Toyota se beker het verlede naweek behoorlik oorgeloop danksy Serge Damseaux en Robert Paisley se skitterende oorwinning op die Volkswagen-Tydren in Oos-Kaapland. Die twee Toyota-tydrenners, in die nuwe Castrol Toyota RunX RSi, het die voortou in sneldeel 4 geneem en daarna was daar net geen keer aan hulle nie.
Dit was Damseaux — wat die SA Tydrenkampioenskapstitel al agt keer gewen het — en Paisley se derde algehele oorwinning van die jaar, en daarmee het hulle hul puntevoorsprong in die algehele en die Klas A8-kampioenskap verder vergroot.
Hul naaste teenstanders, Enzo Kuun en Guy Hodgson, in ‘n Sasol VW Golf, moes die handdoek ingooi met meganiese probleme net 2 kilometer van die einde van die voorlaaste sneldeel by die Aldo Scribante-renbaan in Port Elizabeth.
“Die Volkswagen is al baie jare ‘n goeie tydren vir my, en dit is my agtste oorwinning hier in Oos-Kaapland,” het ‘n verheugde Damseaux na die tydren gesê. “Nie dat dit hierdie keer alte goed begin het nie. Donderdag het ons ‘n suier gebreek terwyl ons die motor getoets het. Die tegniese span moes deur die nag werk om die enjin te herstel. En ek moet sê, hulle het uitstekende werk gedoen — so goed dat ons ons derde tydren van die seisoen algeheel kon wen.”
Met Kuun en Hodgson uit die tydren het die Toyota-tydrenners se enigste teenstand gekom van Rueda en Pierre Arries in hul Sasol DualFuel Mitsubishi Lancer, wat 1 min en 39 sek na hulle klaargemaak het.
Etienne Lourens en André Vermeulen in die Span Total Corolla RSi het weer eens skitterend gevaar en, soos in vorige tydrenne, getoon dat hulle heeltemal in staat is om bolle te rol met die voorste spanne. Die twee was derde algeheel en eerste in Klas A7. Dit was die vierde keer in vyf tydrenne dat hulle op die podium gestaan het. Lourens en Vermeulen is nou tweede agter Damseaux en Paisley in die 2003 Sasol DualFuel-Tydrenkampioenskap.
Lourens en Vermeulen het ook maar hul probleme gehad. Nie net was hulle vir albei die tydrendae onder druk van Hergen Fekken en Dave Lewkowicz (Sasol DualFuel Polo Playa) nie, maar op Vrydag het hulle tyd verloor weens ‘n stukkende rempyp en kragstuurband. En hoewel hulle vir 9 km geen remme gehad het nie, was hulle Vrydagaand nogtans tweede algeheel.
Saterdag het die twee in ‘n stadium teruggesak tot die sesde plek nadat hulle ‘n draai misgery en 20 sekondes verloor het. Teen die einde van sneldeel 10 was hulle kop aan kop met Fekken en Lewkowicz op algehele verstreke tyd. In sneldeel 11 was die twee Toyota-tydrenners 13 sekondes vinniger as die VW-span, en daarvandaan het hulle vir Fekken/Lewkowicz weggery en die klas oortuigend gewen.
Die ses Span Total-Toyotas het vir die eerste keer vanjaar almal die tydren voltooi, en in die proses drie klasse gewen. Die Total-span se Jean-Pierre Damseaux en Cobus Vrey het op dag een al probleme gehad en 2 minute verloor weens twee gebreekte dryfasse. Saterdag het hulle egter alles uitgehaal en uiteindelik derde in Klas A7 en sewende algeheel geëindig.
Craig Trott en Gerhard Snyman in hul Span Total Toyota Corolla was, soos gewoonlik, die bestendigheid self, geen probleme ondervind nie en Klas A6 gewen. Hiermee het hulle hul voorsprong in die klaskampioenskap oor Andy Haig Smith en Gerald Brace (Span React Corolla RSi) verder vergroot.
In Klas A5 het Rodney Visagie en Carolyn Swan in hul Span Total Toyota Tazz ‘n goeie vertoning gelewer, Gugu Zulu en Dave McGregor in ‘n Sasol DualFuel Volkswagen Chico uitgestof en hul eerste oorwinning van die jaar aangeteken.
“Ons het lank gewag vir hierdie oorwinning,” het Visagie agterna gesê. “Ons is hoog in ons skik en dit is beslis nie ons laaste oorwinning van die jaar nie.”
Charl Wilken en Robin Houghton het bestendig gery en Klas N3 vir die vyfde agtereenvolgende keer in hul Castrol Toyota RunX RSi gewen. Die twee was op pad na ‘n maklike, rustige oorwinning toe hulle twee papwiele op die laaste twee gruissneldele kry. Dit het hulle ietwat vertraag, maar hulle het Klas N3 nogtans gewen. Hul vyfde klasoorwinning van die jaar het ook verseker dat hulle vanjaar die Klas N3-titel inpalm.
Dean Sanders en Rod Hering in hul Span Total Toyota Corolla RSi was tweede in Klas N2 na ‘n verbete stryd teen Chris de Witt en Janine Labuschagne in die CTH Transport Toyota Corolla RSi.
Vusi Maganga en Patrick Yende het hul Span Total Sowentan Toyota Tazz op sneldeel 11 gerol, maar nogtans daarin geslaag om die tweede plek in Klas N1 te behaal. Dit was die derde tydren wat hulle vanjaar klaarmaak, en hulle vaar in elke tydren net beter.
Van die 56 motors wat ingeskryf is, het 37 die tydren voltooi in winderige, koue en betrokke toestande.
Die volgende ronde van die SA Sasol DualFuel-Tydrenkampioenskap, die Motorpics-Tydren, is op 15 en 16 Augustus in die Aliwal-Noord-omgewing.