe elk met R500 uitgedaag om hom en Schilling te wen en indien hy dié bedrag sal moet oorbetaal, sal hy dit aan sy gunsteling-welsynsorganisasie, die DBV, skenk.