Daar word verwag dat die roete vir die Sun City 400, die sesde ronde van die SA Veldrenkampioenskap vir Produksie en Spesiale Voertuie wat deur Absa aangebied word, die manne van die seuns sal skei.
Dié byeenkoms sal in die Pilanesberg-omgewing in die Noordwes-Provinsie op 26 en 27 September plaasvind en volgens die organiseerders, Veldrenne SA (ORSA) sal die drie sirkelroete ‘n taai toets vir man en masjien wees.
“Ons het nie baie reën in die streek gehad nie en die roete is rof, maar sal nie die voertuie breek nie,” het die roete-organiseerder, Adri Roets, gesê. “Die Sun City 400 is tradisioneel daarvoor bekend dat dit aan deelnemers ‘n verskeidenheid van interessante terrein met ‘n goeie balans tussen vinnige gedeeltes en stadiger, rowwer gedeeltes bied.”
“Ons het nuwe dele ingesluit wat dit vir die deelnemers sowel as die toeskouers interessant behoort te maak,” het Roets bygevoeg. “Die moontlikheid van reën dié tyd van die jaar kan egter nie uitgesluit word nie en dit sal ‘n heel nuwe dimensie aan die byeenkoms verleen.”
ORSA het baie moeite gedoen om ‘n roete te kies waartoe die toeskouers maklik toegang kan verkry en die volledige roetegids en padtekens wat die toeskouerpunte sal aanwys, sal vir ‘n aangename, aksiebelaaide uitstappie sorg.
Sun City sal kitskos en verversings by die renhoofkantore by die Sun City Sport en Sosiale Klub, waar die ren sal begin en eindig, asook by sekere toeskouerpunte op die roete, voorsien.
Die Pilanesberg-omgewing is slegs twee ure van Gauteng af en met die hoofren wat eers om 08:00 op Saterdag, 27 September begin, hoef entoesiaste nie so vroeg reg te maak om veldrenaksie uit die boonste rakke te aanskou nie.