Die GBS Nissan Racing-span is ‘n sprankelende voorbeeld van spanwerk.
Die GBS Nissan Racing-span bestaan uit vier spanne insluitende die voormalige Klas D-kampioene, Hein Grobler en Gerhard Prinsloo van Klerksdorp; die man- en vrou-span, JP en Linda Augustin van Hartswater, Coetzee Labuschagne en Johan Gerber asook die Vrystaatse boere, MC Coetzee en Marius Liebenberg wat almal in enkelkajuit-Nissan Hardbody-bakkies in Klas D van die SA Veldrenkampioenskap vir Produksievoertuie wat deur Absa aangebied word, deelneem.
Terwyl daar ‘n gevoel van goedige mededinging tussen die vier spanne, wat besluit het om hul vindingrykheid saam te gooi en GBS Racing te stig, bestaan, is ‘n sterk gevoel van kameraderie en spanwerk die heel belangrikste tydens elke byeenkoms.
Hierdie spanwerk het duidelik na vore gekom tydens die onlangse Queen Motor Spares-Tarka 400 toe Grobler en Prinsloo gedurende die eerste rondte as gevolg van ‘n gebreekte linkervoorste koeëlgewrig die handdoek moes ingooi en verder moes toekyk hoe die res van die Klas D-kampioenskapsmededingers verby hul Nissan gejaag kom.
Hul spanmaats, Labuschagne en Gerber, was na die eerste sirkelroete tweede in Klas D en binne trefafstand van die voorlopers, die pa en seun Cliff en Louis Weichelt, toe húl Nissan se koeëlgewrig breek.
Deur middel van ‘n tweerigtigradio het hulle vasgestel dat Grobler en Prinsloo dieselfde probleem ondervind het en dat hulle redelik naby gestrand staan en só het hulle besluit om tot by hul spanmaats aan te kruie.
Die een GBS Racing-Nissan het ‘n linkervoorste koeëlgewrig gebreek en die ander toevallig ‘n regter. Na ‘n blitsige gewerkskaf is die bruikbare koeëlgewrig van Grobler se voertuig verwyder en op die Labuschagne/Gerber-Nissan gepas wat hulle toegelaat het om die ren te voltooi.
Die Augustin-paar het 17de klaargemaak en is kort daarna deur Labuschagne en Gerber asook Coetzee en Liebenberg gevolg om sodoende die GBS Nissan Racing-vlag hoog te hou.
Ten spyte daarvan dat hulle nie die Tarkastad-byeenkoms kon voltooi nie, is Grobler en Prinsloo vier punte agter die Klas D-kampioenskapvoorlopers en is die titel steeds binne hul bereik.
Labuschagne en Gerber is vierde in die Klas D-kampioenskap en afhangende van hoe goed hulle tydens die oorblywende drie rondes van die kampioenskap vaar, kan hulle heel moontlik nog die klaskampioenskaptitel inpalm.
Die Sun City 400, die sesde ronde van agt byeenkomste van die SA Veldrenkampioenskap wat deur Absa aangebied word, sal ‘n groot toets vir die GBS Nissan Racing-span wees en enige van dié vier spanne kan op die podium eindig… of langs die pad breek en vir een van hul spanmaats wag op hulle te help.