Die Sun City 400, die vierde ronde van die aksiebelaaide Absa-veldrenkampioenskap wat op 23 en 24 Julie in die Pilanesberg-omgewing plaasvind, bied uitstekende geleenthede vir toeskouers wat die twee ure se reis vanaf Gauteng die moeite werd sal maak vir veldren-entoesiaste.
Die kompakte roete, wat bestaan uit drie rondtes van ‘n veeleisende 140 km sirkelroete wat onder meer ruig bosveld, rivieroorsteekpunte, dongas en rotsagtige oppervlakke insluit, is naby Sun City geleë met die verste toeskouerpunt ‘n skamele 25 km van die beginpunt af.
“Rigtingaanduidings en duidelik gemerkte toeskouerpunte sal verseker niemand raak verlore nie en geniet soveel kans as moontlik om al die aksie te sien,” het Veldren Suid-Afrika se koördineerder, Piet van Rensburg, gesê. Daar sal agt duidelik gemerkte toeskouerpunte al langs die roete wees en enigeen wat die aksie van begin tot einde volg sal net 48 kilometer gery het.”
“Net twee toeskouerpunte is op grondpaaie wat goed onderhou is, die res is op teerpaaie.”
Die aksie, wat soos altyd vinnig en rof gaan wees, skop af met ‘n 40 kilometer lange voorren op Vrydag 23 Julie om 13h00 om die wegspringplekke vir die hoofren te bepaal. Laasgenoemde begin om 08h00 op Saterdag 24 Julie. Die eerste voertuig word omstreeks 14h00 by die eindstreep verwag.