Die Sun City 400, lank reeds bekend vir die internasionale deelname van wêreldbekende name soos Malcolm Smith van “On any Sunday”-faam, die Indy Car- en NASCAR-ster, Robby Gordon en die Amerikaanse veldrenjaer, Roger Mears Jr., sal weer eens ‘n oorsese deelnemer op die wegspringrooster hê.
Die Belgiese artistokraat, Gregoire de Mevius, wat ook twee keer die FIA Wêreld-Groep N-Tydrenkampioen was en die voorste jaer in die New Dimension X-raid BMW-span wat hul debuut tydens die 2003-Dakar gemaak het, sal vir die eerste keer in Suid-Afrika jaag en wel in die Audi V8-aangedrewe Adrenalise Corporate Entertainment-BAT.
BAT Racing het onlangs twee BAT-voertuie met volledig-toegeboude bakwerk vir De Mevius, wat beplan om daarmee aan die 2004-FIA Baja-Trofee deel te neem, gebou. De Mevius het vir die byeenkoms ingeskryf om ondervinding in Spesiale Voertuie op te doen ter voorbereiding vir sy 2004-renne.
De Mevius het baie komplimente vir BAT Racing, onder die aanvoering van die Queen Motor Spares-Tarka 400-wenner, Brandon Harcus, gehad.
“Die ontwerp, tegnologie en boukwaliteit van die BAT-voertuie is gelykstaande aan die beste wat in die VSA en Europa beskikbaar is en ek het nie getwyfel om ‘n langtermynkontrak met Brandon Harcus te teken nie,” het De Mevius gesê. “BAT-voertuie het reeds twee van vanjaar se renne gewen en gebaseer op hul verrigting tans, blyk dit asof húlle die spanne is wat by Sun City geklop sal moet word.”
“Ek sien daarna uit om Suid-Afrikaanse veldrenne te ervaar en, wie weet, dalk kan ek nog ‘n oorwinning vir BAT inpalm,” het die Belg bygevoeg.
‘n Opgeruimde, maar versigtige Harcus wat, saam met Gary Bertholdt die Queen Motor Spares-Tarka 400 gewen het, is stilweg vol vertroue oor die spanne se moontlike sukses vir die Sun City 400.
“Behalwe vir die De Mevius en Andrew van Zyl-inskrywing, is daar nog ses BAT-spanne wat in Klas A en Klas B ingeskryf het,” het Harcus gesê. “Nissan-Sugarbelt 400-wenners, Gerald Mundell/Billy Bond (Prolong-BAT); Danie Maraix/Andrew Utterson (Intelegence-BAT); Mark Corbett/Jason Bruwer (Century Property Developments-BAT) en ek en Gary. Ek is heeltemal voorbereid om die Amerikaanse Jimco- en Chenowth-brigade wat Suid-Afrikaanse veldrenne vir jare oorheers het, aan te vat.”
“BAT-voertuie het ook Klas B begin oorheers met die KwaZulu-Natal-span, Clint Gibson en Mike Brown (Praesidium Financial Services-BAT) wat reeds twee agtereenvolgende klasoorwinnings behaal het en Ernst Corbett en Warwick Goosen (Century Property Developments-BAT) wat die BAT-vlag hoog laat wapper.”
Dit is net ‘n kwessie van tyd voordat ‘n BAT saam met die Trots Suid-Afrikaanse Nissan-span die res van die wêreld se bestes by die Dakar aanpak én wen.