In die spesialevoertuigkategorie geniet Terence Marsh en Michael Whitehouse (Nashua Mobile BAT-Chev) ‘n 12 punte-voorsprong bo die Lesotho Sun 400-wenners, Nick en Ryan Harper (BAT-Audi) en hulle het 63 punte tot dusver ingesamel.

Die voormalige veldrenmotorfietsryers, Cox en Pitchford, wat die aanpassing na vier wiele op ’n merkwaardige suksesvolle manier gedoen het, het die produksievoertuigkategorie tydens die laaste drie byeenkomste algeheel gewen nadat hulle hul eerste seisoen saam as die 2004-klas D-kampioene afgesluit het.

Grobler, wat sy uittrede uit motorsport aan die einde van die jaar aangekondig het ná ‘n kleurryke loopbaan van meer as 27 jaar waartydens die vriendelike Nissan-handelaar van Hermanus drie nasionale veldrenkampioenskappe sowel as drie nasionale tydrenkampioenskap gewen het, wil graag sy derde agtereenvolgende Absa-Veldrenkampioenskap wen.

Derde in die produksievoertuigkategorie na vyf van die agt rondes van die kampioenskap, is die klas D-voorlopers, Henri Zermatten en Bodo Schwegler, in die Mastercraft/Ryobi-Mitusibishi Pajero met 50 punte – 25 punte agter Cox en Pitchford, maar net ’n enkele punt voor Mark Cronje en Chris Birkin (Castrol-Toyota Hilux 2.7i) wat tweede in klas D is.

Vyfde algeheel en gesamentlik tweede in die klas D-kampioenskap, is Manfred Schröder en Alec Harris in die Ford Racing Ranger. Hulle is drie punte agter Cronje en Birkin.

Gavin Cronje en Robin Houghton se skoon rekordboek het nou ‘n merk – hulle kon nie die Lesotho Sun 400 voltooi nie nadat hulle die Castrol-Toyota Hilux 2.7i gerol het. Hulle het van die derde algehele posisie na die Sun City 400 tot die sesde plek algeheel en vierde in die Klas D-kampioenskap teruggeval.

Zane Pearce is die voorloper-jaer in klas E met sy Castrol-Toyota Hilux 2.7i en is 18 punte voor Chris Visser en Japie Badenhorst en 26 punte voor die huidige jaerskampioen, Hugo de Bruyn (Castrol-Toyota Hilux).

Derde in die spesialevoertuigkategorie ná Marsh/Whitehouse en die Harper-pa en seun-kombinasie, is Will Battershill en Reg Sutton (Jimco) wat ook derde in klas A is.

Die huidige kampioene, Atang Makgekgenene en Buks Carolin (Total-Jimco), wat nie aan die Lesotho Sun 400 deelgeneem het nie, is vierde algeheel en vierde in klas A.

Die klas B-voorlopers in hul eerste veldrenseisoen saam, is die voormalige vierwielmotorfietsjaer, Evan Hutchison en Trevor Ormerod, in die Motorite Racing-BAT-Nissan. Hulle het 39 punte in die algeheel kampioenskap en bekleë die indrukwekkende vyfde posisie in die spesialevoertuigkategorie.

Derde in klas B, is die verdedigende kampioene, Marcus Taylor en Marc de Chalain (JRE), wat saam met John Thomson en Clint McNamara (Zarco Lite) 11 punte agter Hutchison/Ormerod op die algehele punteleer is. ’n Enkele punt ná hulle is die broers, Rudi en Pierre van Graan (Technochair-Zarco Lite) wat tweede in klas B is.

Die veteraanveldrenjaers, Richard Schilling, ’n voormalige spesialevoertuigkampioen, en Chris Davies, ‘n voormalige motorfietsryer, lei klas S in hul Plastotech-Aceco. Hulle is 28 punte voor Archie Rutherford en Vincent Horn (Ruthcon-Sandmaster). Thierry Hecq in ’n enkelsitplek-Raceco is derde.

Toyota loop met 259 punte steeds voor in die vervaardigersuitdaging van die produksievoertuigkategorie en word gevolg deur Nissan (202), Ford (89), Mitsubishi (60), Land Rover (21) en Chevrolet (3).

Die sesde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap vind op 9 en 10 September by Polokwane in die Limpopo-provinsie plaas.