Die klein hoeveelheid deelnemers wat die onlangse Lesotho Sun 400, die vyfde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap, kon voltooi, het ‘n groot punteskommeling in die Produksie- en Spesiale voertuigkategorieë veroorsaak.
Die voorlopers in die Produksievoertuigkampioenskap, Hannes Grobler en Richard Leeke het hul skoon skryfboek beklad deurdt hulle nie die Lesotho Sun 400 kon voltooi nie nadat die metaalhulsel op ‘n hoëdruk-kragstuurpyp van die eenheid losgekom het en hulle verplig het om met hul Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody voor die einde van die eerste 170 km-sirkelroete die handdoek in te gooi. Hulle is steeds voor, maar net ‘n enkele punt voor hul spanmaats, Giniel de Villiers en Francois Jordaan wie se tweede plek in Lesotho aan hulle ‘n welverdiende 35 punte besorg het en hulle tot in die tweede plek laat opskuif het.
Alfie Cox en Ralph Pitchford het die grootste sprong gemaak nadat hulle hul vierde agtereenvolgende Klas D-oorwinning in die Arnold Chatz Cars-Nissan Hardbody behaal het. Hulle het van die vyfde tot die derde posisie opbeweeg en is slegs 17 punte agter die voorlopers terwyl hulle ‘n voorsprong van 31 punte in Klas D op hul aartsmededingers, Mark Cronje en Chris Birkin in die Castrol-Toyota Hilux 2,7i het. Die Toyota-span is steeds in die sewende plek in die algehele kampioenskap en sal die krane moet oopdraai indien hulle die Klas D-titel by hul 2003-Klas E-kampioenskaptitel sal wil byvoeg.
Die Ford Racing Ranger-span, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer, kon nie die hoofren begin nie nadat Skjöldhammer inderhaas in die vroeë Saterdagoggendure na ‘n hospitaal in Bloemfontein afgevoer moes word as gevolg van ‘n vermoedelike beroerte. Verdere mediese toetse het getoon dat hy ‘n ernstige reaksie as gevolg van medikasie gehad het en is opdrag gegee om te rus. Die span was die hele seisoen in die tweede plek, maar het nou tot die vierde posisie afgeskuif en is ‘n enkele punt agter Cox en Pitchford en 18 punte agter Grobler en Leeke.
Die Klas E-kampioenskapvoorlopers, Hugo en Jaap de Bruyn van Vryburg het van die vierde tot die vyfde plek op die alghele punteleer geval nadat hulle nie die Lesotho Sun 400 in hul Castrol-Toyota Hilux 2,7i kon voltooi nie. Geen Klas E-span kon die eindstreep haal nie en hulle het hul 39 punt-voorsprong op Neels en Zelda van der Walt in die Nissan Hardbody behou en ook hul 56 punt-voorsprong op die Ford-ontwikkelingspan, Baphumze Rubuluza en Khulile Vakalisa.
Die Lesotho Sun 400-wenners, Duncan Vos en Hennie ter Stege het drie plekke gewen en is nou sesde in die algehele kampioenskap – 41 punte agter hul spanmaats, Grobler en Leeke en vierde in Klas T. Gebaseer op dié span se huidige vertoning, blyk hulle ‘n bedreiging vir die res van die Klas T-deelnemers te wees.
Die huidige Klas E-kampioene, Mark Cronje en Chris Birkin kon nog nie ‘n Klas D-oorwinning in hul Castrol-Toyota Hilux 2,7i behaal nie, maar hulle is steeds in ‘n goeie sewende posisie, maar onder druk van Henri Zermatten en Bodo Schwegler wat net twee punte agter hulle in die Mastercraft/Playstation-Pajero is. Zermatten en Schwegler is die toonbeeld van bestendigheid en is die enigste span wat al die renne tot dusver vanjaar kon voltooi.
Die Van der Walt-egpaar, Neels en Zelda, is negende, maar is net ‘n enkele punt voor die Klas D-span, Paolo Piazza-Musso en Rod Hering in die Castrol-Toyota Hilux 2,7i wat tot in die top tien opbeweeg het.
Produksievoertuigkampioenskap:
1. Grobler / Leeke, Nissan (Class T), 150
2. de Villiers / Jordaan, Nissan (Class T), 149
3. Cox / Pitchford, Nissan (Class D), 133
4. Woolridge / Skjoldhammer, Ford (Class T), 132
5. de Bruyn / de Bruyn, Toyota (Class E), 111
6. Vos / ter Stege, Nissan (Class T), 109
7. Cronje / Birkin, Toyota (Class D), 102
8. Zermatten / Schwegler, Pajero (Class D), 100
‘n Paar spanne in die Spesiale Voertuigkategorie het heelwat baat gevind na ‘n uiters strawwe Lesotho Sun 400. Die Spesiale voertuigwenners, John Weir-Smith en Geoff Minnitt het 13 plekke op die kampioenskapsleer opgeskiet; die Van Graan-broers, Rudi en Pierre, het hul eerste ren klaargemaak en agt plekke opbeweeg en Terence Marsh en Mike Whitehouse en die veterane, Nardus Alberts en Collin Hunter, het elk sewe plekke opbeweeg.
