Daar was ‘n groot skommeling in die Produksievoertuigkategorie van die SA Veldrenvoertuigkampioenskap met aftredes, nuwe voertuie, ‘n klemverskuiwing na Klas D en E en verrigtingbeperkers aan die orde van die dag.
Die veterane, Apie Reyneke en Kassie Coetzee het uit die kompetisie uitgetree, Toyota het sy fokus van Klas T na Klasse D en E verskuif en nuwe jaers ingeneem en verrigtingbeperkers is in die Produksievoertuigkategorie ingestel in ‘n poging om spoed te beperk, veiligheid te verbeter en kostes te verminder.
Reyneke (47) het na 28 jaar in veldrenvoertuigkompetisie uit die Castrol-Toyota-span afgetree en kan met trots daarop aanspraak maak dat hy die mees suksesvolle jaer in die geskiedenis van dié sport is nadat hy nege kampioenskappe en dosyne renne deur die jare gewen het terwyl Coetzee die grootste gedeelte van sy lang renloopbaan in ‘n verskeidenheid Toyota-voertuie spandeer het waarmee ook hy baie renne gewen het.
Wat die fabriekspanne betref, het Toyota besluit om net in Klas D en E deel te neem en sal hulle twee Castrol-Toyota Hilux 2,7i-modelle in Klas D hê waarvan een vir die huidige Klas E-kampioene, Mark Cronje en Chris Birkin is asook vir Paolo Piazza-Musso en Rod Hering. Daar sal ook twee Klas E-voertuie wees met die voormalige Rotax max-Wêreldkampioen, Gavin Cronje en Robin Houghton in ‘n Hilux 2,7i en Zane Pearce en Hennie Vosloo in ‘n Hilux KZ-TE.
Heelwat privaatspanne sal vanjaar in ‘n verskeidenheid Toyota-modelle aan die kampioenskap deelneem.
Die voormalige Klas E-kampioene, Hugo de Bruyn en sy pa, Jaap, sal in aksie in die ex-Mark Cronje-Toyota Hilux wees terwyl die Benoni-gebaseerde Chris Visser en Japie Badenhorst ‘n faktor in die ex-De Bruyn-Klas E-Hilux sal wees. Pa en seun, Cliff en Louis Weichelt is besig om ‘n nuwe N1 4×4/Bosal-Hilux 3,4 V6 te bou en man en vrou, Marius en Tracey van Vuuren, het hul Land Rover vir ‘n nuwe Klas E-Bosal/N1 4×4-Toyota Hilux 2,7i verruil. Die wenners van die Lichtenburg 200, Hein Moolman en Cecil Fincham sal in die ex-Kassie Coetzee-Castrol-Toyota Hilux 3,0 KZ-TE deelneem en indien hul vorige prestasies in die streekskampioenskappe in ag geneem word, kan hulle moontlik vir ‘n paar verrassings in Klas E sorg.
Die Ford Racing-aanslag sal in die vorm van Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer in die Klas T-Ford Racing Ranger wees waarmee hulle laasjaar die Carnival City Casino 400 gewen het; die voormalige Klas E-kampioene, Manfred Schröder en Jack Peckham van die Pietermaritzburg-omgewing wat met die Ranger 4,0 V6 na Klas D opbeweeg het en ‘n ontwikkelingspan, Baphumze Rubuluza en Kulile Bakalisa van Pietermaritzburg in ‘n Klas E-Ranger 2,5 turbodiesel.
Die egpaar, Arthur en Lorraine Roberts, sal in aksie in die nuut-geboude Klas T-Fury Ford Ranger wees terwyl Dirk van Reenen en Ian Palmer die ex-Zane Pearce Hi Q-Ford Ranger vir Klas E bekom het.
Nissan Motorsport sal weer met drie Nissan Hardbody-bakkies in Klas T deelneem – die huidige kampioene, Hannes Grobler en Richard Leeke, die 2001-kampioene, Giniel de Villiers en Francois Jordaan en die 2002-kampioene, Duncan Vos en ‘n nuwe navigator na die uittrede van Mike Griffiths.
Die fabriekspanne sal deur privaatspanne van ‘n hoogstaande gehalte ondersteun word.
Alfie Cox en Hennie ter Stege (Arnold Chatz Cars-Nissan Hardbody), Arnold du Plessis en George Baker (Produkta-Nissan Hardbody) en die GBS Racing-span, die huidige Klas D-kampioene, Hein Grobler en Gerhard Prinsloo, man en vrou, Jp en Linda Augustin en Johan Gerber en Coetzee Labuschagne sal die Nissan-aanslag in Klas D aanvoer.
Die broers, Jurie en André du Plessis (BB Auto-Nissan Hardbody) en die Van der Walt-egpaar, Neels en Zelda, sal die Nissan-vlag in Klas E hoog hou.
Die gewilde broers, Henri en Maurice Zermatten, sal hul terugkeer tot Klas D met die Playstation/Mastercraft-Mitsubishi Pajero maak terwyl die Harrismith-gebaseerde pa en seun, Johan en Marthinus van der Merwe, weer in die Chavani-Colt Rodeo in Klas D sal meeding. Mike Tomsett en Brian Haviland sal die enkele Mitsubishi Colt-inskrywing in die hoogs-mededingende Klas T wees.
Arthur van Zweel en Piero Antiga sal weer met hul Homemasters-Isuzu KB320 in Klas D deelneem en kan strawwe mededinging van die Nampo 400-wenners, Hannes Steyn en Ockie Fourie in die ex-Mark Corbett-Klas D-Isuzu verwag.
Chevrolet sal in Klas F deur die Kopanong Hotel Superteam-inskrywing van André Botha en Beans Heydenrych verteenwoordig word.
Die broers, Mark en Stuart Moffat sal in die Bosal-Land Rover in Klas D deelneem.
Die bekendstelling van verrigtingbeperkers sal beteken dat topspoed verminder sal word, maar spanne sal vind dat hul voertuie se wringkrag sal verbeter wat voordelig by die meer kompakte, tegniese roete sal wees wat die oranigseerders beplan. Loopkoste sal ook heelwat minder wees en die speelveld sal meer gelyk wees en dus sal die kompetisie heelwat strawwer wees.
Dit blyk asof die mededinging in al die klasse taai sal wees en veldrenentoesiaste kan veldrenaksie verwag waar spanne op mekaar se hake in die Produksievoertuigkategorie sal wees wanneer die seisoen op 19 en 20 Maart met die Nissan-Handelaars 400 in die Darling-omgewing afskop.