Sun International se vlagskip-oord, Sun City, het aangekondig dat dit die sesde ronde van die SA Veldrenkampioenskap wat deur Absa aangebied word, gaan borg.
Die Sun City 400 sal op 26 en 27 September in die Pilanesberg-omgewing plaasvind en beloof ‘n ware skouspel te wees waarna adrenalien-verslaafdes in hul hordes sal stroom.
Die Sun City 400, wat deur Veldrenne Suid-Afrika (ORSA) georganiseer word, sal ook herinneringe vir die veterane in die veldrengeledere terugbring wat sal onthou hoe moeilik dié byeenkoms in 1980 was.
Klaus Degener was aan die hoof van die eerste Sun City-byeenkoms wat van 1986 tot 1995 by die oord gebaseer was en deel van die Sun International Veldrenreeks sowel as die SA Veldrenkampioenskap gevorm het.
Wêreldbekende name soos Malcolm Smith, die ster van die kultusrolprent “On Any Sunday” en wenner van die Star-Dak van Afrika-ren op ‘n motorfiets in 1982 en in ‘n Chenowth saam met Bruce Joelson in 1983 asook die Indy Car en NASCAR-ster, Robby Gordon, het die Sun City 400 al voltooi. Smith en Joelson het die 1992-Sun City 400 in ‘n Chenowth gewen, maar Gordon kon dié byeenkoms nie in 1993 voltooi nie.
“Dit was die glorieryke dae van veldrenne in Suid-Afrika wat, danksy die ondersteuning van die Sun International, die sport tot nuwe hoogtes aangevuur het,” het Degener, ‘n voormalige Springbok in perdespring wat nou sy tyd aan die bevordering van dié sport as loopbane vir sy dogters bestee, gesê. “Die besluit van Sun City om by die SA Veldrenkkampioenskap betrokke te raak, is ‘n reuse-skuif van hulle kant af en as gevolg van die groot vervaardigersdeelname wat ons nie in daardie dae gehad het nie, behoort hulle ‘n waarde vir hul geld te kry.”
Tydens die aankondiging van die borgskap het Brett Hoppe, die Algemene Bestuurder van die Byeenkoms en Aansporingsafdeling van Sun City, gesê dat veldrenne vir jare reeds deel van die Sun City-kultuur was.
“Sun City is verheug om deel van die SA Veldrenkampioenskap wat deur Absa aangebied word, te wees en indien die seisoen tot dusver enige maatstaf is, sal vanjaar se Sun City 400 ‘n byeenkoms wees wat onthou sal word,” het Hoppe gesê. “Adri Roets van ORSA het ‘n taai roete gekies en ons het spesiale voorsiening vir entoesiaste gemaak met ‘n volledige roetegids, toeskouerpunte wat goed gemerk is en kitskos en verversigngs wat by sekere punte beskikbaar sal wees.”
Die Sun City 400 begin met ‘n 40 km-voorren wat op Vrydag, 26 September om 13:00 begin met die hoofren wat uit drie rondes van 130 km bestaan, wat Saterdag om 08:00 begin. Die eerste voertuig word teen 13:00 by die einde terugverwag.