Die kampioenskapvoorlopers, Atang Makgekgenene en Buks Carolin wat tweede in die Total-Jimco klaargemaak het, het egter ‘n gerieflike voorsprong van 70 punte in die algehele kampioenskap en in die Klas A-jaerskampioenskap oor Mark Corbett in die Century Property Developments-BAT.
Corbett en Juan Möhr het die 2000-Dak van Afrika gewen en was vir die grootste gedeelte van die Lesotho Sun 400 voor net om ses kilometer voor die einde deur brandstofpompprobleme gekniehalter te word. Die brandstofpomp het uiteindelik afgekoel en hulle kon die einstreep in die sewende plek voltooi om hul kampioenskapshoop lewendig te hou.
Clint Gibson en Mike Brown is derde en tweede in die algehele jaers- en navigatorskampioenskappe onderskeidelik na bestendige vertonings in die Praesidium Financial Services-BAT met Gibson slegs ses punte agter Corbett in titelgeveg.
Nick Harper en Andrew Chalupsky kon nie die Lesotho Sun 400 in hul BAT voltooi nie en het van die tweede tot die vierde plek in die jaerskampioenskap en van tweede na derde in die navigatorskampioenskap onderskeidelik geval.
Die Klas B-wenners in Lesotho, Marcus Taylor en Marc de Chalain, het vier plekke opgeskuif tot die vyfde plek in die algehele kampioenskap en het die Klas B-leiding by Adri Roets en Deon de Kock in die Global DAD-WPP wat nie binne die vasgestelde tyd kon klaarmaak nie, oorgeneem.
Lesotho Sun 400-wenners, John Weir-Smith en Geoff Minnitt mag dalk 13 plekke opgeskuif het, maar het ‘n reuse-taak wat voorlê indien hulle hoop om die kampioenskap te wen. Die Kopanong Hotel Superteam-Jimco-span sal drie algehele oorwinnings moet behaal terwyl die top-mededingers in die oorblywende drie byeenkomste in die Absa-Veldrenkampioenskap sal moet uitval indien hulle dié onmoontlike doel wil bereik.
Die Klas B-leiers tot en met die Lesotho Sun 400, Adri Roets en Deon de Kock, het twee plekke op die punteleer afgeskuif en is saam met die broers, Hamish en Alastair Stubbs (Fence Erect-Viper) wat ook om die Klas B-titel kan meeding, in die sewende plek.
Shameer Variawa en Nadeem Dudhia het van die sesde na die negende posisie geval nadat hulle nie vir die Lesotho Sun 400 ingeskryf het nie en is net twee punte voor Terence Marsh en Mike Whitehouse (Nashua Mobile-Jimco) wat sewe plekke opgeskuif het nadat hulle derde algeheel in Lesotho klaargemaak het.
Die Klas S-stryd is nou eintlik ‘n stryd tussen net twee spanne nadat Nardus Alberts en Collin Hunter (Wrapsa-Raceco) die klas in Lesotho gewen het. Mohammed Noble en Richard Hope (Abe’s Furniture-Raceco) is met 31 punte voor terwyl Alberts en Hope saam met Nic Goslar en Warren Bowie (Kopanong Hotel Superteam-Raceco) gesamentlik tweede is. Goslar sal nie vir die res van die seisoen deelneem nie nadat hy werwelbeserings tydens die Sun City 400 opgedoen het.
Spesiale Voertuigkampioenskap – Jaers:
1. Atang Makgekgenene, Jimco (Class A), 170
2. Mark Corbett, BAT (Class A), 100
3. Clint Gibson, BAT (Class A), 94
4. Nick Harper, BAT (Class A), 88
5. Marcus Taylor, JRE (Class B), 73
6. John Weir-Smith, Jimco (Class A), 66
7. Adri Roets, WPP (Class B), 53 / Hamish Stubbs, Viper (Class B), 53
9. Shameer Variawa, Porter (Class A), 52
10. Terence Marsh, Jimco (Class A), 50
Spesiale Voertuigkampioenskap – Navigators:
1. Buks Carolin, Jimco (Class A), 125
2. Mike Brown, BAT (Class A), 94
3. Andrew Chalupsky, BAT (Class A), 88
4. Gavin Kelsey, BAT (Class A), 80
5. Geoff Minnitt, Jimco (Class A), 66
6. Deon de Kock, WPP (Class B), 53 / Marc de Chalain, JRE (Class B), 53 / Alistair Stubbs, Viper (Class B), 53
9. Nadeem Dudhia, Porter (Class A), 52
10. Mike Whitehouse, Jimco (Class A), 50
Die volgende ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap is die Mmabatho 500 in die Noordwes-Provinsie op 24 en 25 September.